Faithlife Sermons

So 22

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 1 view
Notes & Transcripts

Teksgedeelte:  1 Kor 15: 35-49

Teksvers:  1 Kor 15: 42-43

Tema:  God troos ons by die dood en daarna.

Heidelbergse Kategismus:  Sondag 22.

Dr AJ Krüger, Barberton

Geliefdes in onse Here Jesus Christus.

Die Christen se siening:

·      Van die dood

·      asook die lewe na die dood,

 is ‘n kardinale deel van sy geloof!

Die dood hou vir elkeen van ons ‘n mindere of meerdere mate van verskrikking en/of vrees in.

Dit is ook nie sonder rede nie:  want liggaam en siel is deur God geskep:

·      As ‘n eenheid

·      Iets wat saam hoort.

·      En die dood is niks anders as ‘n uitmekaarskeur van dit wat saamhoort.

Inderdaad sou die gedagte aan die dood onhanteerbaar gewees het as ons nie deur God getroos was in hierdie saak nie.  Nie net die vrees vir die dood onhanteerbaar gewees het nie;  ook die vrees vir die lot van die mens daarna:  want die mens het ‘n ewigheidsbesef.  Die mens weet dit in sy diepste wese: die dood is nie die einde nie!  Daar is meer. Die ewigheid wag op ons! En as die ewigheid nie met God ingegaan word nie, dan is dit ‘n groot, donker gat, wat vrees wek!

En daarom pak die Heidelbergse Kategismus hierdie saak op unieke wyse aan in Sondag 22:

Dit laat naamlik baie klem val op troos:

·      Watter troos gee opstanding...?

·      Watter troos skep jy uit die ewige lewe...?

Troos, by die hartseer, verbreking, verskrikking en vrees wat met die dood gepaard gaan!

Ja, troos sodat die verskrikking en vrees kan verdwyn en daar nie meer getreur word asof daar geen troos moontlik is nie!

‘n Noukeurige lees van die Heidelbergse Kategismus wys eintlik 3 sake aan wat bespreek word:

·      Troos deur die siel wat na die dood na Christus gaan

·      Troos van die opstanding van die liggaam en

·      Troos van die ewige lewe.

Ons gee vervolgens aan elkeen hiervan aandag.

Eerstens danTroos deur die wete dat my siel na die dood na Christus gaan.

Wat is die mens se siel?

·      Die mens se siel is niks anders as sy diepste wese nie.

·      Dit is die setel van die bewuste.

·      Dit is waarmee hy kontak maak met God en met my medemens.

Die Bybel noem hierdie essensie van die mens - wat die dier nie het nie –

  • terwyl die mens met sy liggaam verenig is, “siel”. Dus: tydens hierdie lewe.
  • Maar, na die dood word dit genoem “gees”.

Die gees is dus ‘n ontliggaamde mens hoewel dit in essensie dieselfde is as die siel. 

In die spreektaal gebruik ons die twee as sinonieme.

Dit is hierdie innerlike mens wat deur God met onsterflikheid beklee is, anders as die uiterlike mens of liggaam – wat sterflik is.

En dit is nou die eerste troos vir die gelowige wanneer hy by die dood staan:  sy eie,  of die van ‘n geliefde.  Daardie essensie van die mens gaan by die sterwe na God toe as die mens in Christus geheilig was.

Dus:  In gewone taal:  As hy/sy ‘n gelowige was.  Iemand was wat geweet het Jesus het vir sy sondes betaal aan die kruis.  En natuurlik:  Daarvolgens gelewe het as hy die tyd daartoe gehad het.  Want ja, dit is moontlik om ‘n lewe van ongeloof te leef, en op sterfbed tot bekering geroep te word.  En steeds gaan jou siel by die dood na God.  Onmiddellik!

Kan jy sien, br/sr?

Troos!

Genade!

Want die ongelowige se siel is onmiddellik in die hel. In die ewige verderf.  Sonder kans op bekering. 

