037 — Jakobus 3:13–18 | WYSHEID KULTIVEER VERHOUDINGS

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  11:27
0 ratings
· 31 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, U Woord is wysheid, U is die lewe. Voed my, voed elkeen van ons vandag, deur U Woord — Amen.

SKRIFLESING

James 3:13–18 AFRIKAAN
13 Is daar ’n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14 Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15 Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16 want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak

WOORDVERKONDIGING

KONTEKS

Jakobus het reeds ‘n paar hoogtepunte van Wysheid uitgelig in sy brief:
Wysheid Staan vas (Jam 1),
Wysheid Dien Medelydend (Jam 2) en
Wysheid Praat Onderskeidend (Jam 3:1-12)

WYSHEID KULTIVEER VERHOUDINGS

Wat sê Jakobus vandag?
James 3:18 AFRIKAAN
18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak
Jakobus sê: Wysheid Kultiveer Verhoudings (vgl. Jam 3:13-18)

BLOEDSUIERS EN GASHERE (LEECHERS AND HOSTS)

Jakobus sê daar is lidmate wat dwaas is en die wat wys is. Die dwase lidmaat beskryf hy kragtig as gevul met demoniese wysheid. Die wyse lidmaat word beskryf as een met vrug wat in diens van God staan.
Ek praat sommer van onideale en ideale lidmate. Kom ons stap sonder tierlantyntjies reguit na die diepte van die teks met ‘n vergelyking:
Die rivier wat in die Katse dam in Lesotho inloop is pragtig. Dit is helder skoon water met die mooiste groen wal. Ons het so ongeveer 20 jaar gelede daarin geswem. Toe ons uitklim was my bene en my vrou Nolene vol bloedsuiers. Ons indruk van die pragtige rivier het verander in ‘n walglike prentjie van skynheilige skoonheid.
Daar is in gemeentes net soos in ‘n rivier twee soorte lidmate. Bloedsuiers en Gashere.
Gashere het ‘n direkte persoonlike verhouding met die Here. Die lewe wat deur hulle are vloei getuig van nederigheid en wysheid (Jam 3:13).
Bloedsuiers aan die ander teer op die lewe van Gashere. Hulle beweer om ‘n wyse bydrae te lewer (Jam 3:14) maar in wese doen hulle niks anders as om bestaande lewe te dryneer nie (Jam 3:14-16).
Wat is ek, wat is jy, ‘n Bloedsuier of ‘n Gasheer?

SKRIFUITLEG

ONIDEALE LIDMAAT — BLOEDSUIERS

I. Jakobus verduidelik eerstens wat Verhoudinge afbreek. Daar is fout in hierdie vroeë gemeente sê hy. Hulle blyk gebuk te gaan onder naywer en selfsug. Dit ly tot verdere wanorde en sommer net alles wat sleg is. Ons moet die volgende verstaan onder naywer en selfsug:
Naywer is afguns en jaloesie onder lidmate
Selfsug is om persoonlik baat te vind uit die gemeente
Ek wil dit sommer net opsom deur te sê: Daar is lidmate wat altyd daarop uit is om te kyk wat hulle uit ‘n gemeente kan tap.
Dit is nodeloos om te sê dat hierdie soort lidmaat die gemeente leeg tap. Jakobus se fokus is daarop dat hierdie soort lidmaat verhoudinge leeg tap met bybedoelings, onmin, hardkoppigheid, onbedagsaamheid, vrot vrugte, partydigheid en valsheid. Dit is die gelowige met dwaasheid. Hulle dryneer ander mense geestelik en als draai net om hulle eie gevoel, emosies en belange.
So bietjie meer prakties. Dit is die mense wat onbetrokke is maar wil hê als moet net reg loop. Hulle het die geloof maar nie die dade nie.

IDEALE LIDMAAT — GASHERE

II. Jakobus verduidelik tweedens wat Verhoudinge opbou. Die ideale lidmaat het wysheid van bo, wat sonder bybedoelings is, vrede bevorder, inskiklik is, bedagsaam, vol medelye, goeie vrugte, onpartydig en opreg (Jas 3:17). Hierdie eienskappe is opbouend en bevorder die eenheid van liggaam van Christus op aarde.
Ek wil dit sommer net opsom deur te sê: Daar is lidmate wat altyd daarop ingestel is om te dien in alle opsigte. Hulle is die voorstaanders wat die groei en gesondheid van die liggaam van Christus bevorder.
Hierdie is die soort lidmaat wat bydra, wat deelneem, wat ondersteun, wat uitreik, wat verhoudinge bevorder in woord en daad. Hulle is die gelowige met Godgegewe wysheid.

