Mutasie van Jesus se DNA (Deel 3)

Barry v/d Merwe
Mutasie van Jesus se DNA  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  37:34
0 ratings
· 30 views

Elke gelowige is deel van Jesus se liggaam en elke ledemaat is belangrik en NOODSAAKLIK.

Files
Notes
Transcript

Mutasie van Jesus se DNA Deel 3

Voordat ek enige iets sê, dalk dink jy op hierdie oomblik “ Weet jy wat, ek het nie krag of lus vir hierdie “liggaam” ding nie. Kan jy nie net iets sê wat my gaan opbeur en bietjie hoop gee nie?”

As dit jý is wat so voel, luister dan mooi want ek het ’n woord vir jou!

“... want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van Sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.” Ef. 5:29-30. Jesus sê Hy voed en koester Sý liggaam, en as jy deel is van Sý liggaam dan voed en koester Hy jóú! Jy mag dalk nie omgee oor Sy liggaam nie maar Hy doen. So, kry jou kop in die game en kom ons dink en praat “Jesus, en liggaam, en kerk”

Teen hierdie tyd weet jy dat ons as gelowiges Jesus verteenwoordig teenoor mekaar, maar ook teenoor die samelewing. Deur die Heilige Gees in ons, is ons die draers van Sy natuur, persoonlikheid en vermoë (1 Joh. 4:16-17; 1 Pet. 1:23).

Laasweek het ons gekyk na die ontleding van Jesus se DNA om mikro vlak of op sel vlak – i.e. die kleinste, basiese samestelling van die liggaam. Ons het gekyk na die interaksie wat daar tussen die selle is. Hierdie week kyk ons na daardie ontleding op makro vlak i.e. hoe die liggaamsdele bydra tot die funksionering van die liggaam in geheel.

Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel. 1 Korintiërs 12:27 (NLV)

Is dit nie net fantasties om te hoor nie – as jy deel is van die liggaam is jy NOODSAAKLIK. Die liggaam kan eintlik nie sonder jou werk nie. Weereens, dit is hoe dit veronderstel is om te wees. Hierdie kondisie geld wanneer die liggaam gesond en sonder gebrek is. Maar het jy al agtergekom dat daar mense is wat wel sonder sekere liggaamsdele oor die weg kom. Dink aan Oscar Pistorius. Hy kon oor die weg kom sonder sy voete. Nick Vujicic is gebore sonder arms en bene en tog kom hy oor die weg sonder daardie ledemate. So, is voete, arms en bene dan werklik noodsaaklik?

Dink jy Oscar of Nick, as hulle ’n keuse gehad het, sou sonder daardie ledemate wou wees? Jy mag miskien dink dat altwee van hulle beroemdheid verwerf het a.g.v. hulle gebreke, en dat hulle om daardie rede hulle gebrek bo die normale sou kies. As jy so dink, dink ek jy vergeet dat hulle nie met hulle beroemdheid gebore is nie en dat hulle baie harde en moeilike keuses moes maak om te kom waar hulle is. Baie ander mense in soortgelyke posisies bereik nie dieselfde roem nie, al maak hulle ook moeilike keuses. Sou hulle dan nog steeds kies om eerder gebreklik te wees?

Deur die Here se genade is ons as mens baie aanpasbaar. Ons kan sonder ledemate oor die weg kom, maar God se ontwerp was volmaak, en daarom is elke deel noodsaaklik in Sy oë.

Al die lede saam vorm een liggaam, en daar is ook ’n verskeidenheid van liggaamsdele wat verkillende funksies het sodat die liggaam behoorlik funksioneer.

Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. 1 Korintiërs 12:12 & 14 (NLV).

Hoor net hoe mooi sê Paulus dit aan die gemeente in Rome “Just as there are many parts to our bodies, so it is with Christ’s body. We are all parts of it, and it takes every one of us to make it complete, for we each have different work to do. So we belong to each other, and each needs all the others.” Rom 12:4-5 (LB)

Jy is noodsaaklik en jy het ’n bydrae om te maak!

Onthou, die hele reeks gaan oor die “Mutasie van Jesus se DNA”. Jesus se DNA sê dat die liggaam volmaak sal ontwikkel en funksioneer. Die duiwel wil dit verander of tot so mate beskadig dat dit anders sal wees as wat bedoel is.

