Anderkant Die Wenpaal

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 108 views
Notes
Transcript
Sermon Tone Analysis
A
D
F
J
S
Emotion
A
C
T
Language
O
C
E
A
E
Social
View more →

ANDERKANT DIE WENPAAL

DR STEPHAN JOUBERT

OPENBARING 4, 5 & 12

NB: WANNEER U HIERDIE PREEK LEES, MOET U ASB IN GEDAGTE HOU DAT DIT 'N WOORDELIKSE WEERGAWE IS EN NIE IN 'N LEESSTYL GESKRYF IS NIE

GEBED:

Baie dankie Here dat ons in hierdie oomblikke U kan aanroep, U kan loof en sê daar is niemand soos U nie. Baie dankie grote God dat U alles in U hand hou, ook my lewe. Dat U van alles weet, ook van my, dat ek kan hardloop, maar nooit vir U kan weghardloop nie, dat ek kan probeer vlug, maar nooit kan wegvlug nie. Dat as ek oor my skouer kyk en probeer om van U weg te kom, dat ek eintlik voor in U arms vashardloop. Doen dit nou deur U woord en deur die volgende oomblikke wat ons ook voor U stil is om te hoor. Maak ons ore oop, maak ons lewens oop, praat met ons elkeen op so 'n manier Here dat ons lewens sal verander. Ons bid dit in die Naam van die Blink Môrester, die Leeu uit die stam van Juda. U wat die Eerste en die Laaste en die Lewende is, U wat tot in ewigheid lewe. In U Naam Here Jesus. Amen.

In my dag was dit nie so maklik miskien soos in julle tyd om te glo nie. Miskien moet ek net vir 'n oomblik sê wie is ek. My naam is Johannes. Dit is ek wat jare gelede daar langs die See van Galilea 'n visser was. Toe het Hy een middag daar verbygestap by die see, sy Naam was Jesus. Hy het vir my gesê om alles te los, soos vir Petrus en sy broer Andreas. Ek en my broer Jakobus het alles laat staan en ons het agter Jesus aangestap. Vir 'n jaar of wat het ek die hemele bokant my kop oop gesien. Ek het gesien hoe Rabbi Jesus die Seun van God is. Hoe Hy met dooies praat en hulle opstaan. Ek het gesien hoe Hy met die storms praat en dit bedaar. Hoe Hy die duiwels met een woord aanspreek en hulle vlug. Ek het gesien hoe Hy vir die skares brood gee en hoe Hy lewende brood uitdeel. Hoe Hy vir stukkende mense hoop gee in hierdie verskriklike wêreld waarin ons lewe.

Ek was ook daar in Judea, daar in die Paasfees in die jaar 30 nC toe Hy alleen aan die hout gehang het, die vloekhout, op die donker Vrydag. Maar Goddank, ek was ook deel van die klein groepie mense daardie Sondagoggend toe Hy dwarsdeur die dood gestap het en anderkant uit. Ons was so bly gewees toe Jesus daardie eerste Sondagaand weer 'n keer saam met ons kom eet. Toe ons die spykermerke in sy hande gesien het en geweet het Hy lewe. Ek was ook daar, soos wat Matteus vir jou vertel en weer 'n keer in Lukas, toe Jesus hemel toe gevaar het. Ons het almal daar gestaan op die Olyfberg en gekyk hoe Hy hemel toe gaan.

Ek het saam met Petrus en die ander apostels in Jerusalem gewerk en een na die ander is hulle doodgemaak in die vroeë sestigs, ook 'n latere groot leier wat die Here opgerig het, genaamd Paulus. Hy is ook doodgemaak. Petrus is dood en uiteindelik was ek die enigste van die apostels wat oorgebly het. Ek het in Efese kerk geplant en ek het die evangelie geskryf wat julle ook in julle Bybel het, asook briewe vir die gemeentes.

Maar toe ek al 'n ou man was het ek nog steeds nooit my energie vir Jesus verloor nie. Ja, toe gebeur die verskriklike ding dat ek gevang word. Ek is na Patmos toe verban en ek het gedink dis my laaste stukkie getuienis tot daardie een dag, en daaroor wil ek vandag saam met julle praat. Jy kan jou Bybel oop maak by Openbaring 4 en 5 en 12, ek wil graag vir julle vertel wat die Here vir my geopenbaar het toe ek daar op 'n dag van die Here was. Jy is op Patmos, ver van alles af. Die Here het een dag aan my verskyn, die Jesus wat ek gesien het. Veral in Openbaring 4 het ek wat Johannes is, wat al 'n ou man was op daardie stadium, die kans van my lewe gehad om deur die sleutelgat in die hemel in te kyk. Hy het my genooi om hemel toe te gaan. Jy sal dit lees in Openbaring 4 hoe ek in die hemel aangekom het, hoe die Gees 'n deur voor my oopgemaak het.

