Faithlife Sermons

Rom 15 hemelvaart

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 11 views
Notes & Transcripts

Teksgedeelte:        Jer 7: 1 – 11; Hand 9: 1; Rm 15: 1 – 6
Teksvers:              Rm 5: 3b – 5a; 15: 4

Tema:                             God gee hoop
Kategismus:                   -----------

Geleentheid:         Hemelvaart (Gesamentlik met Benoni-Noord)

1.     Votum

2.     Groetseën

3.     Loflied: Sk 5-3: 1, 4, 5

4.     Gebed

5.     Psalm 42: 3, 4, 5, 7

6.     Skriflesing

7.     Preek

8.     Sk 18-6: 1- 5 (beurtsang)

9.     Slotseën


 

Handelinge 1: 6 – 11

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” 7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” 9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Romeine 5: 1 – 11

5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het...

Romeine 15

15 Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” b 4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.


Liewe broers, susters en kinders

1.     Dit is asof mens meer en meer te make kry met mense wat moed-loos geword het.  En ek praat nie van mense daarbuite, wat niks van God weet nie. Nee, kerkmense, gelowiges.  Dit lyk vir my of daar veral twee terreine is waarop hierdie moed-loosheid sigbaar word:

1.1.         Die eerste is landsomstandighede.  Dit is asof die hekke van die hel oop is!

·        Mense wat nie wil staak nie word van treine afgegooi

·        Kinders word verkrag en vermoor

·        Moorde haal nie eers meer die voorblaaie nie, en baie moorde bly onopgelos

·        Asof geweld toeneem by misdade

·        Regstellende aksie maak dat mense werk verloor, besighede begin wat nie slaag nie, en op die einde alles verloor

·        Ons kinders kry nie werk nie, selfs met naskoolse opleiding

·        Vlakke van dienslewering is soms pateties, veral by staatsdepartemente.

·        Voeg daarby nog die morele verval wat soos ‘n vloedgolf oor ons trek – die Here se Naam, Sondae wat nie meer Sondae is nie, dobbel, aborsies, pornografie, ens! 

·        VIGS

·        Hoe hierdie goed ons raak word sigbaar in die groot uittog uit SA.

1.2.         Maar die ellende is nie net algemeen nie – sommige van die landsdinge raak ons persoonlik – wie het nie vriend of familie wat nog nie slagoffer van misdaad was nie? Of weet nie van iemand wat verarm omdat hy/sy nie werk kry nie.  Maar dan is daar ook nog

·        siekte, chronies, akuut, terugkerend,

·        dood van geliefdes,

·        depressies,

·        kinders wat verkeerde paaie loop,

·        armoede, ens

1.3.         Ja, al hierdie dinge werk saam dat mense moed-loos word, en selfs vra: waar IS die Here, het Hy ons gelos, is Hy werklik in beheer? Hoekom is dit só? Móét dit so wees?

2.     Geliefdes,

2.1.         Eerstens moet hierdie dinge ons nie verbaas nie!  Die Bybel is vol van waarskuwings –

2.1.1.  dat die mensdom van kwaad na erger sal gaan.  Jesus praat oa daaroor in Mk 13: “7 Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. 8 Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” En so nog vele ander plekke – Rm 3 leer ons oor die mens: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. 13 Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. 14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. 16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie, 17 en die weg van vrede ken hulle nie. 18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.”

2.1.2.  dat die sondeval siekte, dood, armoede en ellende tot gevolg het (Gen 3: 16vv) “16Vir die vrou het die Here God gesê:

“Ek sal jou baie swaar laat kry

met jou swangerskappe:

met pyn sal jy kinders

in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker,

en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

is die aarde deur jou toedoen

vervloek;

met swaarkry sal jy daaruit

’n bestaan maak,

jou lewe lank;

18die aarde sal vir jou dorings

en dissels laat uitspruit,

en jy sal veldplante eet;

19net deur harde werk sal jy kan eet,

totdat jy terugkeer na die aarde toe,

want daaruit is jy geneem.

Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

2.2.         Ja, die Bybel sien dit as ‘n feit dat daar allerhande ellende op die mens se pad sal kom.  En dan lees ons so ‘n onbegryplike ding soos wat Paulus in (Flp 4: 4 ) sê: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” En in I Tss 5: 16 “Wees altyd bly”.  

2.2.1.  Hoe kan dit wees? Ons is in die diepste ellendes van moed-loosheid, maar ons moet bly wees?  Daar is veral drie redes waarom dit wél so is wat ek vanaand wil uitlig.  En al drie gaan oor ‘n boodskap wat die Here aan ons gee.  ‘n Herinnering.

2.2.1.1.    Sommige van julle sal onthou hoe daar jare gelede sekere plakkers op karre aangebring was.  “My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis” (Hos 4: 6).  En “...as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor...” (II Kron 7: 14).   Daardie plakkers was erg uit konteks gebruik – want die volk waarvan daar sprake was, was Israel, nie RSA, en nog minder blanke Afrikaners.  Maar die boodskap van daardie tekste staan vandag nog net so vir die Nuwe-Testamentiese kerk!  Inderdaad moet die kerk weer kennis opdoen, moet die kerk weer verootmoedig.  En hemelvaart spreek van hierdie kennis en verootmoediging.  Laat hierdie hemelvaart daarom nie vir ons maar net nóg ‘n erediens wees nie, maar laat ons besin oor wat die boodskap vir ons is.

2.3.         Die eerste les wat ons moet leer uit teëspoed is dat dit by ons volharding skep.  Eintlik, soos ons dit gelees het in Rm 5: “swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop...”. 

In ons manier van praat gebruik ons “hoop” as ‘n woord om iets wat onseker is te beskryf.  Ek hoop dit reën, ek hoop jy word gesond.  Maar hoop in die Bybel is iets anders – dit is iets waarvan jy seker is, maar jy weet net nie wanneer en hoe dit gaan realiseer nie.  Die Here sê dus: In hierdie lewe is daar allerlei ellende – oorloë en gerugte van oorloë, siekte, dood, pyn, werkloosheid, ens.  Maar jy – as Christen – moet weet dat jy niks self kan doen om hierdie dinge te oorkom nie – dit is Ek, jou God – wat vir jou redding bring – wat vir die mensdom die antwoord bied.  Ja, lyding leer ons om op die krag van God staat te maak. Omdat ons sy kinders is in Christus, daarom weet ons Hy sal uitkoms gee – ons moet net geduldig op Hom wag.  Hoor hoe sê I Kor 10: 13 dit: “13Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan”.  En luister na II Kor 4: 7vv 7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 8In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

2.3.1.1.    Die vraag is dus na jou reaksie in lyding – wil jy wraak neem op mense, God verloën?  Nee, dit sal nie deug nie – gebruik sy krag om te oorwin – nie noodwendig gesond te word, of ryk te word nie, maar om te groei in geloof en hoop.  Toets God – jy sal sien hoe sy vrede van jou besit neem.

2.3.2.  Die tweede ding waaraan lyding ons herinner, is dat ons Here Jesus in die hemel is, en Hy ons as’t ware agtergelaat het met ‘n doel.  Eintlik: ‘n tweërlei doel.

2.3.2.1.    Ons het gelees daarvan in Hd 1.  Ons moet sý getuies wees.  Wanneer ‘n kerk na binne gerig raak, selftevrede, dan het hy nie meer ‘n hart vir hulle wat swaarkry nie.  Nie medelidmate wat swaarkry nie, en ook nie ‘n stukkende wêreld daarbuite nie. 

