Hoe sien ek God reg.

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 15 views
Notes
Transcript
“There are three images in my mind which I must continually forsake and replace by better ones: the false image of God, the false image of my neighbours, and the false image of myself.”CS Lewis
Sedert die begin van tyd maak mense hulle eie afbeelding van wie hulle dink God is. Ons maak gode na ons beeld en ons eie verbeelding. Daar is al sedert die skepping ‘n stryd tussen afgodery en ware aanbidding. Die eerste sonde van ongehoorsaamheid was inherent die wegdraai van die ware God na ‘n ander god. In plaas daarvan dat ons deur verhouding met God in ‘n wandeling in die tuin sou kom tot volmaakte kennis om net soos God te wees, kies die mens die kort pad en glo die leuen van satan. Verhouding spreek van dissipelskap, opvoeding, konfrontasie, beperking, tydsame ontwikkeling en groei. Die diepgaande motief agter hoekom Adam en Eva die vrug geneem het is: Dis die kort pad, meer gerieflike opsie.
“Dis nie waar nie!” sê die slang toe. “Julle sal nie doodgaan nie. God het maar net so gesê, want Hy weet julle oë sal oopgaan die oomblik as julle daardie vrugte eet, en dan sal julle volmaakte kennis hê en net soos God wees!” Die vrou kyk toe weer na die boom se vrugte en sien hoe pragtig hulle Iyk. Hoe lekker sou hulle nie wees om te eet nie! En hoe wonderlik sou dit nie wees om alles te verstaan nie! (Gen 3:4-6) [1] Sedertdien kies die mens oor en oor eerder die natuurlike, sinlike, self-wysbegeerte bo verhouding met God. Ons wil eerder ons self help,
“die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Rom 1:18-32)
Geen mens kan neutraal staan nie, ons is gemaak om te aanbid, om te dien, om na te volg. Jy aanbid of die Ware Skepper God, af afgode. Selfs die ateïs wat selfvoldaan verklaar; “Christenskap is vir mense wat ‘n kruk nodig het” wys op hulle eie self-aanbidding, selfbeskikking, en self-redding. Self-aanbidding is vandag die afgodery van ons tyd. Selfies, self-beheptheid, self-gerigtheid, en selfhelp godsdiens. Daar is selfs rakspasie onder die titel katogorie: Self-help. “Die Here help die mens wat homself help” is die mantra van die hedendaagse kultuur. Die diepgaande probleem en radikale ontnugtering van die aanbidding van valse gode is: Jy het gegee, gedien, gekoop, geslaaf, geoffer, gewerk en nog steeds vind jy jouself leeg en onvervuld.
Die werklike kwessie is: Hoe sien jy God? Sien jy Hom van aangesig tot aangesig? Of sien jy ‘n afbeelding, refleksie, oorvertelling, tweede-handse weergawe van wie mense sê God is? Jesus het ook hierdie vraag vir Sy dissipels gevra: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” [2] en later “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”[3]
Sommige sien God as die veelvoudige persoonlikheid steurnis God: Allah, Budah, Chrisna, is almal god.[4]
Sommige glo in die verkeerskonstabel god, wat daarop uit is om jou te vang oortree, en dan vir jou ‘n boete gaan gee.
Ander sien God as die kosmiese verkoopshandelmasjien, waar jy net die regte gebede bid, en hy dan gee wat jy nodig het.
Die wysbegeerte sien God as die onbetrokke horlosie-maker god, wat die aarde soos ‘n horlosie in delekate ratte aan die gang gesit het, maar nie betrokke is in ons persoonlike lewens nie.
Die meeste mense hou van die drinker-vriend-by-die-kroeg god, hy luister altyd, stem altyd saam, en laat jou altyd beter voel God.
Dan is daar mense wat God soos ‘n teddie-beer sien, hy is altyd daar vir jou, om jou te troos en te laat beter voel. Hy praat nooit terug nie, en hy is bekende staatmaker wat ek kies om te gebruik wanneer ek hom nodig het.
Die mense wat god as spaarwiel sien is glad nie op God ingestel of gefokus totdat hulle hom nodig het as daar ‘n pap wiel is nie.
Daar is natuurlik ook mense wat God sien as die bekende ou familielid, ons respekteer hom as hy kom kuier, bloot omdat hy familie is en omdat ons ouers hom ken.
Sommige teoloë sien god as die poppespelmeester god, wat glo dat hy alles beheer. Ons verstaan nie hoekom hy die wreedheid van moord, rampe en pyn en leed toelaat nie, maar alles is uiteindelik sy wil. Dit is moeilik om die God lief te kry.
Baie mense sien God as die pretbederwer god. Hy wil nie hê ons moet die lewe geniet nie, wanneer dit goed gaan is ons eintlik bang vir wanneer hy dit gaan kom bederf. [5]
“Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. 18Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.[6]

Die ware kerk is gebou op die openbaring wat God van homself gee!!

