Spreuke 10:9 | Leef eerbaar

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 19 views
Notes
Transcript
Proverbs 10:9 AFRIKAAN
9 Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind.
Die twee alternatiewe paaie is baie duidelik, maklik om te begryp, en het waarskynlik nie veel verduideliking nodig nie. Daar is ‘n reguit pad wat vrede gee en ‘n krom pad wat vrede wegneem.
Maar, ek vra myself af, wat presies word bedoel met “opreg”? As ons dit kan vasstel kan ons sinvol gesels oor presies hoe dit vrede in ons lewe kan aanvul. Dit is eintlik nie nodig om daaroor te gesels nie want die verse waarin dit gebruik word spreek vanself.
Daar is beslis ‘n rykdom van woorde en gedagtes om dit mee te beskryf. Dit is insiggewend om op die voetspore van die woord deur Spreuke te gaan en te kyk hoe dit aangewend word. Die manier waarop “opregtheid” aangewend word in Spreuke skets dit as ‘n skat van geestelike rykdom wat aardse rykdom in waarde oortref (28:6). Hierdie waarde sal vir ‘n wyse persoon sigbaar wees.
Wat hier volg is ‘n lysie van verse, dit is nie sommer net aanhalings uit Spreuke nie. Elke vers is spesifiek geselekteer omdat die Hebreeuse woord wat in Prov 10:9 met “opreg” vertaal word daarin voorkom. Ons kan dus leer uit al hierdie verse wat hierdie boek van Wysheid daarmee bedoel.
Eerlikheid en onberispelikheid (Prov 2:7),
‘n Hart gevul met vrede (Prov 10:9),
Om te lewe soos die Here dit wil (Prov 10:29),
Gehoorsaamheid aan die Here (Prov 13:6),
Wysheid en waarheid (Prov 19:1),
Korrekte optrede en eerlikheid (Prov 20:7),
Eerbaarheid óf integriteit (Prov 28:6).
As ek dit in een praktiese sin probeer saambind spreek dit soos volg in die hart: Om met integriteit en wysheid met ‘n eerlike, onberispelike hart in gehoorsaamheid binne die wil van God te leef omvou jou met vrede teenoor God en teenoor jou naaste.
As ons net vir ‘n oomblik nadink oor Jesus dan is ons bewus daarvan dat dit beslis deel is van hoe God Homself in Christus aan ons kom openbaar het.
Die gedagte agter “opreg” in Prov 10:9 is gevul met ‘n hele klomp praktiese waardes wat uitgeleef kan word. Net die blote uitleef hiervan kan jou waarskynlik vrede verskaf, maar, en dit moet nooit vergeet word nie, ware vrede met God is alleen deur Christus verkrygbaar, daar is geen ander weg nie. Die raad wat dus hier gegee word is alleen van ware waarde indien dit ons vorm om een te wees met en in Christus.
Kom ons onderneem vandag om nie net toe te neem nie, maar om te lééf in Christus met eerlikheid, onberispelikheid, vrede, gehoorsaam aan die wil van God, wysheid, waarheid, ‘n korrekte optrede en eerbaarheid. En wanneer ons dit uitleef, mag Christus daardeur verheerlik word.

GEBED

Here, laat my lewe u gewy wees meer en meer.

Bibliografie

Die Bybel: Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more