Die volgende oomblik, toe staan ek in die troonsaal van God. Kan jy dit dink? Kan jy dink jy word genooi, jy wat 'n klein stof mensie is, dat die lewende God by jou kom en Hy sê: Johannes, Ek wil jou na my troonsaal toe vat? Na die beheersentrum van die heelal. In julle dag het julle baie slim geword. Julle sal weet dat daar min of meer vir elke mens op julle planeet aarde 10 sonnestelsels bestaan in die heelal. Dat sonnestelsels maklik sommer 'n biljoen sterre het. Nou gaan ek na die God se troonsaal toe wat dit alles in sy handpalm hou. Wat 'n ervaring.

Ek het daar in die hemel in gestap in Openbaring 4 en ek het Hom op sy troon gesien sit, omring deur die 24 ouderlinge. Julle sal verstaan dat ek nie taal gehad het om oor God te praat nie. Hoe praat 'n mens oor God in mensetaal? Jy het te min woorde. Daarom het ek maar beelde gebruik om na die hemelse kerk, die Ou Testamentiese kerk en die Nuwe Testamentiese kerk, die 12 stamme van die Ou Testament en die 12 apostels van die Nuwe Testament, om dit bymekaar te sit en te sê: Ek het die hemelse kerk by God gesien en die vier lewende wesens, wat maar vir my die verteenwoordiging van die skepping is, die vier windrigtings. Hulle was almal daar. Ek het die sewe Geeste van God gesien. Met ander woorde die Heilige Gees in sy volmaaktheid was daar by God. Ek het beleef hoe die hemelse skare, die miljoene der miljoene der miljoene, hoe hulle voor God neerval en Hom aanbid. Jy moet dit asseblief gaan lees, want dit is jou teks wat jy nou hoor, Openbaring 4.

Maar ek het een persoon nie in die hemel gesien nie, vir Jesus. Die volgende oomblik terwyl ek so tot my sinne kom en jy sal daarvan lees in hoofstuk 5:1, toe sien ek God het hier in sy regterhand 'n boekrol. Dit was met sewe seëls goed verseël, binne en buite. Niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon hierdie boekrol oopmaak nie. O weë, ouens ek doen toe 'n ding wat 'n mens nie eintlik in die hemel moet doen nie, ek begin te huil. Kyk dis die een plek waar jy nie moet huil nie. Daardie hemel kom in beroering toe ek, hierdie klein outjie, Johannes, in die hemel begin huil. Van daardie ouderlinge het vinnig na my toe gekom en gesê: Johannes, jy moenie huil nie. Johannes, jy is eintlik genooi vir 'n spesiale geleentheid. Hier gaan binne oomblikke 'n leeu in die hemel in kom, 'n leeu uit die stam van Juda.

Toe snap ek. Ek het dit na die tyd gesnap. Ek was daar daardie dag toe Jesus hemel toe is, soos wat Lukas 24 vir jou sal vertel, ook Handelinge 1. Maar ewe skielik het ek agtergekom God het my genooi na die ander kant toe. Ek is 'n eregas om vir jou te vertel daardie dag toe Jesus in die hemel aangekom het. Julle wat in julle dag hoor ek in Suid-Afrika so 'n bietjie moedeloos is. Julle wat so baie vra: Waar is die Here? Julle wat sê: Maar wat lê vir ons voor, wat is die toekoms? Ek het die toekoms gesien. Dis wat die Here vir my sê ek vir julle moet vertel. Hierdie nuwe toekoms, hierdie toekoms wat God maak, wat begin met Jesus se hemelvaart, ek was genooi toe die Leeu, toe hy van die aarde af pas in die hemel in kom. Ja ek het Hom gesien weg gaan. Nou staan ek en kyk hoe kom Hy aan. Ek was verstom. Ek het rondgekyk en hierdie leeu gesoek en die volgende oomblik - jy sal lees hoe dit beskryf word in hoofstuk 5 - toe sien ek 'n geslagte lam. Ek het die spykermerke in sy hand gesien.

