Mutasie van Jesus se DNA (Deel 1)

Mutasie van Jesus se DNA  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  30:46
0 ratings
· 36 views

Christians are not meant to live in isolation of one another.

Files
Notes
Transcript

Mutasie van Jesus se DNA (Deel 1)

Hierdie Corona virus bedreig meer as net ons fisiese gesondheid, ek dink dit bedreig ons geestelike gesondheid ook. Ons is nie bedoel om so in isolasie van mekaar te wees nie. Die Here ons nooit bedoel om op hierdie manier te moet leef nie.

Vandat hierdie lockdown begin het, het jy voortdurend, of deur ’n SMS, of op sosiale media, of in die nuus of iewers hierdie boodskap gekry “Bly veilig”. Maar daar is iets wat ons moes gedoen het om veilig te bly. Hulle sal sê “Dra ’n masker”, “Sit handskoene aan”, “Was jou hande”, “Hou jou afstand”, “Bly by die huis”. Dis alles goed wat ons moes dóén om fisies veilig te bly. Op dieselfde manier is daar goed wat ons moet doen om ook geestelik veilig te bly. Daarom wil ek vir die volgende paar weke gesels oor hoe ons geestelik gesond kan bly.

Ek wil die titel van hierdie reeks noem “Die mutasie van Jesus se DNA.”

Dit klink vreemd en net voordat jy dink “Woooh, wat se vreemde leerstelling wil jy nou hier begin, of wat se dwaalleer wil jy nou hier oor gesels”, wil ek vir jou sê “moenie worry nie.” Dit gaan nie oor een of ander mediese of wetenskaplike of biologiese gesprek nie, maar om die konteks van hierdie titel te verstaan en hoe dit op my en jou van toepassing is, wil ek graag net twee definisies gee. Die definisie van “DNA” en die definisie van “mutasie”.

DNA is die genetiese kode wat al die eienskappe van alle bekende organismes (en baie virusse) bepaal. Daardie eienskappe sluit in die ontwikkeling, funksionering, groei en reproduksie van daardie organismes.

Mutasie is wanneer jy die vorm of die natuur van iets verander of laat verander. Mutasie kom ook voor wanneer 'n DNA gene tot so 'n mate beskadig of verander is dat dit die genetiese boodskap, wat deur daardie gene gedra word, verander.

Wat probeer ek sê? DNA praat daarvan wat ’n liggaam van saamgestel is – ’n liggaam bestaan uit ’n klomp selle en elkeen van hierdie selle het ’n kode wat bepaal wie daardie liggaam is; hoe daardie liggaam gaan lyk. Maar daar is iets wat kan maak dat daardie liggaam kan verander. Die Bybel sê vir ons dat ons aan mekaar behoort. Net soos wat ons liggaam uit selle bestaan, so bestaan Jesus se liggaam ook uit selle uit en ons is daardie selle wat Sy liggaam opmaak.

1 Kor. 12: 24b-27 (NLV) “God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel.” Dit praat van hoe dat ons aan mekaar behoort en deel is van die liggaam van Jesus.

Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help. Ef. 4:15-16 (DB)

As jy hierdie gedeelte lees hoor jy net – ons behoort aan mekaar, ons is noodsaaklik, ons is aan mekaar verbind, en die duiwel probeer om groei te kelder of te verhinder. Al het die liggaam daardie DNA wat bepaal hoe hy gaan opgroei, groei n mens nie net liggaamlik nie. Daar is ander faktore wat bydra tot n mens se groei en ontwikkeling. Jy het emosionele groei en dan het jy kognitiewe groei, hoe jou brein ontwikkel en jy slimmer raak. Al hierdie is omstandighede wat bydra tot die groei en ontwikkeling van die liggaam. Netso wil die duiwel ook ons groei en ontwikkeling kelder. Hy wil die DNA van Jesus se liggaam muteer, i.e. te verander of maak dat dit verander.

As jy aan persoonlikheid dink, bv. Vriendelikheid, is die prentjie wat in jou gedagte opkom nie een of ander “emoji” of die woord “vriendelikheid” nie. Nee, jy dink aan iemand wat vriendelik is. Dieselfde is waar vir eienskappe soos hulpvaardig of goedhartig of lojaal. Jy dink aan iemand wat dit verpersoonlik.

Dit is dieselfde met ons as die liggaam van die Here. Ons verteenwoordig, of ons verpersoonlik wie Hy is. Die “goeie nuus” van COVID-19 is dat dit my geleer het hoe bevoorreg ek is om ons kinders by ons in die huis te hê. Voor die lockdown was beide ons kinders was onderskeidelik vir ’n maand en twee maande weg van die huis af en het ons hulle verskriklik gemis. Ons wou graag elke dag met hulle gesels. En in hierdie tyd het ons hulle weer opnuut waardeer. Miskien is daar van julle wat in soortgelyke situasies is. En hoewel ons kinders nie vir altyd in die huis gaan wees nie is ons nie bedoel om van mekaar geïsoleer te wees nie. Dit bring iets van die besef van waarde van familie wees en van verhouding hê.

Ek en Therésa is in Julie 1998 getroud. Ek was nog op Universiteit en finansies was maar skraps. Ons het op ’n forel plaas gebly en moes oor naweke werk om vir ons verblyf, studies en petrol te kon betaal. Gedurende daardie tyd tot en met einde November daardie jaar het ons nie by ’n gemeente ingeskakel nie. Desember 1998 is ons beroep Barberton toe met die oog daarop om ’n gemeente in Badplaas te begin. Dit was eers toe ons weer deel was van ’n gemeente wat ons agtergekom het hoeveel ons uitgemis het. Ons het besef dat vir daardie tyd wat ons geïsoleer was, van ander lede van die kerk af afgesny was, het ons skade gely en nie geestelik ontwikkel soos ons moes ontwikkel het nie. Ons as Christene is nie bedoel om so in isolasie te leef nie. Ons is tog lede van dieselfde liggaam en ons het mekaar nodig as ons geestelik gesond wil wees.

