Faithlife Sermons

Hoofstuk 4 V 14vv

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 2 views
Notes & Transcripts

Oggenddiens gehou op 25 Januarie 2004

Prediker:         Dr Braam Kruger


Liturgie:

Ontmoetingsdiens

Votum : Sing Ps 133 : 1,2

Groetseën

Loflied : Sing Ps 146 : 1

Geloofsbelydenis : Sing Sk 12-3 : 1,2

Verootmoedigingsdiens

Sing Ps 25 : 4

Lees Ex 20

Lees Ef 5 : 6 - 11

Sing Ps 25 : 5

Woord- en gebedsdiens

Gebed

Sing Ps 33 : 5

Skriflesing : 1 Kor 4 : 14 – 21

Antwoorddiens

Gebed

Kollekte

Sing Ps 117 : 1

Slotseën

Sing Sk 13-3


 

Opsomming

Paulus praat hier van Christene was sy “kinders” is, en sy voorbeeld moet navolg.  Ons kan dit noem : Mentorskap.  Mentorskap is om iemand te begelei – nie net om kennis op te doen nie, maar ook wysheid en insig.  Christene is veronderstel om op hierdie manier mentors te wees.  Dit impliseer dat ons geestelike kinders moet hê, moet uitgaan om hulle te soek.  En daarna moet jy deur jou voorbeeld wys hoe om God te dien.  En soms sal dit nodig wees om jou geestelike kinders tereg te wys.  Dit sal baie anders wees in die kerk as ons hierdie beginsel weer toepas!

Prediking

Teksvers : 1 Kor 4 : 15b

Paulus sê vir die Korinthiërs dat hy hulle vader is, in Christus Jesus.

Liewe Broers, Susters en Kinders,

Mentorskap is waaroor dit gaan in hierdie gedeelte.  Mentorskap – hoe om vir iemand ‘n mentor te wees.  Nou sal ek vir die kinders verduidelik wat ‘n mentor is – ons grootmense weet mos almal.  ‘n Mentor is ‘n ervare of ‘n wyse persoon wat iemand begelei in sy opleiding, sy opvoeding, in sy lewe. Mentor hou verband met die Latynse woord “mens”, wat verstand beteken.  Mentorskap gaan dus oor die oordra van kennis en insig.  ‘n Mentor is iemand wat wyser is, wat ervaring het, wat iemand anders as’t ware onder sy vleuels vat en hom deur hierdie lewe help op een of ander terrein.  In die gewone lewe sal dit byvoorbeeld wees dat ‘n student ‘n mentor het – dit is een van sy professore, by wie hy nie net feite kennis leer nie, maar by wie hy ook insig bekom, wysheid bekom, in sy vakgebied.  Of baie keer is daar in ons grootword, in ons lewens, iemand na wie ons opsien – ‘n oupa, of ‘n oom, of pa of ma, of wie of wat ook al na wie ons opsien, en daardie persoon het eintlik ‘n geweldige invloed op ons lewens.  Ons kan so iemand ‘n rolmodel noem.  En daardie persoon leer ons dan die lewe verstaan.  Dit is ‘n mentor – iemand na wie jy opsien en wat jou help, lei en begelei.

Nou weet ek dat ons so twee weke terug omtrent ook oor hierdie saak gepraat het.  In ‘n ander konteks.  Maar toe was dit in Titus, waar ek gelees het oor hoe die ouer mans in die gemeente hulle moet gedra teenoor die jonger mans en die ouer vroue hulle moet gedra teenoor die jonger vroue.