Ek onthou daardie eerste Sondagaand toe Jesus uit die dood opgestaan het en ons weggekruip het, soos ek vertel in my evangelie, daar in Johannes 20:19, dat toe Jesus daardie eerste Sondagaand by ons in gestap het, weet jy wat was die eerste ding wat Hy gedoen het? Ons het die kerk se deure gesluit, ons was 'n bietjie bang. Maar nou ja, Jesus het nie 'n sleutel nodig nie, Hy het 'n loper, Hy stap sommer deur die muur. Die eerste ding wat Hy doen, Hy het sy hande opgesteek en toe sien ons die spykermerke. Ek sal nooit vergeet nie, toe ek nou daar in die hemel is en Jesus kom in die hemel in gestap, toe het ek geweet dis Hy, die geslagte lam en Hy het gewen. Alle mag in die hemel en op die aarde, want onthou, jy wat die Bybel ken sal weet dis Matteus se laaste woorde. My kollega Matteus het dit nog opgeteken in sy evangelie se slotwoorde waar Jesus sê, net toe Hy so hemel toe gegaan het: Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding. Maar Hy het ook gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.

Toe Jesus daar in die hemel in stap, ek het nou-nou nog maar gehuil oor daardie boekrol, want ek het geweet dis God se raadsplan, niemand kan dit oopmaak nie. As iemand nie God se raadsplan uit sy hand uit vat en dit oop maak nie, gaan julle wêreld waarin julle lewe 'n hopelose situasie wees. Dan gaan die dood en die doderyk wen, die misdadigers en die skelms gaan vir altyd triomfeer. Hooploosheid gaan by die agterdeur uit wees en daar gaan geen toekoms wees as jy dood is nie.

Maar toe stap Jesus in die hemel in na sy veilige aankoms. Die eerste ding wat Hy doen, Hy het die boekrol uit die Vader se hand gevat. Ouens, ek wens julle kon daardie oggend daar wees, maar daarom het God vir my gesê ek moet vir julle vertel, julle moet saam met my deur die sleutelgat kyk in die nuwe Jerusalem in sodat julle hoop kan hê, sodat julle siel kan lewe, sodat julle kan sing. Want toe Jesus daardie boekrol neem, Hy wat die sewe horings het en die sewe oë soos ek dit beskryf, om te sê Hy het alle mag en Hy het die Heilige Gees in sy volledigheid, toe breek daar 'n hemelse erediens uit. Julle gaan dit een van die dae beleef, julle wat in Jesus glo. Julle is op pad na 'n feesmaal, julle is op pad om dit met julle eie oë te sien. Julle gaan ook een van die dae nie net deur die sleutelgat kyk nie, maar julle gaan in die hemel self in stap. Toe breek daar 'n hemelse erediens uit wat ek nog nooit vantevore beleef het nie. Ek het gehoor hoe die 24 ouderlinge, die hemelse kerk opstaan, hulle krone afhaal, want hulle het klaar gewen - as jy wen dan kry jy 'n hemelse kron - hulle krone afhaal en buig. Ek het gesien hoe die 24 ouderlinge kniel en hoe die lewende wesens kniel voor Jesus. Toe begin hulle sing. Miljoene der miljoene se stemme het saamgeweef en hulle het gesing oor Jesus. Hulle het vir Hom gesê: U is waardig om hierdie boekrol te neem en die seëls oop te maak omdat U geslag is, omdat U ons losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie, U het ons konings en priesters vir ons God gemaak en ons sal oor die aarde heers.

Ek het toe die eerste keer verstaan wat Jesus gedoen het. Ek moes in die hemel ingenooi gewees het om te hoor Jesus het sy volk, sy mense, jou en my 'n koning en 'n priester gemaak. Hoor hier, julle wat nog stry, julle wat nog die geloofstryd veg, julle wat vra waar is God, julle wat partykeer sê ons is in die laaste loopgraaf - julle is nie, julle is konings en priesters. Konings wat regeer, priesters wat voor God lewe.

