Mutasie van Jesus se DNA (Deel 2)

Mutasie van Jesus se DNA  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  39:00
0 ratings
· 31 views
Files
Notes
Transcript

Mutasie van Jesus se DNA Deel 2

As jy dit laasweek se boodskap gemis het wil ek net eers weer sê dat hierdie nie ‘n mediese, wetenskaplike of biologiese gesprek is nie, maar om die konteks te verstaan en hoe dit op my en jou van toepassing is gaan ek net weer vinnig die definisie van mutasie en DNA gee.

Mutasie is wanneer jy die vorm of die natuur van iets verander of laat verander. Mutasie kom ook voor wanneer 'n DNA gene tot so 'n mate beskadig of verander is dat dit die genetiese boodskap wat daardie gene dra verander.

DNA is die genetiese kode wat al die eienskappe van alle bekende organismes (en baie virusse) bepaal. Daardie eienskappe sluit in die ontwikkeling, funksionering, groei en reproduksie van daardie organismes.

As die Bybel dan in 1 Korintiërs12 en Efesiërs 4 praat dat ons as gelowiges die “liggaam van Christus” is, beteken dit mos dat Jesus se DNA in elkeen van ons is. Daardie genetiese kode wat bepaal hoe ons ontwikkel en funksioneer en groei is dan binne elke gelowige. By implikasie sê dit dan dat ‘n gelowige nie met daardie DNA gebore is nie. Hy of sy het dit gekry die dag toe hulle vir hulle self gesterf het en saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgestaan het. Die Bybel noem dit, die dag toe jy wedergebore (of vanuit God gebore) is. Jesus sê vir Nikodemus in Joh 3:3-6 dat as God ’n mens nie ’n nuwe mens maak nie dan kan jy die koninkryk van God nie sien nie en ook nie ingaan nie. Jesus sê in Joh. 14:6 “ Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie”. Nou kom Paulus en hy sê in 2 Korintiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”. Die ou geestelike DNA is vervang met n nuwe DNA – Jesus s’n.

Onthou jy ek het gesê dat ’n mens nie net liggaamlik (op grond van sy/haar DNA) ontwikkel nie, maar dat ’n mens ook emosioneel en intellektueel ontwikkel en dat daardie totale ontwikkeling deur verskillende faktore beïnvloed word? Daardie faktore is dinge soos hoe jou ouers jou grootgemaak het; watter tipe vriende jy gehad het; wat se geleenthede jy gehad het ens. Ek het ook gesê dat wanner jy oor sekere karaktereienskappe praat jy die persoon sien wat dit voorstel. Byvoorbeeld as ek praat van vriendelikheid kom daar ’n spesifieke persoon in jou gedagtes op. As Jesus se liggaam stel ons dus Sý karakter voor. Ons as gelowiges is as’t ware Jesus se “PRO” (Public Relations Officer).

Jesus se DNA in ons (die Heilige Gees), ons eie persoonlikhede en geestelike groei asook ons interaksie met mekaar as gelowiges dra alles by tot hoe mense rondom ons, die samelewing, Jesus beleef.

Nou, die titel van die reeks en die definisie wat ek aan die begin gegee het praat van “mutasie”. Tot nou toe het ek nog nie veel daaroor gesê nie behalwe dat die duiwel die DNA van Jesus se liggaam wil verander. Hy wil daardie kode, wat sê hoe die liggaam moet funksioneer, verander en hy wil die groei en ontwikkeling van daardie liggaam keer of benadeel.

Voor ek kom by hóé hy dit wil doen, kom ons kyk eers na ’n ontleding van daardie DNA. As ons weet hoe dit móét lyk, dan kan ons evalueer of die liggaam nog gesond is en nog reg ontwikkel of nie.

Kom ons werk van die mikro ontleding, die kleinste innerlike dele op sel vlak na die makro ontleding, die groter ledemate en die liggaam as geheel.

Op sel vlak moet daar ’n goeie interaksie van die selle met mekaar wees. Hier praat ons oor dinge soos - liefde vir mekaar, sorg vir mekaar, verdraagsaam teenoor mekaar omdat ons van mekaar verskil, help mekaar, vul mekaar aan, dra mekaar se laste, vermaan mekaar, leer mekaar, bemoedig mekaar, bid vir mekaar, lieg nie vir mekaar nie, help mekaar groei, beskerm mekaar, vat of steel nie van mekaar nie, praat nie sleg van mekaar nie, onderwerp aan mekaar, probeer mekaar verstaan, is vriendelik teenoor mekaar. Hierdie is alles aspekte van LIEFDE omdat God liefde ís en ons Sý DNA in ons het.