En nou gaan ons weer aan met die reeks uit 1 Korinthiërs.  Twee weke terug het ek hieroor gepreek en nou maak ek oop om aan te gaan, daar waar ek gestop het by 1 Korinthiërs.  En waarlikwaar, hier is dit al weer oor die saak van mentorskap.  Al is dit dan uit ‘n ander hoek uit.  Nou moet ek sê – aanvanklik toe ek dit nou lees, toe dink ek, nee wat, hierdie gedeelte kan ons nou maar oorslaan uit 1 Korinthiërs 4, dan gaan ons met 1 Korinthiërs 5 aan.  Ons het mos al gepraat oor mentorskap, en dit nogal net twee weke terug.  Toe besef ek, maar miskien wil die Here juis hê dat ons weer ‘n keer hieroor praat uit ‘n ander hoek.  Maar dat ons weer daaroor praat, sodat ons hierdie saak regtigwaar goed kan inneem, want dit is ‘n onsettende belangrike saak.  As ons dit werklikwaar inneem, dan sal ons ook daders van die Woord kan wees.  Want dalk het ons twee weke terug nog vakansie gehou of dalk het ons twee weke terug nie so mooi geluister nie.

So, kom ons luister vanoggend weer na wat die Here sê oor mentorskap en daarom ook die tema van die preek – “Nog ‘n keer – Mentorskap”. 

Nou Broeders en Susters, kom ons kyk na die perspektiewe wat God vir ons gee oor mentorskap uit 1 Korinthiërs 4, vanaf vers 14.  Wanneer ons hier lees dat Paulus sê dat hy die Korinthiërs se vader is, laat dit ‘n mens eintlik nogal onwillekeurig dink aan Jesus se woorde in Mattheus 23 : 9.  Hier kom Paulus en sê ek is julle vader, maar in Mattheus 23 staan daar, wat Jesus se eie woorde is, “Moet niemand op hierdie aarde as vader aanspreek nie, want Een is julle Vader, die Vader in die Hemel.”  Nou wil ‘n mens jouself afvra – is Paulus darem nie ongelooflik voorbarig nie?  Is hy nie darem “wintie” nie?  Is hy nie eintlik sondiglik hoogmoedig nie?  Jesus sê moet niemand vader noem nie en hy sê ek is julle vader. 

Nee, dit is nie wat hier gebeur met Paulus nie.  Jesus het gepraat met die Fariseërs en die Skrifgeleerdes, wat eintlik goddelike eer aan sekere mense toegedig het.  So, as ek dit mag verduidelik met ‘n voorbeeld.  Het julle al gesien hoe maak hulle met die pous? Die Roomse  spreek hom aan as vader.  Pous beteken pappa, vader.  Het julle al gesien – die pous loop daarso en dan kom iemand agterna en dan soen hy die grond waarop die pous geloop het.  Ha, wie wil dalk eendag die grond soen waar ek geloop het?  Maar dit is waarvan Jesus praat – dat jy nie iemand op daardie manier as vader sal aanspreek nie.  En dit is glad nie waarvan Paulus hier praat nie.  Maar hy praat wel van ‘n geestelike vader wees in die sin van juis ‘n mentor wees.  Daarom praat hy van julle Vader in Christus Jesus.  Drie keer sê hy dit.  Hy matig hom niks aan nie – hy sê drie keer : In Christus Jesus, in die Here.  Waarop Paulus aanspraak maak, en waarop hy selfs trots is, is die feit dat hy deur die Here gebruik is om die Korinthiërs na God toe te lei.  Daarom sê hy in vers 15:  Ja, julle het baie leermeesters gehad, julle het baie mense nou al gehad wat vir julle vertel het van die Bybel en vir julle gepreek het, en wat ook al.  Maar ek, Paulus, en dalk enkele medewerkers, was hulle wat julle aanvanklik na die Here toe gelei het.  Ons, Paulus en dalk ‘n paar ander, is die wat kan sê:  “Ek het julle aan God, in Jesus Christus, voorgestel.” 