Nadat daardie hemelse crescendo uitbreek en daardie hemelse erediens losbreek, merk ek nog iets op, dat die hemelse kerk het wierook gehad wat hulle vir God brand. Jy sal sien ek verduidelik dit vir jou daar in Openbaring 5, dis die gebede van die gelowiges. Jou en my gebede word nou nog gebrand in die hemel. God ruik jou gebede. Ek wil vandag vir jou bemoedig om te sê jy moet bid. Jy wat stry, jy wat nog op pad is, jy wat sê: Here, ek sal in U glo - bly dit doen. Bid, God ruik jou gebede. Jou gebede is so kragtig dat dit soos wierook voor die troon van God opstyg. Moet nooit moed opgee nie, moet nooit die handdoek ingooi nie.

Jesus het sy plek ingeneem in die hemel, Hy het God se boekrol gevat. Hy bestuur die wêreld en Hy bestuur hierdie wêreld af op 'n doel, op 'n feesmaal waar jou naam op die gastelys is. Ek moet jou vandag in die Naam van Jesus daaraan herinner, want dis wat Hy vir my gesê het hoekom ek Openbaring moet skryf, om vir die kerk deur die sleutelgat die hemel te laat sien en moed te kan hê dat anderkant die wenpaal 'n splinternuwe lewe is sodat jy sal hardloop en nie moeg word nie. Sodat jy jou kop sal optel en die hemel sal sien. Sodat jy sal stry en veg en nooit die handdoek ingooi nie.

Maar daar het nog iets gebeur daardie dag en jy kan dit lees in Openbaring 12. Op daardie dag het 'n ongenooide gas in die hemel opgedaag, 'n draak. Julle ken hom, dis hy wat julle naam en adres het en julle soveel nonsens gee. Die bose een, ons vyand. Hy het daardie dag ongenooid, toe Jesus in die hemel in stap en die boekrol neem, toe die hemelse erediens uitbreek en almal neerval, Hom aanbid en God loof, en een golf na die ander van lof deur die hemel eggo, toe daag die Satan ook daar op. Jy wat die Bybel goed ken sal weet die Duiwel, hy het nog altyd in die Ou Testament toegang tot die hemel gehad. Hy kom toe daar as ongenooide gas, sy naam is nie meer op die uitnodigingslys van mense wat in die hemel mag wees nie. Toe Jesus weggeruk is hemel toe, jy sal dit lees in daardie eerste paar verse van hoofstuk 12, want Satan was hier op aarde teen Jesus in 'n geveg, toe is Jesus weggeruk hemel toe met sy hemelvaart en die draak hardloop agterna. Migael, die hoofengel van die Here se leër in die hemel, die engel van alle engele, die een met die magtige leërskare wat hy namens die Here, die engelemagte wat hy moet beheer, het God in daardie oomblik toe die Satan aan kom, net sy kop geknik.

Jy sal lees in Openbaring 12, toe het daar oorlog gekom in die hemel. Miskien is 'n oorlog in julle taal 'n bietjie sterk. Julle dink aan 'n oorlog as 'n uitgerekte Tweede Wêreldoorlog. Dit was nie regtig so nie. Jy sien Jesus het klaar geveg en gewen. Dit was meer soos 'n klein opstootjie en dit was asof die hekwagte, Migael en sy engele, die Satan gevat het. Migael was al lankal lus vir die duiwel. Dié van julle wat die Bybel goed ken sal die Judasbrief ken. Daar toe Moses dood is het hy en die Duiwel paaie gekruis. Maar die Duiwel en die engele is nie soos wat julle in julle dag op die televisie sien die Hollywood weergawes nie. Die engele is nie hier om te sorg dat jy een of ander basketbal wedstryd wen, of een of ander hondjie lewendig maak, of jou Disneyworld toe vat nie. Engele werk vir God.

Daardie dag toe Moses dood is moes Migael hom gaan begrawe en toe daag die Duiwel ook daar op volgens die Judasbrief, daardie kort boek wat julle ken net voor Openbaring. Toe sê die Satan vir Migael: Jy kan nie vir Moses begrawe nie, hy is 'n moordenaar. Weet jy wat het Migael gedoen? Hy het gesê: Ek beroep my op die Here om jou te straf - want engele tree in God se Naam op. So jy kan net dink hoe het Migael gewag vir daardie oomblik dat die Here vir hom sê: Jy kan hom maar vat. Hy het hom nie fliek toe gevat nie, hy het hom uit die hemel uit gevat. Hy het nie met hom onderhandel nie, hy het nie met sy vakbond gepraat nie, daar was nie vredesvoorwaardes nie. Hulle het hom gegooi, in die aarde in gegooi, uit die hemel uit. Dis die goeie nuus wat die Here vir my wys: Die hemel is nou 'n Satanvrye sone, hy kan nooit weer daar in gaan nie.

