Spreuke 10:7 | Aangename geur

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 65 views
Notes
Transcript
Proverbs 10:7 AFRIKAAN
7 Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort; die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet.
‘n Jongman of meisie wat verlief is word gekenmerk aan ‘n aangename geur. Daar word doelbewus moeite gedoen om die ander persoon welgevallig te wees. Die welriekende geur sweef ‘n verliefde meters vooruit en sonder uitsondering ook agterna. Die karkas van ‘n dooie dier wat al dae in die bloedige hitte van die veld lê het ‘n walglike reuk wat jou maklik met onsigbare vors wegstamp uit die omgewing. Hierdie kontras wat nou in die hart opkom, die weersin in die aanskouing van twee onverwagse uiteenlopende gedagtes. Dit is wat die Hebreeuse uitdrukking in hierdie vers doen en in gedagte roep: “Die nagedagtenis van ‘n regverdige is ‘n seën, die naam van die goddelose sal vrot”
Ons moet onthou dat Spreuke se oproep tot wysheid juis lewe, ‘n aangename geur, impliseer en die weersin daarin ‘n onaangename geur nalaat deur die dood. In die lig hiervan hamer hierdie baie sintuiglike vers weersin in teenoor dwaasheid en ‘n hunkering na die aangename geur van wysheid.
Hoekom sou ‘n mens hom inspan om doelbewus te gaan staan en deur ‘n vrot reuk omhels te word? Die keuse om deur ‘n aangename reuk omvou te word is ‘n natuurlike sintuiglik beweging. Die Spreuke skrywer beeld uit dat die keuse tussen reg en verkeerd eintlik ‘n eenvoudige keuse moet wees bloot op grond van die “reuk” wat dit nalaat. Die groot onaangename, intense, harde vraag wat ek myself hier afvra is: “Wat doen die geur wat ek uitleef aan mense? Versprei dit ‘n aangename seëning of verrot dit die gees?” Ons keuse moet daagliks doelbewus wees om ‘n aangename geur voor God te wees. “Mense” kan nie die barometer daarvan wees nie omdat “mense” te wisselvallig is en uitgelewer is aan eie opinies. As my lewenswandel by die Here aanneemlik is kan geen menslike opinie die ware geur verander nie.
By die lees van hierdie teks kan ook ‘n baie ou primitiewe siening oor die ewige lewe posvat by die leser. Hierdie siening is dat wanneer mense jou onthou na jou dood jy daardeur voort leef. Hoe groter die impak is wat jy dus in die samelewing uitoefen hoe langer sal jy aanhou leef in die gedagtes van jou nageslag. Dit is noodsaaklik om hier dan uitdruklik te sê, onthou, Jesus het met ‘n verheerlikte liggaam uit die dood opgestaan. Sy graf was leeg, Hy het opgestaan, Hy lééf! Die ewige lewe waarna ons met verwagting in hoop uitsien is nie net ‘n gedagte nie, dit is ‘n werklikheid wat by die wederkoms van Christus ten volle gaan realiseer.

GEBED

Here, lei my om ‘n aangename geur van seën, deur die werking van U Heilige Gees, uit te leef en na te laat.

Bibliografie

Die Bybel: Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more