En nou moet ons onthou – Mentorskap is lewensbegeleiding.  Dit is nie net feitekennis nie, maar dit gaan ook oor wysheid.  En dit is dan ‘n geweldige voorreg om deur God gebruik te word op hierdie wyse.  Dit is ‘n wonderlike voorreg as God jou wil gebruik om ‘n mentor te wees vir iemand!  Soos wat Paulus hier was.  Vra maar vir enige een hier wat al die voorreg gehad het.

As daar iemand in jou lewe is, wat deur jou toedoen, deur die krag van die Heilige Gees natuurlik, God as Vader, in Jesus Christus, leer ken het, dan sal jy weet hoe spesiaal is daardie persoon vir jou.  As jy ‘n vriend het, ‘n familielid, of wie ook al, en ons eie kinders geld ook daaronder natuurlik.  Maar dit is ‘n geweldige ryk ervaring om te kan sê die Here het my gebruik dat ere het my gebruik Piet of Koos of Klaas of Sannie of dié ene die Hom leer ken het.

En dit bring ons dan onmiddelik by die eerste vraag waarmee ons ook gekonfronteer word.  Beskou ons - want elkeen van ons wat hier sit, is basies ‘n gevestigde Christen – beskou elkeen van ons onsself as mentors?  As mentormateriaal?  Is dit hoe jy aan jouself dink?  Dat jy tot God se beskikking is om ‘n mentor te wees vir ander mense?  Ons móét so aan onsself dink!  En die opdrag kom nie na ons toe net ten opsigte van ons kinders nie, maar ook ten opsigte van mense wat buite die koninkryk van God is. 

Broers en Susters, verstaan julle, verstaan ons, dat ons ‘n taak het – ‘n Goddelike opdrag – ‘n ereplig in hierdie verband, naamlik om ‘n mentor te wees vir God of in God se diens.  Ek is bevrees dat ons al so besig geraak het met ons eie dinge.  Te sorg dat ons betalingstjek daar is, besig met ons ontspanning, besig met liefdadigheid, besig met ‘n klomp dinge vir ons kinders, of wat ook al.  Dat ons nie eers meer daaraan dink dat die Here ons eintlik roep on mentors te wees in hierdie lewe. 

En nou net so dat die susters wat hier sit nie nou kan hulle oë toemaak en rustig word nie en dink ons praat net met die mans nie.  In 1 Thessalonisense 2 : 7 sê Paulus dat hy ook soos ‘n moeder is vir sy bekeerlinge.  Mentorskap is vir mans en vroue - vir broers en susters bedoel.  Daarom – elke Christen het hierdie roeping om as mentor op te tree vir iemand.

Inderdaad is dit dan ook so dat daar kerke is waar dit selfs geformaliseer is – waar daar ‘n amptelike mentorsprogram bestaan.  As daar ‘n nuwe intrekkers kom, word daar vir hom gesê jy word toegeken aan hierdie gesin en hierdie gesin gaan vir jou sorg vir die volgende ses maande.  Hulle gaan vir jou kom besoek, hulle gaan vir jou kom verduidelik, hulle gaan jou kom oplaai as jy probleme het met vervoer.  Of as daar mense is wat nuut opgeneem word, mense wat belydenis van geloof afgelê het, dan word hulle aan ‘n gesin toegewys wat hulle mentors is.  Wat hulle moet inlei en inbegelei in die gemeente in.  So word daardie mense dan gelei tot verdieping en toewyding.

‘n Mens sal inderdaad ook die vraag moet vra of die swak toestand in ons kerk t.o.v. die gebrek aan geestelike groei, die gebrek aan heiligmaking, die swak betrokkenheid, die swak koinonia, die gebrek aan volharding – ‘n klomp probleme wat in ons kerk onstaan – nie juis ontstaan omdat ons nie meer as mentors optree nie. 

Ons kla oor koinonia wat gebrekkig is, ons kla oor mense wat uitval uit die kerk uit.  Ons kla en is ongelukkig oor mense wat nie volhard nie en die vraag wat gevra word deur die Here vanoggend – Is dit nie omdat ons nie bereid is om as mentors vir ander op te tree nie?

