043 — Jakobus 4:1–12 | SELFSUG BELEMMER ONS VREDE MET ONS MEDEMENS EN GOD

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  9:16
0 ratings
· 25 views

Tema: Selfsug beïnvloed ons geintegreerde verhouding met Mense en God.

Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, dankie vir die voorreg om vandag uit U Woord te kan lees en die voorreg om dit saam te kan oordink. Gee ons asseblief insig en rustigheid deur U Woord — Amen.

SKRIFLESING

Jakobus (Jam 4:1-12)

WOORDVERKONDIGING

Ek wil Jakobus se gesprek inlei met ‘n beeld wat Jesus gebruik het. Hy was langs die see en wou Simon en sy broer Andreas roep om Hom te volg. Dan sê Hy: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Mk 1:17)
— Ek wil vandag van jou ‘n visser van mense maak wat sy treknet verstaan.
Hier in my hand het ek ‘n net. Die net is redelik goed gekoek en soos hy nou is heeltemal onbruikbaar as treknet.
Voor ons hierdie net produktief kan gebruik moet ons hom eers ontrafel. Kom ons kyk saam na die boodskap van Jakobus oor hoe om hierdie net te ontrafel.

A. OORSPRONG

a. Wat is die oorsprong van Selfsug? (Jam 4:1)
James 4:1 AFRIKAAN
1 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
Jakobus staan so tree terug. Hy kies om oor ons persoonlike aandeel in die gekoekte net te kyk. Dit is niks anders as selfsug wat dit veroorsaak nie. Dit veroorsaak ‘n aanhoudende stryd wat nooit uitgewoed word nie.
Sy gesprek is baie persoonlik. Dit gaan oor ‘n naakte en persoonlike ontmoeting met God.
En niks minder word van ons verwag nie!
Kom ons kyk saam wat Jakobus sê die nare invloed van selfsug is.

B. INVLOED

b. Wat is die invloed van Selfsug op ons verhoudings met Mense en God? (Jam 4:2-6)
Jakobus verduidelik dat ons menseverhoudinge en ons verhouding met God inmekaar geweef is.
Dit is soos ‘n visnet wat met twee toutjie`s geweef is. Die een toutjie is die mens, die ander toutjie is God, en daar is baie punte waar dit mekaar kruis, waar dit aanmekaar geknoop is.
Selfsug ignoreer hierdie knope en daar is geen manier dat ons die net sal kan ontrafel nie. Die enigste ander manier om dit te ontrafel sou wees om toutjie`s te begin knip.
Selfsug vernietig verhoudings. Dit knip:
ons verhouding met mense (Jam 4:2-3) en
ons verhouding met God (Jam 4:4-6)
Wees stadig om verhoudings te begin knip. Ontrafel eerder die net van verhoudings deur te let op waar ons verhouding met God en mens oorvleuel, waar dit geknoop is.

Knoop 1 — Selfsug bring minagting van die wet van God (Jam 4:2, 11)

James 4:2 AFRIKAAN
2 Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
James 4:11 AFRIKAAN
11 Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor.

Knoop 2 — Selfsug belemmer gebed (Jam 4:3)

James 4:3 AFRIKAAN
3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

Knoop 3 — Selfsug bring vyandskap met God (Jam 4:4)

James 4:4 AFRIKAAN
4 Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ’n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ’n vyand van God is.

Knoop 4 — Selfsug bring oordeel (Jam 4:12)

James 4:12 AFRIKAAN
12 Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste

Delikate Knope

Kan jy sien hoe delikaat ons verhoudings inmekaar geweef is. Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons menseverhoudinge verwyder is van ons verhouding met God nie.
Ons lewe is soos ‘n geweefde visnet. Dit kan een groot gekoekte gemors wees óf dit kan netjies, uitgesorteer en produktief wees vir die koninkryk van God.
Watter voorstelle is daar om die net te red?

C. Voorstelle

c. Watter Voorstelle gee Jakobus om verhoudings reg te maak? (Jam 4:7-11a)
Jakobus gee agt (8) voorstelle (Jam 4:7-11a). Die voorstelle is vanselfsprekend en moet eenvoudig net uitgevoer word. Let op dat sewe van die voorstelle fokus op God en net een op die mens:
“1) Onderwerp julle dan aan God. 2) Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 3) Nader tot God en Hy sal tot julle nader. 4) Was julle hande, sondaars, en 4) reinig julle harte, huigelaars. 5) Bekla julle ellende, treur en huil! 6) Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 7) Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. 8) Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers.”

D. Verband (Knope)

d. Wat is die verband tussen menseverhoudinge en ons verhouding met God? (Jam 4:11b-12)
Jakobus bry uit op sy punt oor die mens. Daarmee lê hy weer klem op hoe ons verhouding met mense vasgeknoop is aan ons verhouding met God (Jam 4:11-12).
Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons menseverhoudinge verwyder is van ons verhouding met God nie.
Ons lewe is soos ‘n geweefde visnet. Dit kan een groot gekoekte gemors wees óf dit kan netjies, uitgesorteer en produktief wees vir die koninkryk van God.
Ek kies om produktief te wees in die hand van God — Wat kies jy?

GEBED

Here, help ons asseblief om U te eer in alles wat ons doen. Mag ons heel wees in al ons verhoudings. Mag ons bruikbare dissipels wees in U koninkryk — Amen.

Notas

I. Terugblik

Jakobus het in die vorige teksgedeelte die spanning tussen selfsug en naywer met wysheid verduidelik (Jam 3:13-18). Hy argumenteer dat gelowiges vrugte moet dra wat by die wysheid van God pas (Jam 3:17). Sy argument word afgerond in v. 18 met ‘n duidelike doelwit:
James 3:18 AFRIKAAN
18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak

II. Uitbreiding op vorige Tema

Dit gaan steeds oor die regte verhouding met God en met ons medemens (Jam 4:2-6). Hy gebruik sy tyd en doen moeite daarmee wat iets van die erns spreek. Dit help ons ook om deeglik oor die saak te begin nadink. Hy praat hoofsaaklik oor vier goed in sy argument.
Hy verduidelik:
Wat die oorsprong van Selfsug is (Jam 4:1).
Wat die invloed daarvan is op ons verhoudings met Mense en God (Jam 4:2-6).
Hy gee Voorstelle om hierdie verhoudings reg te maak (Jam 4:7-11a).
Hy lê klem op die verband tussen menseverhoudinge en ons verhouding met God uit (Jam 4:11b-12).

III. Liturgie

215 — Besing die lof van Jesus saam
Geloofsbelydenis
214 — Here, ons sal U loof
Woordverkondiging
308 — Neem my lewe, laat dit, Heer
Seën
Amen

Bibliografie

Harris, W. Hall, III, Elliot Ritzema, Rick Brannan, Douglas Mangum, John Dunham, Jeffrey A. Reimer, and Micah Wierenga, eds. The Lexham English Bible. Bellingham, WA: Lexham Press, 2012.
Die Bybel: Nuwe Vertaling. Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998.
Related Media
See more
Related Sermons
See more