Daar het nog 'n lied uitgebreek. Jy moet dit gaan lees in Openbaring 12. Die hemelse kerk begin toe sing en hulle sing: Here, dankie dat ons die oorwinning behaal het oor die bose deur die bloed van die Lam, dat gelowiges wat vashou aan Jesus vry is van hom wat hulle dag en nag voor God aangekla het. Die Duiwel kan jou nie meer aankla nie, hy is toegang tot die hemel verbied nadat Jesus daar in gegaan het. Jy is vry. Jy het direkte toegang tot die hemel. Die Satan kan nie meer daar langs jou staan en jou aankla nie. Jesus het gewen, weet jy? Hy het klaar gewen, weet jy? Die hemel is jou nuwe plek, die plek waar daar gesing en gedans word, vreugde is en feesgevier word, daar waar nuwe wyn ingegooi word. Jy is soontoe op pad na die feesmaal wat nooit ophou nie. Dit is as jy in Jesus glo, dan staan jou naam op sy uitnodigingskaartjie. Dis nie meer so lank nie, dan kom Hy ons haal. Dis nie meer so lank nie, dan breek hierdie nuwe toekoms aan wat Hy gesê het ek julle van moet vertel.

Maar ek het ook 'n bietjie slegte nuus en jy sal dit lees in die tweede deel van hoofstuk 12. Dat die Satan uit die hemel uitgegooi is, hy het op die aarde geval en hy het gesien dat sy tyd min is, want hy het gesien Jesus kom terug. Hy het begin om die kerk te agtervolg in Openbaring 12, die vrou. Maar God is by sy aardse kerk, al het die Duiwel jou naam en adres. Daarom sal jy sien vertel ek dit vir jou in beeldspraak dat Hy aan die vrou arendsvlerke gegee het, die krag om woestyn toe te vlieg. Woestyn is hier 'n simbool van 'n plek waar die Here jou wil bewaar. Die Here sit jou in die woestyn om jou te beskerm, sodat jy afhanklik van Hom kan wees. Julle is vir 42 maande, totdat die Here Jesus terugkom - beeldspraak - in die woestyn. Luister mooi, dit gaan nie maklik wees nie.

Die vraag vir my, Johannes, op 'n dag toe Jesus nog op die aarde was, Markus vertel dit in Markus 10, was ek nog so arrogant gewees as 'n jongman om vir Jesus te sê: Here, gee vir my die beste plek in die hemel. Onthou jy? Moenie soos ek wees nie. Toe het Jesus vir my gevra: Johannes, kan jy die beker drink wat Ek drink? Kan jy met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word? Ek het nog ewe arrogant gesê: Ja Here ek kan. Ek het nou in my lewe agtergekom wat dit beteken. Om Jesus te volg is 'n lydenspad. Ek het 'n beker waarop my naam geskryf staan. Dis 'n pad van swaarkry partykeer. Maar weet jy wat né? Ek loop oor van vreugde want ek het die hemel gesien. Ek onthou nog hoe Paulus jare gelede vir die Korintiërs geskryf het: My oog is nie op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare, ek kan die hemel oop sien. Paulus het dit gesien, ek het dit gesien en julle kan dit ook vandag sien in Moreletapark in 2008. Julle kan die hemele oop sien en lewe.

Jy kan voor die swaarste swaarkry staan en sê: Die Here kom, Hy leef. Hulle het van my vriende, soos Paulus, soos honde doodgemaak in Rome. Hulle het my mede-leier, Petrus, onderstebo gekruisig. Hulle het vir Stefanus met klippe doodgegooi, ek het dit gesien. Hulle het almal die hemele oop gesien en gesing: Niks kan jou skei van die liefde van God nie, niks nie. Al het die Satan jou naam en adres, Jesus het dit ook. Daarom is daar moed. Daarom is die bose se pogings so ironies soos kan kom. Ek beskryf dit vir jou daar aan die einde van Openbaring 12 in so 'n bietjie humor, want toe die Satan, die draak, sien dat hy op die aarde gegooi is, toe hardloop hy agter die vrou aan, dis nou jy en ek die kerk, ons is Jesus se bruid. Ons skuil daar in die woestyn, bedoelende daar waar ons van God alleen afhanklik is, daar waar ons elke dag na Hom moet opkyk om vir ons te sorg.