Daar kom iemand in die gemeente in en dan moet hy homself maar vind hierso.  En as hy homself nie kan vind nie, dan verdwyn hy weer.  Maar ons is veronderstel om mentors te wees.  Daardie persoon selfs gaan haal, ons moet hom bel, ons moet hom bemoedig, ons moet hom besoek.  Ek weet ons is besig, maar as ons ons oë gerig hou op die Koninkryk van God, dan sal ons besef hoe waardevol hierdie mentorskap in God se oog is.  En hoe waardevol dit is vir hulle wat deur jou begelei word.  Maar selfs ook vir jouself om iemand so onder jou vleuels te neem. 

En dan wil ek kortliks net wys op drie aspekte van hierdie mentorskap wat Paulus verder uitlig:

 

Die eerste is dat ons veronderstel is om geestelike vaders en moeders te wees.  Kyk, eintlik is dit baie maklik om te verstaan.  ‘n Mens kan ‘n man wees sonder om kinders te hê.  Verstaan julle dit?  Jy kan ‘n man wees sonder om kinders te hê, jy kan ‘n vrou wees sonder om kinders te hê.  Maar jy kan nie ‘n pa wees sonder kinders nie en kan nie ‘n ma wees sonder kinders nie.  As jy nie kinders het nie, is jy nie ‘n pa of ‘n ma nie.  En God wil hê dat ons geestelike vaders en moeders moet wees.  Nie net susters en broers nie, maar vaders en moeders.  En ons is nou wel nie Paulusse nie, en ons is nie almal sendelinge nie, maar elkeen van ons is in wese ‘n Evangelis.  ‘n Evangelis is iemand wat deur woorde, dade en voorbeelde ander mense bewus maak van God.  En bewus maak van God se liefde vir mense in Jesus Christus.  Ek bedoel nie ons moet die werk van die Heilige Gees doen nie, maar bedoel wel ons moet beskikbaar wees as instrumente van die Heilige Gees.

En daar is baie maniere waarop ons so geestelike kinders kan verwek.  Ons het reeds genoem ons eie kinders.  Ons eie kinders moet nie net fisies grootgemaak word nie, maar hulle moet as Verbondskinders opgevoed word sodat hulle die Here kan ken. 

Ons het in hierdie gemeente die gebruik van gastedienste begin.  Uitreikingsdienste.  Eerste Sondag van elke maand – bring ‘n vriend saam, ‘n vriendin.  Bring iemand saam wat jy weet dit sal waardeer om weer in die kerk te wees.  Maar die reaksie is so swak, ons bring net niemand saam nie. 

Maar weet jy – die Here sê “Moenie bang wees oor wat julle sal sê nie, as mense wat met julle wil stry en baklei nie.  Die Heilige Gees sal julle bystaan.  En ek daag jou uit, in die naam van die Here, gaan nooi iemand uit.  Gaan na hom en sê ons het Sondagoggend erediens, ek nooi jou saam.  Die Here stel nie belang in jou skamerigheid, die Here stel nie belang in jou “hang-ups” nie,

Hy sê vir jou:  Bring!  Bring!  Volgende Sondag is Gastediens.

Ons kan in persoonlike gesprekke met familie en met kennisse, medewerkers - ja, orals – evangeliste wees.  Ons kan aansluit by mense se nood, maar dit kan natuurlik alles net gebeur as ons self saam met God leef.  As ons self God se hand raaksien in ons lewe en in ons nood.  Ons moet getuig van God se groot dade en dan sal ander ook na Hom soek.

En vir die kinders hier - jy is ook bedoel om ‘n mentor te wees.  Ja.  Jy kan jou maats nooi na die kerkperiode of na die katkisasie of na die kerk, of wat ook al.  Maar die manier waarop jy optree by die skool is ook al deel van jou inoefening van mentorskap. 

