013 — Jakobus 1:19–27 | WYSHEID OOR WOORDE

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  12:44
0 ratings
· 104 views

Hoor is beter as niks — Luister is beter as Hoor — Doen is beter as Luister

Files
Notes
Transcript
Week 3

INLEIDING

Storie: Aptytwekker

Lank — Lank Gelede, was daar ‘n klomp kinders in die kerk. Die dominee het gesê: “Kinders, daar is roomys in die kerk se vrieskas. As die kerk uitkom kan julle vir julle gaan vat soveel as wat julle wil hê. Julle moet alles opeet”.
Toe die kerk uitkom het die helfte klaar vergeet van die roomys en huis toe gegaan.
‘n Klomp het bymekaar gedrom buite die kerk en die aangeleentheid met mekaar bespreek. Hulle het gewonder watter kleur die roomys is en sou dit sjokolade of vanilla wees. Maar nie een van hulle het aanstaltes gemaak om te gaan kyk nie.
Een kind het wel dadelik toe die kerk uitkom kombuis toe gehardloop. In die vrieskas het hy die roomys ontdek en hy kon alles vir homself hou, want niemand anders het gedoen wat hy gedoen het nie.

Storie: Uitnodiging

Daar is drie soorte gelowiges in Jakobus se boodskap vanoggend. Hou jou ore gespits dan leer ons vanoggend wat Geestelike Volwasse geloof is.

Skriflesing: Jakobus 1:19-27 (Jam 1:19-27)

Skriflesing word aangekondig

GEBED

Here, dankie vir die voorreg om vandag saam te luister na U Woord. Mag U verheerlik word daardeur en ons lewens vanuit U Woord nuut word tot eer van U — Amen
Skriflesing word uitgevoer

Skrifuitleg (Tematies)

Goeie Gedrag Getuig van Geloof — Dit is nie hoe lank jy kan konsentreer in die erediens wat tel nie. Dit is nie hoe goed jy alles kan onthou en oorvertel of debatteer wat saak maak nie. Dit is wat jy doen as jy hier uitloop wat getuig van jou geloof.
Ek herinner jou vanoggend aan Jakobus se doelwit vir sy Brief: 1) Hy sê in 1:2-4 (Jam 1:2-4) dat beproewings kan bydra tot ons geestelike volwassenheid en 2) in 1:5 (Jam 1:5) dat ons wysheid van God moet vra as ons dit kort kom oor die hantering van ‘n beproewing.

Beproewings/Versoekings en die Oplossings?

In die lig hiervan vra ons vandag: Wat is die beproewings waarvan gepraat word in ons teksgedeelte 1:19-27 (Jam 1:19-27)? En Wat is die wysheid wat bydra tot Geestelike Volwassenheid?
Dit bleik dat hier twee ooglopend swakhede is wat oorkom moet word.
1) Die eerste is om vinnig en ondeurdag uit woede te praat eerder as om te luister (Jam 1:19) , en …
2) Die tweede is om net te luister in plaas daarvan om te doen (Jam 1:22).
3) Die Wysheid wat tot Geestelike Volwassenheid lei is om te besef dat “hoor” beter is as niks, dat “luister” beter is as “hoor” dat “doen” baie beter is as net “luister”.
Hierdie gedeelte in Jakobus is ‘n toepassing van Jesus se vertelling in Matt 13:3–9 oor die saaier. Daarin vertel Jesus 1) dat saad wat op ‘n pad val deur voëls opgepik word 2) dat saad wat op klipbanke val wel opkom maar dan weer doodgaan vanweë die hitte van die son 3) dat saad wat tussen onkruid beland deur die onkruid doodgedruk word, 4) maar dat saad wat in vrugbare grond val lewe kry en vrug dra.
Hoor baie mooi wat Jakobus sê: Dit is goed om te “hoor”, maar dit is beter om te “luister” en soveel beter om te “doen” as om net te luister.

Fases van Geestelike Volwassenheid

Hy teken vir ons ‘n prentjie van ontwikkeling na Geestelike Volwassenheid. Daarmee skets hy drie fases in die groei na volwassenheid.
1) Fase 1 is Gelowiges wat net woorde hoor en nog nie kan breek met hulle sondige natuur nie …
2) Fase 2 is Gelowiges wat wel luister maar dis al wat hulle doen en struikel nog gedurig omdat hulle vergeet wat van waarde is … en
3) Fase 3 is Gelowiges wat nie net aandag gee en luister nie maar wel toepas wat hulle leer en sodoende standvastig bly.
Die wat net hoor breek nie met hulle sondige natuur nie. Kenmerkend van hulle lewe is sonde soos byvoorbeeld woede, sedelike vuilheid en ongeregtigheid (Jam 1:20-21a)
Die wat net luister het wel hul woede uitbarstings in toom gebring, maar hulle mis die die res van die volle beeld van waarheid in die spieël (Jam 1:22-25) Hulle vergeet so maklik om die regte lewenswyse aan te kweek (2 Tim 3:16).
Daar is egter een soort gelowige wat standvastig en Geestelik Volwasse word. Dit is die wat barmhartig optree en God se Woord duidelik hoor en uitvoering daaraan gee (Jam 1:27).
As daar ‘n waarheid is wat ons ter harte moet neem dan is dit: Goeie Gedrag Getuig van Gehoorsame Geloof.

