048 — Jakobus 4:13–17 | HOU REKENSKAP MET GOD IN JOU LEWENSWANDEL

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  6:34
0 ratings
· 34 views

Christene moet nie vir die toekoms beplan asof hulle volkome beheer oor hul eie lewens het nie, maar moet deurgaans 'n gesonde begrip hê vir God se soewereiniteit. Die bewustheid van hierdie beginsel maak die versuim om dit te implementeer ‘n sondelas.

Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, dankie dat ons vandag kan saam verkeer vanuit U Woord. Open asseblief ons harte om ontvanklik te wees daarvoor — Amen.

SKRIFLESING

James 4:13–17 AFRIKAAN
13 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15 Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” 16 Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. 17 As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde

WOORDVERKONDIGING

Wat sê Jakobus?

Ons moet al ons gedagtes en woorde van voornemens en beplanning op ‘n nederige plek bêre waar die soewereiniteit van God daaroor wag hou!

GEDAGTES EN WOORDE VAN GELOWIGES (INTERN)

Jakobus praat oor die woorde van ons gedagtes in v. 13:
James 4:13 AFRIKAAN
13 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”
Daar is drie uitstaande kenmerke van hierdie woorde en gedagtes:
“Vandag en môre” en “‘n jaar lank daar bly” praat oor ons begrip van tyd.
Ons sal “na dié en dié stad toe gaan en” … “daar bly” praat oor beweging, oor die gang van die lewe.
“ons sal sake doen en geld maak” praat oor die profyt of sukses van die lewe.
Daar is ‘n idee by die mens dat hy beheer het oor tyd, die gang van sy lewe en die sukses daarvan. Jakobus sê in v. 14 dat ons dit as verwronge idees moet ontmasker … dat ons die kortstondigheid van ons bestaan in ag moet neem:
James 4:14 AFRIKAAN
14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
Ons verwronge idees oor die lewe en God maak dat ons arrogant word. Ons dink ons kan tyd, lewe en sukses beheer. Die waarheid is egter dat ons nie beheer daaroor het nie. Volkome beheer is alleen in die hand van God.
Hoe ons dink oor die lewe en God en hoe ons daaroor praat … maak saak vir God.

GEDAGTES EN WOORDE VAN GOD (EKSTERN)

Dit maak saak, vir Jakobus en God, dat ons denke en woorde ingelig is … dat ons denke en woorde deur die korrekte lewensuitkyk gevorm word.
Jakobus gee vir ons die korrekte lewensuitkyk in vv. 14b—15.
Ons moet onsself in verhouding met tyd, lewe en sukses, reg verstaan: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn” (Jam 4:14b)
Ons moet God in terme van tyd, lewe en sukses, reg verstaan: “Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” (Jam 4:15)
God het ons geskep, nie net om dinge te doen nie, maar om sekere gesindhede en oortuigings te hê. Om ons self verbaal uit te druk op ‘n wyse wat van waarheid getuig.
Kom ons kyk na die waarheid waaraan ons uitdrukking moet gee in ons woorde, in ons voornemens en beplanning. Die waarheid gaan oor God en Jakobus vermeld twee goed in v. 15:
“Julle moet eerder sê: “1) As die Here wil, sal ons lewe en 2) sal ons dit of dat doen.” (Jam 4:15)

1) “As die Here wil, sal ons lewe"

— Vir gelowiges is dit absoluut noodsaaklik om die soewereiniteit van God in ag te neem. Sy wil bepaal die tyd van lewe. Dit bepaal die gebeure daarvan. Dit bepaal die sukses. God alleen is in beheer van lewe en dood.

2) Jakobus sê: "sal ons dit of dat doen."

— Die aktiwiteite, die sukses en voorsienigheid van die lewe is in die hand van God. God is in beheer, nie die arrogante selfvoldane voornemens en beplanning van die kortstondige mens nie.

Maak Tekortkomings met Wysheid reg

Ons het duidelik gehoor wat fout is:
— Die gelowiges se gedagtes en woorde druk nie die waarheid oor lewe en God uit nie. Die gevolg is arrogansie en trots wat geen ruimte laat vir nederige onderwerping aan God nie. Onthou die woorde van Jakobus in Jam 4:6 oor hierdie onderwerp — “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”
— Ons het ook duidelik gehoor wat die korrekte denke is en hoe om dit in woorde uit te druk: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen””(Jam 4:15)
— Ons weet nou, dit is arrogant om nie met jou hart te glo en met die mond te bely dat God absoluut my en jou lewe en suksesse beheer nie.

Samevatting

Die groot vraag is: “Wat gaan ek en jy hiermee doen?” Jakobus sluit af met v. 17
James 4:17 AFRIKAAN
17 As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde
Ware kennis van God bring groot verantwoordelikheid. ‘n Verantwoordelikheid wat die volheid van my en jou lewe beïnvloed.
Ons moet al ons gedagtes en woorde van voornemens en beplanning op ‘n nederige plek bêre waar die soewereiniteit van God daaroor wag hou!

GELOOFSBELYDENIS

GEBED

Here, help ons om waarheid te lééf en waarheid te spreek — Amen.

Liturgie

353 Die Heiland is gebore
Geloofsbelydenis
177 Jesus, gróót bo almal
Woordverkondiging
175 Majesteit
Seën
Amen
Related Media
See more
Related Sermons
See more