Die tweede riglyn uit hierdie gedeelte uit is om ‘n voorbeeld te wees, wat sterk hierby aansluit.  ‘n Baie belangrike aspek van mentorskap - om ‘n voorbeeld te wees.  Dink maar aan ‘n kindjie.  Party van julle is al ouer, met die kinders uit die huis uit.  Ek sou dit ook al vergeet het as ek nie ‘n kleinkind in die huis gehad het nie.  Maar dink ‘n aan ‘n babatjie, daardie kleintjie.  As sy pa en ma die kamer inkom, dan volg daardie ogies, volg selfs vir oupa of ouma - volg die ogies.  Kyk wat jy doen.  Sien ek by daardie kleintjie van my, gister daar en hy is stout.  Ek slaan so op die tafel dat hy moet skrik, toe slaan hy terug op die tafel.  Volg my voorbeeld.  Hy volg my voorbeeld.  Daarom sê Paulus in vers 6 - “Volg my voorbeeld.”  Weet jy, dit is so interessant met die kinders.  Soos wat ‘n mens ouer word, sien jy hoe word jou kinders soos jy.  Weet jy wat is die slegste vir die kinders - Hulle het altyd gesê - Ooooe, ek gaan nooit so doen soos my pa of ma nie.  Ek sal waarlikwaar nooit so wees nie!  En dan kom hulle en dan is hulle 20 en 30 en 40 - sê die ou gryse pa en ma - Onthou julle wat het julle gesê - ons sal nooit soos pa en ma wees nie en op ‘n dag sê julle - ek maak net soos pa, ek maak net soos ma.  En ek het gesê ek gaan dit nie doen nie!  Ek het gesê ek gaan nooit so wees nie.  Of as jy jou kom kry, dan sê iemand - weet jy, jy lyk of is net soos jou pa, net soos jou ma.  Jy aard na jou pa of jou ma.

En dit is die basiese prinsiepe van mentorskap - Ons moet die voorbeeld stel aan ons geestelike kinders.  Wat ‘n groot verantwoordelikheid!  Watter geestelike eienskappe gaan hulle vertoon wat vir jou dophou.  Dink ‘n bietjie vir ‘n oomblik.  Watter geestelike eienskappe gaan die mense vertoon wat jou, wat hier sit vanoggend, dophou.  Gaan hulle vol van liefde wees vir God en hulle naaste?  Gaan hulle moreel, eties, onkreukbaar wees?  Daar sal nooit ‘n vinger na hulle gewys kan word nie?  Hulle sal nooit lieg nie, hulle sal nooit steel nie, sal nooit losbandig wees nie, sal nooit dronk wees nie.  Hulle gaan gereeld Bybel lees en bid.  Hulle gaan gereeld die eredienste bywoon, sommer in die oggend en in die aand.  Gaan hulle offers bring, ook geldelik, vir die Here?

Of gaan die mense wat vir jou volg maar so mildelmatig wees?  Effe onbetrokke, effe onwillig, effe onbetroubaar.  Kan ek met vrymoedigheid vir iemand sê - Volg my voorbeeld.  Volg my voorbeeld in my diens en jou diens aan die Here en dan sal hy die beeld van God vertoon?  Paulus is eintlik besig om met die Korinthiërs te raas hier.  Hy sê in vers 17 dat hy vir Timotheus, sy geliefde en getroue seun, na die Korinthiërs toe sal stuur.  Paulus was ook Timotheus se mentor.  Maar hy sê eintlik daar vir hulle, julle, Korinthiërs, julle is ‘n klomp ontroue volgelinge, kinders.  Julle is nie sulke getroue en geliefde nakomelinge of navolgelinge soos wat Timotheus is nie.  My mentorskap het julle nie mee erns gemaak nie.  Julle het nie positief gereageer nie, maar ek stuur vir Timotheus, sodat hy weer vir julle as ‘n mentor kan optree en julle kan sien hoe dit moet wees.  Paulus sê julle is eintlik ‘n klomp rebelse kinders.  Ons stel vir julle ‘n voorbeeld, maar kyk hoe leef julle, wat doen julle.

