036 — Jakobus 3:9 | VOLKOME VERTEENWOORDIGENDE BEELD VAN GOD

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  3:57
0 ratings
· 6 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, na U Woord hunker ek, U Wysheid streef ek na. Mag my hart U hart ter harte neem — Amen.

SKRIFLESING

James 3:9 AFRIKAAN
9 Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.

OORDENKING

Jakobus grou baie diep in my hart. Ek wil so stukkie van hierdie diepte vandag met jou deel.
Jakobus beeld uit hoe ‘n onvolkome leermeester lyk. Sy tong verkeer in spanning oor God en die mens. Hierdie spanning is ongehoord omdat die mens na die beeld van God geskape is.
Omdat Jakobus die woorde “beeld van God” gebruik sinspeel hy op die skeppings verhaal. Gen 1:26 sê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” Om die beeld van God te wees is om Hom te verteenwoordig op aarde. Om God te verteenwoordig word geklassifiseer as heerskappy oor Sy Skepping. Ek wil dit so bietjie anders herhaal: Ons verteenwoordig die beeld van God deur dade van heerskappy.
Om die mens te vloek, in Jakobus se voorbeeld, is om te vaal in die opdrag om te heers as verteenwoordiger van God. Die uiteinde is dat ons die beeld van God in onsself en in ons medemens beskadig.
Dink bietjie na oor die volgende: Die beeld wat van God geteken word in die Skeppingsverhaal is dat Sy innerlike en Sy uiterlike handelinge in harmonie met mekaar is.
Eerstens is Sy woord en daad in harmonie:
Genesis 1:3 AFRIKAAN
3 Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
Van die begin af funksioneer Woord en Daad saam. God sê: “Laat daar lig wees!” en dan gebeur dit. As God praat vloei die daad daaruit voort.
Tweedens sien ons ook dat God se innerlike refleksie en sy dade in harmonie met mekaar is:
God doen moeite met die skepping van die mens. Hy reflekteer eers deur te sê: “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger” (Gen 1:26a) en dan doen hy moeite om die mens te skep in daad (Gen 1:27). Wat God dink en wat Hy doen is in harmonie met mekaar.
Die beeld wat ons van God kry in die Skeppingverhaal is dat Hy volkome een is in Sy innerlike refleksie, Sy woorde wat Hy spreek en die dade wat Hy uitoefen.
Die beeld wat Jakobus van die gelowiges teken in sy brief is alles behalwe ‘n beeld van innerlike refleksie, woorde en dade wat in harmonie is met mekaar. Hulle lewe verteenwoordig alles behalwe die beeld van God.
Ek staan op die punt waar ek die mens deur nuwe oë sien. Ek staan op die punt waar ek myself deur nuwe oë sien. Waar staan jy?
Kom ons wees ‘n volkome verteenwoordigende beeld van God.

GEBED

Here, ek besef my tekortkominge, mag ek deur die krag van U Gees nie terugdeins om U volkome te verteenwoordig nie — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more