Nou kan ons die vraag vra “Hoe probeer die duiwel hierdie DNA muteer? Hoe wil hy dit verander of maak dat dit verander?”

Wel, die duiwel probeer die groei van die liggaam teenwerk en hy probeer die DNA verander deur die selle te kry om nie goeie interaksie met mekaar te hê nie. En dit kom deur self-gesentreerd of self-gerig te wees. Die liefde is NOOIT self-gerig nie. God het nie nodig gehad om ons as mens te maak nie, maar omdat Hy liefde ís, wou Hy graag wié Hy is met ander (ons as mens) deel. Toe ons as mens, deur Adam, God verwerp het en ons DNA geheel en al verander het, kon God gesê het “Wel, Ek is klaar met julle.” Maar Hy het nie. Hy stuur Jesus om in ons plek vir ons foute te betaal en gee ons ’n manier om ons DNA terug te verander. Joh. 3:16 sê “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore seun gegee het...” Die liefde is altyd ander-gesentreerd.

Wanneer ek self-gesentreerd is soek ek net my eie belang. Dan verwag ek ook van jou om jou eie belang te soek en vir jouself te sorg. Ons dra dus nie sorg vir mekaar nie. Nee, nou is dit “elkeen vir homself en die duiwel vir die res.”

Wanneer ek self-gesentreerd is, wil ek hê almal moet soos ek dink en doen en voel. Daar is nie ruimte vir andersheid nie. Mense wat self-gesentreerd is, is onverdraagsaam en besef nie dat daar juis krag in diversiteit en eenheid, eerder as in eenvormigheid en verdeeldheid is nie.

Ons kan by elkeen van die karaktereienskappe wat hierbo genoem is die teendeel sit as die duiwel se manier om die liggaam van Christus se DNA te verander maar ek wil nog net twee noem.

Wanneer ek self-gesentreerd is, is dit vir my ’n bedreiging as iemand anders ook groei en toeneem. Daarom het ek nie tyd om jou te help groei nie en dink ek ook dat jy self moet toesien dat jy groei. Ons help mekaar dus nie om te groei nie.

Wanneer ek self-gesentreerd is, is dit in my eie belang dat ek my eie belange sal beskerm. Iemand wat self-gerig is, kan nie worry of jou reputasie skade lei nie. Sulke mense sal ander se foute openlik uitwys. Hulle sal sleg praat van ander en deelneem aan gesprekke waar ander mense bespreek en beskinder word inplaas daarvan om daardie persoon te beskerm of die persoon die geleentheid te gee om ’n ander perspektief op die saak te werp. Self-gesentreerde mense is geneig om dislojaal te wees terwyl 2 Tim 2:13 sê “Al is ons ontrou, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”

In ’n gesonde liggaam is die eienskappe van die DNA dat daar ’n goeie interaksie tussen die selle van daardie liggaam is. Wanneer die DNA muteer of beskadig word dan verbrokkel daardie interaksie en word die selle self-gesentreerd en van mekaar geïsoleerd.

Hoe kan ek verhoed dat die duiwel nie daarin slaag om die DNA van Jesus se liggaam te muteer nie? Hoe kan die mense om my, my familie, my vriende, my kerk en die gemeenskap, Jesus sien en ervaar vir wie Hy regtig is?

1. Ek moet weet wat hy is en hoe hy werk.

2. Ek moet weet hoe ek dit kan beveg en teenstaan.

Met die uitbreek van COVID-19 was een van die eerste dinge wat die dokters en wetenskaplikes probeer vasstel hóé hierdie virus lyk en hoe dit regkry om die liggaam siek te maak. Nou is hulle besig om te probeer vasstel, hóé hulle kan keer dat die virus doen wat dit doen, deur ’n entstof te ontwikkel.

Ons gaan nou daardie selfde twee beginsels toepas.

