021 — Jakobus 2:1-4 | MENSWAARDIGE OPTREDE

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  4:48
0 ratings
· 18 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, spreek asseblief deur U Woord tot my hart — Amen.

SKRIFLESING

James 2:1–4 AFRIKAAN
1 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2 Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3 en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4 het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

OORDENKING

Die tweede helfte van v. 1 ly ons in die tema van diskriminasie in met die gedagte dat gelowiges mense nie volgens hulle uiterlike moet beoordeel nie. Hiermee volg Jakobus in die voetspore van Jesus se lering in die Bergpredikasie. Voor ek Jesus se hart hieroor vir ons lees, net ‘n paar gedagtes oor Jakobus se manier van skryf.
Wat dadelik byval is die manier hoe hy die potensiële situasie skets. Hy gebruik direkte woorde so asof hy iemand aanhaal wat vir die ryke sê: “Kom sit u hier gemaklik” en vir die arme “Gaan staan jy daar anderkant” of “Kom sit hier by my voete”. Hy sinspeel hiermee op ‘n onbeteulde tong.
Nadat ek hierdie aanhalings wat Jakobus maak in die Grieks gelees het tref dit my nogal hoe hy dit geskryf het.
a) Die woorde “Kom sit u hier gemaklik” is in die teenswoordige tyd. Jy kry die indruk dat die ryk persoon aan die arm gevat word en vergesel word. Daar word tyd saam met hom spandeer.
b) Aan die ander kant is die woorde “Gaan staan jy daar anderkant” of “Kom sit hier by my voete” net ‘n vinnige sogenaamde "snapshot” van tyd. Jy kry die gevoel van ‘n kortaf opdrag sonder enige tyd, belangstelling of respek.
Dit is inderdaad nie die manier hoe medegelowiges mekaar behandel nie. Hierdie soort gedrag wys dat jou hart oordeel volgens die uiterlike en dat jou binnekamer vuil of deurmekaar is.
Jesus se woorde hieroor is vir ons aangeteken in Lukas 6:37-42 en Matt 7:1-5. Ek lees vir ons die weergawe in Mat 7:1-5
Matthew 7:1–5 AFRIKAAN
1 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. 3 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.
Ek het nogal gevind dat ons as gelowiges doelbewus uit ons pad kan gaan om mense wat onwelkom voel tuis te bring in ons midde. Daardie oomblik van doelbewustheid is soos om die balk uit jou oog te haal.
As jy dit eers eenkeer gedoen het word dit deel van jou natuur en jou oë begin beter sien. Jy word meer sensitief vir eensame harte in jou midde.
Mag ek en jy met respek optree teenoor medegelowiges ongeag hulle herkoms en voorkoms wat van ons mag verskil. Mag ons met menswaardigheid optree wat die kind van God betaam.

GEBED

Here, ly my asseblief om in alle omstandighede met woorde en dade op te tree wat van menswaardigheid getuig — Amen,
Related Media
See more
Related Sermons
See more