Net soos wat ’n liggaam uit selle uit bestaan wat deur chemiese reaksies aan mekaar vasgehou word, so is liefde daardie “gom” wat ons as selle, as ledemate, aan mekaar vashou.

Liefde vir iemand is nie gebaseer op hulle prestasie of dit wat hulle doen nie, maar liefde vir iemand is gebou en gegrond op hulle verbintenis aan jou en op die keuse wat jy maak. Die Bybel sê ons behoort aan mekaar so ons moet mekaar liefhê op grond van daardie verbintenis aan mekaar. Maar Jesus sê ook vir ons dat ons, ons vyande moet liefhê. Daar is egter nie daardie verbintenis tussen ons en ons vyande nie, dus moet ons die keuse doen om hulle lief te hê. Dis waar die DNA van Jesus ter sprake kom, want Hy ís liefde. Hy het mense lief. Hy sê hy die wêreld lief en daarom was hy bereid gewees om homself te gee sodat mense met hom verbind kan word.

As ek vir Therésa sou sê “Ek is lief vir jou” en sy sou vra “Hoekom?” dan is dit omdat sy meer van my liefde vir haar wil weet. Liefde gaan dan nie oor, of is nie gebaseer op wat mense doen nie. Dit gaan nie oor daardie eksterne dinge nie. As ’n mens verlief is, het dit te doen met daardie eksterne dinge. Ek raak verlief op jou omdat jy mooi of aantreklik of interessant is of omdat ons iets met mekaar in gemeen het. Later lei daardie verliefdheid daartoe dat ’n mens mekaar beter leer ken en dan raak die verhouding hegter en dieper en dan gaan die liefde later nie meer oor daardie eksterne dinge nie, maar dit gaan oor ons verbintenis aan mekaar.

So is ons as Christene mos ook aan mekaar verbind. Daarom gaan ons liefde vir mekaar nie oor wat jy doen nie, die eksterne goed waarvan ek hou of nie van hou nie, maar ons liefde vir mekaar gaan daaroor dat ons aan mekaar vasgemaak of verbind is.

Net soos wat ’n mens jou DNA moet beskerm, jou gesondheid moet beskerm, daardie eenheid – dit wat die selle aan mekaar hou, moet beskerm sodat daar nie mutasie plaasvind of ’n verandering plaasvind, of mense geïsoleer word en van mekaar verwyder word nie, net so moet ons, ons Christelike eenheid, daardie verbintenis wat ons met mekaar het, beskerm.

As jy op ’n verkeerde manier gesit het en jou arm (of voet of iets) gaan dood (PIN’s and needles) was dit omdat daardie arm geïsoleer was van die res van jou lyf en dit het ’n ongemak veroorsaak en die hele liggaam reageer daarop.

Aan die begin het ek gesê dat as jy veilig wil bly daar sekere dinge is wat jy moet dóén. So wat kan ons doen, om in hierdie tyd van isolasie met die lockdown, nie van mekaar geïsoleer en vervreem te word nie?

Ons moet nie gewoond raak daaraan om nie kerk toe te gaan nie!

Dis gevaarlik om gewoond te raak daaraan om nie kerk toe te gaan nie. Mis jou familie! Daar is vier dinge wat ons kan doen om dit reg te kry.

1. Bid vir mekaar.

a. Mariepskop Bediening familie

b. Wees lief vir mekaar ten spyte van ons verskille

c. Vir die geestelike groei van die gemeente – karakter van wie Jesus is

d. Dat Mariepskop Bediening familie sal toeneem – nuwe mense by God sal uitkom

2. Bel jou sellede.

a. Hoor hoe gaan die met hulle (Zoom). Moenie van mekaar vergeet nie. As jy nie by ’n selgroep betrokke is nie, raak deel van een. Skakel in by ’n groep mense waar jy kan groei. Mense vir wie jy kan lief wees en voor kan omgee. Mense met wie jy jou kennis kan deel en dit wat die Here met jou gesels kan “share”. Mense saam met wie jy kan werk om ’n verskil te maak in die omgewing ter wille van die koninkryk van die Here. Die Here het ons nie bedoel om in isolasie te leef nie. Ons het mekaar nodig vir ons groei.

b. Bid vir jou sellede.

i. Dat die Here hulle sal beskerm in hierdie tyd

ii. Dat die Here vir hulle sal voorsien (en hoe Hy jou kan gebruik om dit te doen)

3. Wees sensitief vir mense om ons se behoeftes.

a. Dit hoef nie altyd iets “groot” te wees nie, maar tog ’n behoefte (bv. WiFi)

b. Soek vir ’n geleentheid om iets te doen

4. Sluit aan by ons Faithlife gemeenskap (elektroniese platform waar ons besonder as gemeente met mekaar kan verbind). Hou jou epos dop vir die uitnodiging en as jy dit nog nie ontvang het nie stuur asseblief jou e-posadres vir my.

Hierdie is die dinge wat ons kan doen om gesond te bly, om nie van mekaar geïsoleer te wees terwyl ons in lockdown is nie.

Kom ons beveilig onsself maar ons beveilig ook ons geestelike welstand deur hierdie dinge te doen.

Kom ons help mekaar groei. Ons het mekaar nodig. Ons is deel van die liggaam van Christus.

Related Media
See more
Related Sermons
See more