1. Wie is die duiwel en hoe werk hy?

Die duiwel is ’n meester leuenaar en ’n meester misleider. Een van sy grootste wapens om isolasie, verdeeldheid en verwydering te bring is deur agterdog, afleidings en aannames. Die beste manier om dit te troef is deur vrae te vra aan die één van wié hy jou af wil verwyder of van wil isoleer. Jesus sê in Johannes 8:32 “Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak.” Daardie waarheid het nie alleen betrekking op Jesus nie, maar ook in die breë. Die duiwel wil deur leuens, halwe waarhede en misverstande mense van mekaar vervreem en vasgrendel, maar dit is die waarheid wat dit verhoed en ons vrymaak. Deur vrae te vra kan ek misverstande uit die weg ruim en dit gee my ook die geleentheid om die ander persoon beter te leer ken en te verstaan. Ons sien dikwels net die dade en ons hoor dikwels net die woorde maar ons ken bitter selde die motiewe. Wanneer ons mekaar beter leer ken dan leer ons om die motiewe agter die woorde en dade te sien. Die duiwel wil ons onkunde gebruik om deur sy leuens te bind en te isoleer. Kennis van die ware jý sal my daarvan vrymaak.

2. Hoe kan ek hom keer om te doen wat hy doen?

Soos ek nou net gesê het, een van die dinge wat ek kan doen, is om mense en omstandighede beter te leer ken deur vrae te vra. Hoe beter ek mense leer ken hoe makliker is dit ook om hulle te kan vergewe wanneer dinge tussen ons skeef geloop het. Een van ons dosente het vir ons gesê die rede waarom ons mekaar so moeilik vergewe is omdat ons mekaar so sleg ken en die rede hoekom God ons so maklik vergewe is omdat Hy ons so goed ken.

Die volgende baie belangrike ding is om verantwoordelikheid vir jou eie optrede te vat. Daardie ou spreekwoord “It takes two to tango.” Is verseker waar. Die duiwel sal nie in sy planne kan slaag as hy dit nie deur jóú kan regkry nie. Die Engelse het ’n ander spreekwoord wat sê “The buck stops with you.” menende, jy gaan nie die blaam verder verskuif nie. Ons wil dikwels ons verkeerde optrede regverdig deur ander se foute uit te wys of as bepalende faktor gebruik vir ons optrede. Ons moet die mense wees wat sê “Ek gaan ander-gesentreerd wees”, “Ek sal liefhê”, “Ek sal omgee”, “Ek sal beskerm”, “Ek sal bid”, “Ek sal...” Kom ek en jy wéés die verskil!

Die derde ding wat ons kan doen is om bereid te wees om te verander. Die geheim is eerste die bereidwilligheid om te verander maar daarmee saam is die geduld om dit een ding op ’n slag aan te pak. Die duiwel sal jou eers probeer kry om sy plan te doen en as hy dit reggekry het gaan hy jou laat skuldig voel daaroor. Dan gaan hy poog om jou te oortuig om op een slag alles te probeer regstel wetende dat jy gaan opgee voor jy dit sal kan regkry. Antibiotika maak jou nie opslag gesond nie, net so verander die Here ons ook nie eensklaps nie. Dis ’n proses maar God is geduldig met ons omdat Hy ons harte raaksien.

Ek gaan weer ’n lys van eienskappe van die liefde gee. Dis nie die volledige lys nie, maar dis ’n begin. Gee jouself ’n punt uit 10 uit waar 1 baie min is, en 10 baie goed. Kies dan die een waarin jy die beste gedoen het en die een waarin jy die swakste gedoen het en vir die volgende 21 dae, werk jy daaraan om dit te verbeter.

’n Gesonde liggaam kom met goeie interaksie en goeie interaksie kom wanneer ons mekaar lief het en vir mekaar:

• Omgee

• Sorg

• Verdraagsaam is

• Help

• Aanvul

• Laste dra

• Vermaan

• Leer

• Bemoedig

• Bid

• Nie lieg nie

• Help groei

• Beskerm

• Nie vat of steel nie

• Nie sleg praat nie

• Onderwerp

• Verstaan

• Vriendelik

• Waardeer (Value & Appreciate)

Deel hierdie twee areas waarin jy wil verander met ’n vriend en maak hom/haar deel van die proses. Wees eerlik as jy daarmee sukkel maar wees ook bly as jy dit regkry. ’n Las wat gedeel word, word gehalveer en ’n blydskap wat gedeel word, word verdubbel.

“8Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.” (1Pet 5:8-9)

LAAT JESUS SE DNA DEUR JOU ARE VLOEI

Related Media
See more
Related Sermons
See more