Die Duiwel doen toe 'n baie dom ding. Kyk, julle sal verstaan, 'n baie dom ding wat 'n ou wil doen in die woestyn, as jy iemand in die woestyn wil dood maak, dan spoeg jy nie water op hulle nie, dis nie 'n slim ding in die woestyn nie. Jy gooi hulle met sand dood of so iets. Ek meen jy gooi hulle nie met water nie. Maar jy sal sien die duiwel het toe 'n stroom water in die woestyn agter ons aan gespoeg. Die aarde het net oopgemaak en toe is die water weg.

Ek wil vir jou sê Satan gaan nie Jesus se kerk steel nie. Jesus het dit mos self gesê. Onthou julle nog daar in Matteus 16 het Hy op 'n dag vir ons gesê, ons dissipels was nog daar by Sesarea-Filippi rondom Hom, ek sal dit nooit vergeet, daar op heidense grondgebied waar die god Pan aanbid word. Toe vra Jesus vir Petrus: Petrus, wie sê julle is Ek? Toe sê Petrus: U is die Christus. Die Here Jesus sê toe: Op hierdie woorde, op hierdie belydenis Petrus, gaan Ek my kerk bou en nie eers die poorte van die doderyk en die hel sal dit stil maak nie. Glo dit.

As jy kleingelowig is, as jou hoop laag brand, as jy sê: Ek weet nie wat om met my lewe te doen nie - as jy sê: Ek het nie 'n toekoms nie - kyk deur die hemelse sleutelgat, gaan lees Openbaring 4 en 5 en 12. Natuurlik het jy 'n toekoms, Jesus het gewen. Hy het alle mag in die hemel en op aarde. Hy het jou klaar gekroon tot 'n koning en 'n priester as jy Hom ken as die Here. Hy het klaar jou naam geskryf in die boek van die lewe van die Lam, soos wat ek vir jou in Openbaring 11 sê. Hy het klaar sy Naam, soos ek vir jou sê in Openbaring 14, op jou voorkop geskryf. Jy is dubbel gemerk: Jou naam is die boek van die lewe en God se Naam is op jou voorkop. Het jy gehoor jy is dubbel gemerk: Jou naam is in die boek van die lewe wat by Jesus is en sy Naam is op jou voorkop geskryf en sy Vader se Naam ook, soos Openbaring 14:1 en 2 vir jou leer.

Om alles te kroon onthou ek Jesus se woorde daar in Johannes 10:28. Hy het vir ons op 'n dag vertel, weet jy toe ons so saam met Hom geloop het, toe sê Hy vir ons: Ek is die Goeie Herder, Ek het my lewe vir julle afgelê. Julle is die kosbaarste wat Ek het, Ek het my lewe vir julle afgelê. Ek is nie soos 'n ander herder wat as hy die gevaar sien, dan los Ek my skape en hardloop weg nie. Ek sal my skape tot in die dood verdedig. Nog iets het Jesus gesê in Johannes 10:28: Ek gee vir my skape die ewige lewe. Niemand sal hulle uit my hand uit ruk nie. My Vader, het Jesus gesê in vers 29, is groter as almal, niemand kan hulle uit sy hand ruk nie. Het jy die beeld gekry? Jy is in die hande van Jesus en die Vader het sy hand bo-oor gesit. Jy is in die magtigste hande in die heelal. Jy is in die greep van genade my vriend, jy is in die hande van Jesus en in die hande van die Vader. Die deurboorde hande dra jou, die hande wat weet wat dit kos om jou te koop, dra jou. Hoekom dan moedeloos? Hoekom dan nog op moedverloor se vlakte uitkamp? Hoekom dan handdoek in gooi saam met die res? Jy het 'n toekoms, jy is op pad na die koning toe. Ek het sy kroning nou die dag gesien, jy kan dit saam met my vier.

Vandag is die dag. Daarom nooi die Here jou om jou gebed in die wierook bak te sit van Openbaring 5. Nooi Hy jou om jou plek as koning en priester in te neem. Nooi Hy jou om te staan in sy handpalm, totdat die feesdag aanbreek, totdat Hy jou kom haal. Nooi Hy jou om deur die sleutelgat in die hemel in te kyk en saam fees te vier, om te sing: U is waardig Here om al die lof en die eer en die heerlikheid te ontvang. U is waardig om geloof te word, al loop my bloed in die strate. U is waardig om geprys te word, al beroof hulle my van al my besittings. U is waardig om geëer te word, al verloor ek alles, want U het alle mag in hemel en op aarde. Ek is op pad na die fees van 'n leeftyd waarvan niks of niemand my kan roof nie.