En daarom is dit ook so dat ons soms weet in hierdie lewe dat ons die wonderlikste mentors kan wees, maar die mense volg ons nie.  Ons ervaar dit wanneer ons kinders rebels raak.  Maar dit bly dan op die ou end ons elkeen se verantwoordelikheid voor die Here.  Neem nie ons eie verantwoordelikheid weg ten opsigte van ons naaste nie of hulle die hele tyd struikel of val nie.

Dit bring ons by die laaste van hierdie beginsels oor die geestelike mentorskap.  Dit is soms harde werk.  En dit is soms ondankbare werk.  Soms voel dit vir jou na tevergeefse werk.  Maar selfs dan moet jy ook geestelike dissipline handhaaf (vers 18 - 21).  Paulus spreek die Korinthiërs hier aan.  Hy kyk nie maar net anderpad en was sy hande in onskuld nie.  Hy gaan na die punt toe.  Hy spreek die probleem aan.  By die Korinthiërs was dit verwaandheid en baie praat en niks doen nie.  Juis dieselfde beginsel as wat Jesus aanspreek in Mattheus 18.  “As jou broer oortree, gaan wys hom tereg.”  Mentorskap beteken dat ons mekaar se oppassers, mekaar se hoeders, is.  Dit staan ook in Galasiërs 6:1 “As een van julle in sonde val, moet julle so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp”.  Dit is mentorskap.  Om na mekaar uit te kyk.  As jy sien daar is iemand wat op ‘n afgrond afstap, dan los jy hom mos nie?  Want jy is ‘n mentor.

Ons moet onsself dalk ‘n vraag vra.  Hoekom sal mense sê “Chips, daar kom die dominee”?  Maar hulle sê nie “chips” daar kom lidmaat so-of-so nie.  Antwoord daardie een.  Hoekom sê julle, “Chips, hier kom die dominee”, maar as Piet of Koos of Klaas wat lid is van ons gemeente, in die geselskap aankom, “Ha, lekker, hier is hy ook”?

Maar broeders en susters, ons as gelowiges moet die vrymoedigheid hê om om te sien na ons medegelowiges.  Nie omdat ons beter is as ander nie, maar omdat ons omgee vir mekaar.  Die sonde wat toegelaat word om voort te bestaan, word uiteindelik ‘n sweer, ‘n kanker, wat jou hele lewe bedreig.  Mentorskap beteken dat jy nie altyd “Mr Nice Guy” kan wees nie.  Maar dat jy brand van ywer vir die Here en gloei van liefde vir jou naaste.

Sal jy toekyk dat jou eie kind homself verbrand, verdrink, seermaak, en niks doen nie?  Mentorskap beteken om te help, al is dit deur op die sonde te wys.  Is jy op hierdie manier ‘n mentor vir ander Christene?

Geliefdes, vers 20 - “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag.”  Dit is maklik om te praat van Jesus, dit is maklik om te praat van Liewe Jesus, maar as daardie praat nie oorgaan in dade nie, is die krag van die Heilige Gees nie in ons nie en leef ons nie binne die koninkryk van God nie.  Kom ons wees dan kragdadige mentors - soek iemand vir wie jy ‘n geestelike pa of ma kan wees.  Ja - soek - hou jou oë oop.  Gaan uit jou pad uit, gaan soek iemand vir wie jy ‘n mentor kan wees.  Vind iemand.  Dit is die teken dat jy nie stilstaan by praatjies oor Jesus nie, maar dat die krag van die Heilige Gees ook in jou werk.  In jou mentorskap word die krag van die Heilige Gees sigbaar.

Amen.

 

 

Related Media
Related Sermons