Die afgodery oplossing is eintlik eenvoudig: Is jou siening van God ‘n mens se openbaring van God, of het God Homself aan jou bekend gemaak?
Paulus verklaar: Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus. (Gal 1:12) Hy het ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad op die pad na Damaskus. (Acts 9:1-19)
Paulus leer dat ware gelowiges en kinders van God, leef vanuit ‘n direkte persoonlike openbaring van wie God is. Die voorhangsel is geskeur. Ons het nou vrymoedigheid om in die allerheiligste in te beweeg. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. (2 Cor 3:18)
WAT van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe — en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe... (1 John 1:1-2)
Baie mense het natuurlik Jesus reg voor hulle gesien, en tog nie gesien nie. Hoeveel mense het Jesus nie genees, en nog steeds het hulle nie geglo nie. (Joh 12:37-43) Sy eie familie het ook eers nie gesien wie Hy werklik is nie. (Mat 12:46-50; Mark 3:21,31-35; LK 8: 19-21)
Ons sien hier op watter verskillende maniere die mense op Jesus gereageer het. Party mense het Hom “’n goeie man” genoem (Joh 7:12); ander weer ’n misleier (Joh 7:12). Ander het gesê dat Hy van die duiwel besete was (Joh 7:20); party dat Hy die Christus was (Joh 7:26); sommige dat Hy “die Profeet” was (Joh 7:40) en sommige dat Hy gearresteer moes word (Joh 7:44).
Daar kom egter ‘n dag waar ELKE knie sal buig, en ELKE tong sal bely: dat Jesus die Here is!! (Rom 14:11; Phil 2:10)

Jesus is God:

Christus Jesus het alle raaisels en afeidings oor God kom regstel en fisies in Sy persoon die Godheid kom bekend maak. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Heb 1:3) Jesus se eie biografie, of self-verklaring is uiters betekenisvol tot ons geloof. Wat het Hy oor Homself gesê?
Hy vergewe sonde: (Mark 2:10)
Hy is alomteenwoordig: “want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matt. 18:20).
Hy is ewig: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20).
Hy is almagtig: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Matt. 28:18).
Hy is alwetend: “Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” (Luk. 10:22).

“Christus was óf ’n leuenaar óf ’n waansinnige óf die Here.”

Uiteindelik was dit die hoofrede hoekom die Jode Jesus wou doodmaak: Die feit dat Hy Homself gelykstel met God. (Joh. 5:17-29). “Ek en die Vader is een.” (Joh. 10:30). “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ’n mens is, Uself God maak.” Teenoor die Joodse Raad, die Sanhedrin, maak Jesus dit weer eens duidelik: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:63-64). Die feit dat Jesus uiteindelik gekruisig is omdat Hy Homself gelykstel met God, is ‘n verdere bewys van wie Hy werklik is: Hy het dit nie net geglo asof dit iets wat moes verwesenlik word nie. HY IS GOD. Daarom het Hy opgestaan, is die Heilige Gees uitgestort, en elke woord wat Hy gepreek het is besig om in vervulling te kom!
Hoe ons God vandag sien, is bepalend tot hoe ons die lewe gaan hanteer! Is Hy waaragtig vir jou ‘n eerstehandse werklikheid, of glo jy nog op hoorsê? Mag die Heilige Gees Jesus aan ons elkeen openbaar in krag en majesteit!
[1] Die Lewende Bybel, (Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1982), Ge 3:4–6.
[2] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:13.
[3] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:15.
[4] https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_deities_by_classification
[5] https://www.aggiecatholicblog.org/2014/09/10-defective-images-of-god/
[6] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:17–18.
Related Media
See more
Related Sermons
See more