My storie is uit. My lewensdae is min. Jy het die boeke, jy het Openbaring en Johannes en die Johannes briewe en al die ander boeke. Jy moet dit gaan lees en eet en glo, ja want terloops, sê nou maar net, sê nou maar net jy glo dit nie. Sê nou maar net vandag het jy toevallig paaie gekruis met die lewende God. Dan wil Hy vir jou sê: Ek het vir jou lewende brood. Sê nou maar net jou geloof het lankal min geword. Sê nou maar net jy het lankal handdoek ingegooi. Dan is dit Jesus wat langs jou sitplek kom plek inneem om vir jou te sê: My kind, Ek is die Goeie Herder. Die wolwe en die leeus kan kom, Ek is die Leeu uit die stam van Juda, Ek is die geslagte Lam. Ek het jou naam en adres. Ek jou naam in my boek en my Naam wil Ek op jou voorkop skryf. Ek wil vir jou genade gee. Amen.

Daar is nou geleentheid vir stil gebed om met die Here te praat en 'n stukkie fees te vier. Raak vir 'n oomblik stil voor die Here. Miskien is hier iemand, terwyl jy so sit, wat 'n baie direkte behoefte het dat die Here jou sal aanraak, miskien vir 'n eerste of vir 'n hoeveelste keer. Terwyl jy so sit in die donker, wil jy nie net vir 'n oomblik jou hand opsteek, ek wil graag saam met jou bid.

GEBED:

Here, U sien hoe ek net deur hierdie teken van my oop hand wat ek in die lug hou voor U, voor niemand anders nie, voor U, dat ek amper uitroep na U, dat ek my hand uitsteek na U om te vra: Vat my hand, lei my na die beloofde land. Neem my lewe Here. As ek na myself kyk, na my voetspore, trap ek soveel verdwaalpaaie. Ag Here, ek stel U so baie teleur. Miskien het ek van 'n ver donker land hier in die kerk aangekom. Miskien is ek 'n pelgrim wat moeg is van die lewenspad wat te steil geword het. Miskien het ek die handdoek ingegooi. Dankie Here dat U deur U woord van Openbaring met my gepraat het, vir my gewys het hoe kosbaar ek is. Ek glo dit eintlik nie meer Here, ek lyk maar net soos 'n nommer en 'n naam in hierdie wêreld. My lewe lyk so nutteloos soos 'n asem wat maar ingeasem word en dan weer uitgeasem word en dan is ek weg. Ek leef in 'n land waar bloed op strate loop en mense se lewens nie aldag baie waarde het nie. Dan kom sê U vir my, U die Here, U wat die hemel en die aarde ken, vashou en gemaak het en bestuur, U kom sê vir my in U boek van die lewe is U bereid om met U bloed my naam te skryf. Here, dis te groot vir my, maar ek gryp dit aan. Skrywe U Naam op my voorkop. Neem my lewe, vat dit vir U, hier is ek Here.

As ek dit vir die hoeveelste keer al gebid het en uitskree na U, hoor my. Maak 'n nuwe visie van die hemel oop voor my om te sien en te glo. Dankie dat U weer kom. Dankie dat daar lewe is anderkant die wenpaal, oorvloedige lewe. Dankie dat ek op pad is, dat ek 'n man, 'n vrou, 'n jongmens is met 'n bestemming, dat ek op pad is na die fees van alle feeste.

Ek loof U, ek breek uit in 'n dans, ek sing, want U is groot en goed, aan U kom toe al die lof en die heerlikheid. U moet geloof en geprys word van waar die son op kom tot waar dit onder gaan. U is waardig Here om die boekrol te neem en die seëls te breek, omdat U bloed my losgekoop het en baie ander mense losgekoop het uit elke stam, taal, volk en nasie. Dankie dat U ons konings en priesters gemaak het, dat ons vir altyd sal regeer. Dankie dat U die Satan uit die hemel uit gegooi het. Al vervolg hy ons, dankie dat ons in U hand is. Dankie dat niks ons uit U hand uit ruk nie. Aan U al die eer, nou en vir altyd. Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more