Geraamtes wat praat (Deel 1)

Geraamtes wat praat  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  33:47
0 ratings
· 48 views

Dikwels kyk ons na omstandighede en dink ons daar is geen kans dat hierdie situasie kan verander of herstel word nie. Maar God verwag van ons om die onmoontlike omdat Hy nie verander het nie en omdat Hy in ons is en deur ons die onmoontlike wil doen. Al wat nodig is, is dat ons sal hoor wat God oor daardie situasie sê en ons dan dieselfde daaroor sê.

Files
Notes
Transcript

In Matteus 10:8 lees ons dat Jesus die 12 dissipels uitgestuur het en vir hulle gesê het “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” As ons vandag daaraan dink dat ons dooies moet opwek dan slaan onsself dood neer, never mind ’n “panic attack” kry.

Die dood is vir ons die einde van ’n lewe of die einde van ’n bestaan. Ons praat van iemand wat dood is maar ons gebruik dit ook in ander kontekste om aan te dui dat iets se bestaan tot ’n einde gekom het. Bv. “Die kar wil nie start nie, die battery is dood.” Of, “Besigheid is dood-stil, daar gebeur nie veel nie.” Of, “Die gehoor is maar gevrek, daar is geen meelewing nie.”

Vir sommige mense (en ek dink daar’s van julle hier) is een van die mees tragiesste goed wat kan doodgaan ’n “braaivleis vuur” 😊 😊!

Daar is baie dinge in die lewe wat kan doodgaan of doodloop... verhoudings, gevoelens, sake (causes), organisasies, besighede, kerke, idees, drome ens. In ons oë het daardie ding finaal tot ’n einde gekom, maar wanneer God in die prentjie inkom, dan gebeur die onmoontlike. “Wek die dooies op”, asof dit ’n normale ding is om te doen sê vir ons dat Jesus die “onmoontlike” van sy dissipels verwag het. Hebreërs 13:8 sê “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Hy verwag nog steeds die onmoontlike van sy dissipels omdat hy, soos ek laasweek gesê het, in ons is deur die Heilige Gees. “... omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Joh. 4:4), en “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Mat. 28:20)

In Esegiël 37 kry ons die storie waar God vir Esegiël ’n boodskap van hoop vir Juda gee wat in ballingskap in Babilonië is.

Esegiël 37:1-12

Ek glo die Here wil vandag vir jóú ook hoop gee in jou oënskynlike dooie situasie. En nie alleen dit nie, ek glo die Here wil jou as ’n profeet gebruik om oor iemand anders se dooie situasie te profeteer en hy wil jou as ’n dissipel gebruik om iemand anders se dooie saak op te wek.

Esegiël self was in ballingskap gewees toe hy die boek geskryf het. So dit beteken nie dat jy net ’n boodskap van hoop kan hê as jy nie self in benoudheid is nie. Ek en jy moet as God se profete en dissipels optree waar ons ook al is en in watter omstandighede ons ook al is.

In hierdie visioen wat Esegiël gesien het, was dit nie ’n lyk wat net ’n paar uur of self ’n paar dae dood was nie. Die bene was nie “vars” geraamtes nie, dit was ou, verdroogde bene gewees wat daarop sinspeel dat menslik gesproke daar geen kans was dat dit weer lewendig kon word nie.

Dalk lyk jou situasie, jou besigheid, jou finansies, jou huwelik, jou gesondheid of mense wat naby jou is en vir wie jy lief is en omgee se situasie of daar géén kans is vir herstel nie. Dis morsdood. Dan is dit tyd om te hoor wat God daaroor sê. Ps. 37:5 “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer;” Spr. 3:6 “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” As jy vir die Here vra wat Hy wil hê jy moet doen, dan kan jy verwag dat Hy jou sal wys of sê wat om te doen. En as jy hier was toe ek gepraat het oor wat om te doen as God stil is, dan sal jy weet dat jy moet aanhou om te doen wat Hy laaste aan jou gesê het. Oor sekere goed het jy nie ’n spesiale openbaring of “woord” voor nodig nie, want God maak dit baie duidelik in die Bybel.

Dit is hoekom “vas en bid” so belangrik is. Ons wys daardeur vir God dat ons Hom nodig het in die besluite wat ons moet maak en dat ons daardie goddelike antwoorde nodiger het as kos. Dit is ook hoekom dit nodig is om te weet wat God oor dinge soos bv. gesondheid sê sodat ek Sy wil, kan uitspreek oor my situasie. Party mense sal bid “Here, as dit U wil is, maak my gesond.”, terwyl die Here ons die opdrag gegee het om siekes gesond te maak. God se volk gaan te gronde weens ’n gebrek aan kennis en/of geloof (Hos. 4:6; Jak. 4:6-8).

Die Here sê vir Esegiël om oor die dooie bene te profeteer of met ander woorde te sê wat God daaroor sê. Spreuke 18:21 sê “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Jesus sê in Markus 11:23 “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê.”

Jy kan jou geraamtes laat praat. Maar onthou, as hulle praat, is hulle nie meer geraamtes nie. Hulle is nie meer verdroogde dooi bene nie. Hulle het dan lewendig geword op grond van wat God ván hulle gesê het en jy óór hulle gesê het. Dit is nie net genoeg om te hoor wat God sê nie, jy moet aksie neem en sê wat God gesê het. Geloof sonder dade is dood.

En as dit nie met die eerste oog opslag gebeur nie, hou aan. Kom ons kyk vir oulaas na die teks; Esegiël 37:8 “Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

PERSOONLIKE GETUIENIS: My rug wat so seer was dat ek nie op sekere maniere kon draai nie en ook dikwels geweldige steek pyne gekry het. Ek het genesing oor my rug uitgespreek op grond van 1 Pet. 2:24 “... deur wie se wonde julle genees is.”

Al hierdie dinge is alleen moontlik deur die krag van die Heilige Gees. Beide Jesus se bediening en die kerk se roeping het ontstaan deur die invulling van die Heilige Gees. Dit was en sal altyd wees, Drie-in-Een; Vader, Seun en Heilige Gees.

By mense lyk dinge onmoontlik maar by God is alle dinge moontlik en Hy wil die onmoontlike deur jou doen en op so manier wys waartoe Hy en Sy kinders in staat is. Maar onthou, hoor eers wat sê God oor jou en ander mense se dooie situasie en spreek dan Sy lewe daarin.

Staan op, vra God vir Sy Gees, en wees dan God se profeet en Jesus se dissipel vir jouself en vir ander.

Related Media
See more
Related Sermons
See more