ONDERSKEID

Jakobus se onderskeid is duidelik:
— Dwaasheid Veroorsaak Verhoudingsbreuk
— Wysheid Kultiveer Verhoudings (Jam 3:13-18)

I: WYSHEID KULTIVEER DIE TONG | GEDAGTES KULTIVEER SPRAAK

Ek wil saam met jou dieper in die waarheid van hierdie teks instap. Dit gaan tog immers nie net oor wat ons hoor nie maar oor die krag van God se wysheid.
Ons het ‘n paar pappegaaie by die huis. Interessant is die vlak van intellegensie wat daardie voëls het. My pappegaai sê altyd vir my “hello” as ek in haar teenwoordigheid inkom. Dan sê ek “Hello” en dan kom haar intelligensie na vore, sy antwoord terug en vra: “Hoe gaan dit met jou?”
Ek ken ‘n paar ander pappegaaie. As jy naby hulle kom begin hulle vreemde woorde gebruik wat jy hulle skynbaar nie geleer het nie. Party skel en vloek tot skande van die eienaar. Dan sê die eienaar nogal so ewe: “Waar leer jy dit? Ek praat mos nie so nie!” Dan dink ek by myself: “Ja sure, hoekom was dit dan in jou stem gesê?”
Jy sien, Intellegensie is nie genoeg om die tong te tem nie. Wat die tong tem is wysheid.
My pappegaai sê “hello” en “hoe gaan dit met jou” omdat dit die enigste twee sinne is wat ek haar tot dusver geleer het. Ek leer haar net kort bondige sinne wat in enige gesprek ‘n illusie van humor en intellegensie kan skep. Wat haar tong beheer is wysheid! Nie haar eie wysheid nie maar die wat ek aan haar oordra in my lering.
Ronald Blue (1985, 828) sê: “A key to right talk is right thought. The tongue is contained in a cage of teeth and lips, but it still escapes. It is not intelligence that keeps the lock on that cage; it is wisdom—a wisdom that is characterized by humility, grace, and peace.”
Die wysheid wat gelowiges nodig het is Morele insig in praktiese aangeleenthede. Die kapasiteit om intelligensie op morele wyse aan te wend. Dit is iets wat ‘n bloedsuier, ‘n pappegaai, ‘n dooie lidmaat nie ken nie.
Ons moet die wysheid duidelik hoor. Want dit is beslis soos Jakobus sê:
James 3:18 AFRIKAAN
18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak

A: WYSHEID KULTIVEER VERHOUDINGS | OORWEGINGE MOET VERHOUDINGSGERIG WEES

Hoe lyk Wysheid wat Verhoudinge Kultiveer? So paar weke gelede het daar iets by die Pastorie gebeur waarvan ek oortuig is dat dit deur God gegee is om vandag te deel as praktiese voorbeeld.
Voor in ons erf teen die hoofhek staan ‘n pragtige Appelkoos boom. Hy het hierdie jaar geweldig baie gedra. Die vrugte was mooi groot en sommer ‘n lus vir die oog. Ek het juis reeds appelkooskonfyt gekook. Die laaste vrugte bo aan die boom het ons gelos vir ‘n soeter en ryper konfyt. Die gevolg is dat van die vrugte deur voëls en wind na die grond getuimel het.
So paar weke gelede het my kinders my perongeluk in die huis toegesluit en my sleutels saamgevat. In so geval is daar net een deur waarby ek kan uitkom in die agterkant van ons erf. Dit is nogal tydrowend.
Ek was in die kombuis om vir my ‘n koffietjie te maak voor ek aangaan met my dagtaak. Dit is toe die dat ek kinderstemme hoor. Toe ek deur die venster kyk sien ek ‘n klein seuntjie wat by die hek instap en begin om vrugte op te tel. Sy ma se afkeur het van die ander straathoek af weergalm. Dit was nie lank nie toe is kleinsus ook daar. Ek het hulle gelos en my koffie klaargemaak. Dit was toe dat ek die ma se stem in die nabye omtrek hoor. Toe ek weer uitkyk sien ek dat sy saam met hulle vrugte optel terwyl sy hulle berispe en waarsku.
Dit is toe dat ek die lang pad na uitkoms aandurf. Toe ek uiteindelik om die pastorie loop sien ek die gesinnetjie in die straat langs ons afloop. Ek het reguit op die ma afgestap en kon die ongemak opmerk. Toe ek vra: “Het jou kinders genoeg gekry?” het die ma dadelik gereed gemaak om te verdedig en te verduidelik. Dit is toe dat ek my hart oopmaak en sê: “As hulle vrugte soek kan hulle net klokkie lui en ek sal persoonlik vir hulle pluk.”
Die ma was uit die veld geslaan en die kinders oorstelp. Ek het vir altwee en die ma hul twee hande volgestop.
Die wysheid wat God verskaf het in hierdie gebeurtenis bly my by. Die kinders en hul ma is gevoed, hulle is geleer om nie te steel nie maar eerder te vra, hul kon wegstap met opgewondenheid en vrede, hul toekoms is vir daardie een oomblik in ‘n ander rigting gestuur.

SAMEVATTING

Ons kan bloedsuiers wees en mense leeg tap óf ons kan Gashere wees wat die wysheid, nederigheid en liefde van God verteenwoordig. Ligdraers wat in die regte verhouding met God leef en wysheid gebruik om vrede te maak.
Onthou altyd: Die wysheid van God “ … bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak”

GEBED

Here, ons hoor U Woord oor die potensiële toestand of bestaande toestand van Lidmate. Versterk ons deur U Gees Here om deur U wysheid in die regte verhouding met U te leef en vrede te maak in ons verhoudinge hier op aarde — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more