031 — Jakobus 3:1–12 | BEHEERSDE LEIERSKAP

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  9:56
0 ratings
· 19 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, “Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie.” (Ps 39:2) Help my, help ons deur U Woord en U Gees daartoe — Amen.

Skriflesing

James 3:1–12 AFRIKAAN
1 My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2 Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3 Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4 Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5 So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6 Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7 Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8 maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9 Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10 Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11 ’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12 ’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie

OORSIGTELIKE UITLEG

Jakobus (Jam 3:1-12) gee vir ons ‘n voorbeeld van ‘n posisie in die samelewing wat absolute beheersing verys van beide die tong en die liggaam.
Hierdie posisie is die van “Leermeester”. Ek definieer “leermeester” vir myself soos volg in die konteks van Jakobus: ‘n Leermeester is iemand wat met die tong en dade ‘n gesaghebbende invloed op iemand anders se lewe uitoefen.
Jakobus se beskrywing wat volg in Jam 3:2-12 is bedoel om introspeksie te wees vir elkeen wat so verantwoordelike posisie wil beklee.
Hy verduidelik eerstens hoe ‘n liggaam deur sy tong beheer word deur die voorbeeld van perde en skepe te gebruik (Jam 3:3-5a).
Tweedens verduidelik hy die destruktiewe aard van die tong deur dit met vuur te vergelyk (Jam 3:5b-8). Sy uitspraak dat geen mens die tong kan tem nie (Jas 3:8) sluit dan ook die ongesproke waarheid in dat dit alleen vir God moontlik is om die tong te tem.
Hy rond sy argument af in die gedeelte deur ‘n geestelike voorbeeld op die tafel te plaas: “Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek” (Jas 3:9–10). Ons moet oor hierdie voorbeelde dink in terme van v. 1. Jakobus verduidelik die verantwoordelikheid van ‘n Leermeester. ‘n Leermeester is iemand wat weet dat hy in alles verantwoordbaar staan voor God.

DIE SKRIF AS VERTREKPUNT VAN WYSHEID EN WAARHEID

Kom ons kontekstualiseer Jakobus se lering op verantwoordbare wyse deur ‘n vraag te vra.
Ek wonder wat Jakobus oor die Internet sou sê? — Ek dink nogal hy sou iets soos die volgende sê:
James 1:5 AFRIKAAN
5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Hoe seker kan jy wees dat dit wat ek hierbo gesê het nader aan die waarheid is as enige ander moontlike antwoord? Want, die Woord van God verklaar homself en as die Woord homself verklaar spreek dit en versterk dit waarheid in jou hart!
Hierdie voorbeeld wat ek nou net gebruik het is een van die basiese beginsels van Skrifuitleg en waarheid. Die Woord van God verklaar homself.
Kom ons kyk net bietie dieper: Daar is ‘n verskil daarin om met ons konteks na die Bybel te gaan en om met die Bybel na ons konteks te gaan.
1) Om met ons konteks na die Bybel te gaan stel ons bloot daaraan om die Bybel te verklaar vanuit ons konteks. Dit is om met kontekstuele voorveronderstellings die Bybel te lees.
2) Om die Bybel toe te laat om homself te verklaar en dan na ons konteks te gaan met hierdie verklaring, is om die Woord van God verantwoordelik uit te lê en dan toe te pas.
Wanneer ek iemand se stellings oor ons konteks navors op die internet soek ek altyd daardie persoon se uitleg van die aangehaalde tekste in Bybelse konteks. As daar nie so ‘n lering beskikbaar is van daardie persoon nie is daar helderrooi gevaarligte van ‘n perd sonder sy stang van ‘n skip wat sy roer verloor het.

KONTEKSTUELE TOEPASSING

Noudat ek en jy bewus is van 'n basiese beginsel van skrifuitleg en ons gekyk het wat die Skrif ons leer, kom ons gaan na die konteks van die internet:
Besef jy dat die internet ‘n platvorm gee aan enige persoon om ‘n leermeester te wees? Besef jy dat iemand wat net ons huidige konteks vat en die skrif gebruik om daaraan gesag te gee, nie die Skrif uitlê nie, maar probeer sin maak van ons konteks? Wees dan versigtig vir 'n perd sonder ‘n stang en ‘n skip sonder ‘n roer. Een wat net hier en daar verse aanhaal om bewyse te lewer dat sy interpretasie van ons konteks korrek is.
Gestel ek het ‘n boks vol spinnekoppe en ek vra jou om met jou kaal hand die een uit te haal wat nie giftig is nie, wat gaan jy doen?
Gaan jy jou hand insteek en hoop jy vat die regte een, gaan jy jou hand glad nie insteek nie of gaan jy ‘n kenner vra om jou touwys te maak of gaan jy die kenner vra om die regte een vir jou uit te haal?
Klomp vra, klomp opsies — Ek gaan die kenner vra om die regte een uit te haal. My selfvertroue met spinnekoppe is nou nie juis op datum nie. Ek gaan ook nooit self probeer indien die kenner my nie die vaardigheid aanleer om daardie spesifieke spesie uit ken nie.
Dit is vir my interessant dat die meeste mense wat weet hoe ‘n spinnekop lyk, maar nie noodwendig spesies kan uitken nie, eerder dieselfde opsie as ek sal kies. Hoe is dit dat ons, wanneer ons oor fisiese spinnekoppe praat en die potensiële fisiese pyn daarby betrokke, ons weet om versigtig te wees, maar as dit by geestelike sake kom is ons dikwels roekeloos?
Daar is miljoene geestelike spinnekoppe op die internet. Die internet is ‘n euwel in die opsig dat dit enigiemand ‘n gesaghebbende leermeester maak en ook enigiemand ‘n professionele gesaghebbende navorser.
Weet jy hoeveel godsdienstige goggas daar op die internet is. Die internet het meer gesag as God begin kry in die harte van mense en dit als onder die vaandel van sogenaamde beskikbare kennis van waarheid. Om jou Teologie te bou op internet sonder om bewus te wees van die konsewensies en slaggate is net so goed jy druk jou hand tussen spinnekoppe waarvan jy niks weet nie.
Wees versigtig vir wat die wêreld weie web jou wil leer oor God en Sy Woord — Agter elke web kruip ‘n spinnekop weg!
As daar ‘n tong is wat in ons tyd geknoop moet word is dit die tong van die internet.
James 3:1 AFRIKAAN
1 My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.
Mag ons Here Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees
ons tong tem,
ons ore toerus om met onderskeid te luister, en
ons lewe beskerm teen beweerde gesaghebbende geloof

GEBED

"Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Ps 141:3) , dit is U wat die wysheid gee, uit U mond kom die kennis en die insig. (Prov 2:6) — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more