So wat is die dóél van Jesus se liggaam en wat is die doel van elke ledemaat van hierdie liggaam?

Wel, ek kan ’n omvattende antwoord gee maar die doel van hierdie boodskap is nie om dit breedvoerig te bespreek nie.

Jesus sê vir sy dissipels in Joh. 14: 12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” En in Joh. 16:7 sê Jesus “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.”

Die doel van die liggaam is dus om voort te sit wat Jesus kom doen het terwyl hy hier op aarde was uitsluitend Sy verlossingswerk. Paulus bevestig dit as hy in Ef. 2:10 skryf “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die doel wat elke ledemaat van die liggaam het word duidelik uitgespel in Rom. 12:4-5 hierbo, Ef. 4:11-12 “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus.” en in 1 Kor. 12:4-7 “Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.”

Daar is verskillende take wat elkeen in die liggaam het en elkeen van hulle, die gawes, die take en die ledemate, is daar om die liggaam op te bou.

So wat sê ons nou eintlik vir mekaar? Daar is dinge wat Jesus op aarde gedoen wil hê. Hy wil ons as sy liggaam, die kerk, gebruik, i.p.v. engele, om dit te laat gebeur. Daardie “dinge” is goed soos:

• Siekes gesond te maak (Luk. 10:9 (x70))

• Duiwels uit te dryf (Mat 10:8 (x12), Mark 16:17-18)

• Goed te doen aan almal maar veral mede gelowiges (Gal 6:10)

• Dissipels te maak (evangeliseer) (Mat 28:19)

• Hulle (dissipels) te leer dit wat Jesus ons beveel het om te doen

• Leierskap in die kerk (nie net “kerkraad” nie)

• Dienswerk in die kerk – soos musikante, kinderkerk, rekenaar werk, finansies, barmhartigheid (Vul-n-spensie), selleiers (gashere), gasvryheid (groet), admin, vir mense omgee (herderlike versorging), voorbidding en intersessie ens. (Rom 8:6-8; 1 Kor. 12:8-10, 28-30)

• Toerusting in die kerk – soos Bybelstudie, preek, profesie, tale en uitleg van tale (gelykstaande aan profesie)

• Gasvryheid

• Om te sê en te doen/wys wat reg is (justisie – reg en geregtigheid)

• Barmhartigheid (mercy) uit te leef en aan ander te bewys (Miga 6:8)

• Liefde prakties te demonstreer

Een persoon of selfs ’n paar ledemate kan nie (en is nie veronderstel om) dit alleen te doen nie. Daarom sê die Bybel dat ons as gelowiges aan mekaar behoort, mekaar nodig het en dat elkeen NOODSAAKLIK is.

Waar pas jy in as deel van die liggaam van Christus wat Mariepskop Bediening genoem word?

Die kerk is nie veronderstel om ’n Christo Pistorius of ’n Nick Vujicic te wees nie en wat net geleer het om sonder sekere ledemate oor die weg te kom nie. Ongelukkig is dit juis baie keer só, omdat die duiwel dit reggekry het om Jesus se DNA te muteer. Hy het dit wat die liggaam móés wees beskadig en die ontwikkeling van die liggaam benadeel en gekeer MAAR, gelukkig dien ons ’n God van wonders wat die liggaam gemaak het om “self genesend” te wees.

Dis nie te laat om die liggaam te help om te wees wat God dit bestem het om te wees nie. Elkeen moet net besef dat hy/sy (JY) belangrik en noodsaaklik is.

Ons is nie gemaak om geïsoleerd van mekaar te lewe nie. Ons is bedoel om goeie interaksie (karakter van liefde) met mekaar te hê. Ons is gemaak om dinge te laat gebeur – om goed te doen teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap rondom ons.

Ons (ek en jy) het die maniere, middele en motiewe om dit te doen. Wat keer jou om dit te doen?

KOM ONS GAAN WEES JESUS SE LIGGAAM VIR HOM!

...& KRY IEMAND OM DIT SAAM MET JOU TE WEES

(Jesus het altyd die dissipels 2x2 uitgestuur)

(Volgende week – hoe die liggaam homself opbou om volwasse te wees. Jy is nie net deel van die liggaam op papier of net op sekere dae nie. Jy is deel van die liggaam van Christus 247365)

Related Media
See more
Related Sermons
See more