Hierdie Bybelse waarheid plaas ook ‘n groot verantwoordelikheid op mens wat Evangelie hoor. Want geen mens ken die dag sy sterwe nie.  Die saak met God en jou siel kan dus nie maar uitgestel word tot “eendag” nie!  Nee!  Nóú is die dag.  Nóú is die geleentheid.  Die Heilige Gees wek jou nóú, vandág, op tot bekering, geloof en ‘n heilige lewe!  As’t ware ‘n lewe wat ‘n skadubeeld is van die lewe wat aanbreek met die wederkoms van Jesus.

Tweedens: Troos deur opstanding  van die van die liggaam:

Daar is ‘n miskonsepsie (wat nog van die ou Griekse filosofie kom) dat die mens se siel alleen belangrik is.  Dat die liggaam onbelangrik is.  Niks kan egter verder verwyder wees van die Bybelse waarheid nie!

Nee!  Die mens se liggaam is belangrik.  So belangrik dat God selfs ons liggame – wat in graf weggebêre is – op ‘n dag in die toekoms (met die wederkoms) sal opwek!

Dit is om hierdie rede dat die Christelike begrafnis ‘n belangrike deel uitmaak van ons geloofslewe.

Ons leef in ‘n tyd waar daar al meer en meer aandrang is op verassing (spasie vir grafte is min, ens).  Verassing spreek egter ‘n siening wat sê dat die liggaam onbelangrik is.  Eintlik:  Veragting van die liggaam.  Want jy onderwerp dit (simbolies) aan die lot van die liggaam van hulle wat in die helse vuur gewerp word.  Jy verbrand dit.

Daarteenoor sê die Christelike begrafnis:  Ons het die vertroue, die troos, dat ons geliefde, wie se liggaam vir God belangrik is, ook liggaamlik weer gaan opstaan.

Die Skrif vergelyk dit met ‘n koringkorrel in die grond.  Niemand sal dink dat die koringkorrel en koringaar dieselfde lyk nie!  Só verskil ons huidige liggaam van die verheerlikte liggaam van eendag. Maar die essensie van die twee bly dieselfde.

Daarom:  Die begrafnis is ‘n weglê van iemand  met die hoop op die opstanding in ‘n verheerlikte liggaam.  Sonder die pyn, smart en aanvegtinge van hierdie lewe.  “Verheerlikte” beteken: gelykvormig aan die liggaam van die opgestane Jesus.

Die tempel van die Heilige Gees is inderdaad nie minderwaardig nie, maar by God belangrik.

En derdens: Ons het as gelowiges ook die troos van die ewige lewe.

Hiermee word verwys na die wederkoms van ons Here Jesus Christus.

Op dáárdie dag, in ‘n oogwink, sal die opgewekte herskape liggaam herenig word met die siel.  En dan is die nuwe hemel en nuwe aarde ons erfenis.

Die nuwe aarde waarvan die Bybel praat is niks anders nie as hierdie einste aarde wat ons nou bewoon.  Maar ook dit word deur God herskep. En, bevry van die sonde en die mag van die sonde, sal ons híér tot in ewigheid saam met God woon, in sy teenwoordigheid, weer soos in die paradys. 

Om dan volkome toegewyd tot sy eer te leef.  Uit Hom, deur Hom en tot Hom.

‘n Vreugdevolle diens.  Nie meer (soos nou soms) uit verantwoordelikheidsbesef nie, maar volkome toegewyd, vol van vreugde in ons God. 

Want die sonde sal ons nie meer kan wegtrek van ons lewensdoel nie. Die versoekinge van hierdie lewe bestaan dan nie meer nie.

Geliefdes,

Die dood het sy mag verloor.

Dit het ons laat sidder, maar nou laat dit ons nie meer bevrees nie, want ons is deur God getroos!

Hy droog self ons trane af.

Amen.

Related Media
Related Sermons