2.3.2.2.    Waarvan moet ons getuies wees as ons dan self so swaarkry?  Wel, juis van die feit dat die enigste hoop, ware hoop, by God te vind is.  En daardie hoop kan net by mense lewe as hulle weet van die gevallenheid van die mensdom, maar terselfdertyd van die offer wat Jesus gebring het om daardie gevallenheid op te hef vir die gelowiges.  Ja, dit is ‘n evangelisasie-opdrag!  Terwyl mense God nog nie in Jesus leer ken het nie, lyk alle lyding vir hulle nutteloos en waardeloos.  Bloot ‘n draai van die geluk teen hulle.  Maar wanneer hulle besef dat lyding meewerk om vertroue op God te skep, dan is daar sin in lyding.  Dán verstaan ons waarom Jesus gely en gesterf het – en waarvoor Hy opgestaan het.  As ons op hierdie manier getuig van die sin van lyding, dan word ons waarlik ‘n sout en ‘n lig, soos Jesus in Mt 5 leer ons moet wees. 

2.3.2.3.    Maar Jesus het ons ook agtergelaat as sý hande en voete.  Onthou sy woorde in Mt 25:31vv 31 EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38 En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. 41    Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. 42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 43 Ek was ’n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ’n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. 46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

Geliefdes,

Ek wonder soms of ons régtig verstaan wat van ons verwag word?  Jesus wil hê dat ons mense in nood bystaan soos wat Hy sou gedoen het as Hy in die straat afgeloop het – of in die townships met armoede, VIGS, moord, ens.  Hy wil dat óns die bedienaars van die hoop sal wees.  In sy naam.  Maar as ons teen ons eie ellende – en ek minimaliseer dit nie, ons nood is dikwels erg en is ook traumaties – vaskyk, dan het ons net begin om onsself jammer te kry.  En dan is ons nie meer nuttig vir die Here nie.  Eers as ons “bedienaars van die veelvuldige genade van God” word (I Pt 4: 10), kan ons Jesus se hande en voete word!

2.3.3.  Die derde ding waaraan lyding ons herinner, is dat ons nie al te verknog moet raak aan hierdie lewe nie!  Totius het mos gesê: “Die wêreld is ons woning nie”.  Vra jouself maar af of jy nog ‘n ewigheidsbesef het.  Hierdie lewe op aarde is maar kort in vergelyking met die ewige lewe wat God vir ons gegee het.  ‘n Oogwink.  Ons is op pad na die ewige woning, wat op hierdie oomblik deur Jesus vir ons in gereedheid gebring word (Jh 14: 2, 3).  Toe die dissipels nog so stomgeslaan na die hemele staar waarin Jesus opgestyg het, word daar vir hulle gesê: “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het”.  Hemelvaart herinner ons aan hierdie verwagting.  Jesus kom terug.  Dán breek die nuwe hemel en nuwe aarde aan.  Dán het ons ons woning bereik.  Op 21: 9vv  9 EN een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. 10 En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; 11 en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ’n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. 12 En dit het ’n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.

2.3.3.1.    Die Nuwe Testament sluit af met “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!“ Die hemelvaart plaas hierdie wens en perspektief weer in ons hart – maranata! Die Here het gekom, kom tog gou weer.

3.     Geliefdes

3.1.         Inderdaad kom die landsomstandighede en persoonlike ellendes nie net op die pad van goddeloses nie – ook op die pad van kinders van die Here! Uit Jh 15: 2 leer ons dat die Here juis hierdie moeilike tye gebruik om ons reg te snoei – sodat ons meer vrugte vir Hom sal dra.  “...elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra“. 

3.1.1.  Hoop-loosheid praat op ‘n manier van ongeloof en ongehoorsaamheid!  Want dit impliseer dat jy God uit die oog verloor het.  Jy sien nie die snoeiende hand van ‘n liefdevolle Vader raak nie, maar ‘n wrede noodlot wat jou kasty.  Dan kan jy nie meer op die Here vertrou nie. Jy leef nie meer vir jou Koning nie, maar in selfbejammering.  Jy getuig nie. En jy het uitsig verloor op die betekenis van die hemelvaart – dat Jesus besig is om plek te berei vir ons – en terugkom!  Hoop op God – Hy gee definitief uitkomste – ons weet net nie altyd wánneer en hóé Hy dit doen nie.  Maar die hoop beskaam nie. Dit is God se belofte. 

Amen


----

b Vgl. Ps. 69:10

Related Media
Related Sermons