Spreuke 10:2 | Lewe volgens die wil van God

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 6 views
Notes
Transcript
Proverbs 10:2 AFRIKAAN
2 Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God, red ’n mens van die dood.
Prov 10:2 vergelyk uitkomste van “onreg” en “die wil van God” met mekaar. Let baie mooi op die inhoud en woorde. Graag bied ek ‘n meer direkte vertaling om die onderskeid duidelik uit te lig: “Skatte bekom deur boosheid is sonder profyt maar geregtigheid verlos van die dood”
Die eerste helfte verwys na materiële skatte van rykdom en die tweede helfte na die geestelike kwaliteit van geregtigheid.
Daar word nie direk gesê dat skatte bekom deur boosheid tot die dood lei nie maar dit word geïmpliseer deur die tweede helfte: “geregtigheid verlos van die dood”.
Die vers roep ook Prov 9:17-18 in gedagte wat ons voorberei om hierdie wysheid te begryp. Prov 9:17 ”Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”
Die plasing van woorde, woordgebruik en konteks het groot implikasies vir die verstaan van hierdie teks.
Die beloning van dwaasheid is slegs ‘n tydelike skyn van voordeel, “soet” en “lekker”. Die realiteit word ongelukkig eers na die tyd besef wanneer die “dood” sy opwagting maak (Prov 9:18). Die bymekaar maak van skatte deur ongeregtigheid is oënskynlik skadeloos omdat die ware effek nie direk of dadelik uitspeel nie. As iets sonder profyt is word die tydelike genot en voordeel wat dit bied ook as die hoogtepunt beskou aangesien daar geen verdere verwagting van voordeel is nie. Dit bleik te wees dat dwaasheid slegs op die tydelike gefokus is en nie oor die langdurige effek van optrede besorg is nie.
Wysheid aan die ander kant, getuig van geregtigheid. Om binne die wil van God te leef is voordelig deurdat dit jou van die dood red en lewe as uitkoms het (Prov 10:2b). Wysheid het die “lewe” in die oog en koester dit as waardevolle seëning.
Materiële wêreldse kortsigtigheid bied ‘n tydelike waas van “goed” en “lekker” maar geestelike kwaliteite onderworpe aan God se standaard gee lewe.
Die manier waarop Spreuke tot nou die koms van die dood as gevolg op dwaasheid geteken het dui op die fisiese einde van lewe. Ons is dikwels geneig om daaroor slegs op geestelike vlak te dink. Ons moet nie uit die oog verloor dat die wette van daardie tyd letterlik die dood as vonnis oor die sondaar uitspreek. Die intensiteit van die nadele en voordele tussen dwaasheid en wysheid het dus ‘n baie groter letterlike impak op die eerste luisteraars.
Dit is met dit in gedagte dat die impak van vergifnis in en deur Christus die wêreld verander. Daar is ruimte vir die dwaas om vergewe te word en sy lewenswandel reg te ruk. Dit is immers die oproep van Wysheid: ”My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”

GEBED

Here, U geregtigheid het ek lief, lei my in U voetspore.

Bibliografie

Die Bybel: Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more