Die Wysheid van Jesus

Nie net tref Jakobus hierdie onderskeid van geloof nie. Hy kyk dieper en pas Jesus se Woorde toe. Jesus sê die volgende in Matt 7:21-23
Matthew 7:21–23 AFRIKAAN
21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree
Om net godsdienstige woorde te praat en te bely en sogenaamde bevrydings en wonderwerke is leeg sonder gehoorsaamheid aan die wet van God. Al die duiwels wat Jesus uitgedryf het en al die wonderwerke wat Hy gedoen het sou van geen waarde wees as Hy nie tot die dood gehoorsaam was nie.
Luister net weer hoe som Jesus die wet van God op: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” (Mt 22:37–40)
Wat is my en jou reaksie hierop?
1) Stap ons uit die kerk en vergeet om God en ons naaste lief te hê? óf —
2) Praat en debatteer ons oor die betekenis en inhoud van liefde vir God en wie ons naaste is? óf —
3) Is ons lief vir God en vir ons naaste?

Storie

Jare gelede het ek as kind ‘n wysheid geleer uit ‘n speletjie.
Dit was ‘n skoolvakansie en ek moes onder die toesig van my tannie die vakansie deurbring. Sy het iets uitgedink om die kinders besig te hou.
Sy het twee tasse te voorskyin gebring. Binne die tasse was ‘n klomp klere. Alle soorte, mansklere, vroueklere, kinderklere, groot en klein. Die opdrag was eenvoudig. Twee van ons gaan gelyk begin aantrek en ons kyk wie eerste klaar is. Daar is natuurlik ‘n voorskrif: Jy moet soos jou oupa lyk as jy klaar is.
“Op julle merke, gereed, gaan” was die teken om weg te spring. My niggie het halsoorkop die tas oopgeruk, ingedelf en begin aanpas. Tussen deur kon jy hoor hoe sy mompel en sukkel om in die babaklere te kom.
Dis die dat ek die tas rustig oopmaak, Deur die klere blaai soos in ‘n boek en die uitsoek wat my sal pas. Kalm en rustig het ek dit aangetrek en wonder bo wonder toe ek klaar is staan my niggie nog steeds net in haar ma se hoëhaakskoene.

Lewensles

Die lewensles was vir my duidelik — dit was so helder dat ek dit vandag nog in my lewe probeer toepas: Luister baie mooi wat van jou verwag word, reageer met ‘n kalm gees daarop en sorg dat elke liewe handeling bydra tot die doelwit, die eindpunt die mikpunt van jou lewe.
Jakobus se wysheid stel vir my en jou ‘n mikpunt, ‘n doelwit. Dit is om in alle opsigte aan Jesus gelyk te word deur die genade van God.
Baie spesifiek praat hy met ons oor spraak en gehoorsaamheid (1: 19–26). Let op hoe jy deur die lewe gaan. Beheersing van jou reaksie op mense, jou gedagtes en optrede is van kardinale belang vir ‘n standvastige geestelike volwasse lewe.
Ek het nie als herhaal wat Jakobus gesê het nie. Tog wil ek net ‘n paar van sy duidelike gedagtes uitlig:
1. Wees vinnig wees om te luister en stadig om te praat en stadig tot woede (v. 19).
2. Reageer met nederige kalmte op God se Woord eerder as met woede wat daarop uitloop om die doel te mis (vers 20–21).
3. Moenie net na God luister nie, reageer met daadwerklike gehoorsaamheid (v. 22–25).
4. Leef met ‘n innerlike selfbeheersing en onderwerping aan God (vers 26).
Onthou altyd Goeie Gedrag Getuig van Geloof

Seënbede

Mag elkeen onsself in die spieël sien en regmaak (Jam 1:22-25).
Mag ons soos Jakobus skryf, alle sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim ( Jam 1:21a).
Mag ons ons lewens skoon hou van die besmetting van hierdie wêreld (Jam 1:27).
Mag ons ootmoedig die woord wat God in ons geplant het ter harte neem (Jam 1:21b).
Mag ons mekaar in woord opbou eerder as om af te breek (Jam 1:26).
Mag ons deur elke handeling die uitbreiding en instandhouding van God se koninkryk onder alle mense handhaaf (Jam 1:27).

GEBED

Here, lei ons asseblief hierdie week om geleenthede te sien waarin ons prakties gehoorsaam aan u kan wees. Mag ons ook elkeen van daardie geleenthede aangryp om U daardeur te verheerlik — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more