Spreuke 9:1-18 | Wysheid begin met die dien van die Here

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 113 views
Notes
Transcript
Proverbs 9:1–18 AFRIKAAN
1 Wysheid het vir haar ’n huis gebou met sewe klippilare. 2 Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek 3 en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: 4 “Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê: 5 “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! 6 Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!” 7 Wie iemand so opvoed dat hy ’n ligsinnige mens word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy ’n goddelose word, doen dit tot sy eie skande. 8 Moenie ’n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ’n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. 9 Gee jou aandag aan ’n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ’n regverdige, en sy kennis vermeerder. 10 Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig. 11 As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word. 12 As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy ’n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las. 13 Dwaasheid is soos ’n vrou wat luidrugtig bly klets, stadig van begrip en sonder kennis van sake. 14 Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op die hoogste plek in die stad, 15 en sy roep na dié wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan: 16 “Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!” Sy sê vir dié wat kennis kortkom: 17 “Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!” 18 Dié wat na haar luister, besef nie dat die dood self daar wag nie, dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie

Sleutel Vers

Proverbs 9:1 AFRIKAAN
1 Wysheid het vir haar ’n huis gebou met sewe klippilare.
Daar is baie pogings aangewend deur die geskiedenis om te probeer vasstel wat met “sewe klippilare” bedoel word. As leser word ons maklik meegevoer met die pragtige insiggewende voorstelle wat probeer om sewe begrippe wat die grondslag van wysheid sou vorm byeen te bring. Verskeie pogings wys na Is 11:2 of die sewe beginsels in die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring (Rev 2-3). Die voorstel wat my persoonlik byval is Jam 3:17 ”Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.”
Alhoewel hierdie pogings nie uitgesluit moet word nie dink ek ons moet nie te oorhaastig antwoorde in die groter konteks van die Bybel soek nie. Dit is dalk beter om eers net vir die hoofstuk self te vra, hoe sit dinge aanmekaar?
Die konteks van Prov 9:9 vertel sy eie storie. Hierdie storie plaas wysheid (Prov 9:1-12) en dwaasheid (Prov 9:13-18) as twee vroue voor ons neer. Vergelyk ons die twee vertellings met mekaar kom ‘n paar dinge duidelik na vore.
Wysheid is stewig gegrondves (pilare), georden (telbaar) en fluks (huis gebou) (Prov 9:1) en sy berei self die maaltyd voor (Prov 9:2) en stuur haar bediendes uit om gaste te nooi (Prov 9:3). Daar is baie duidelike riglyne oor wie genooi, opgevoed en onderrig moet word (Prov 9:4-12).
In kontras is Dwaasheid luidrugtig, stadig van begrip en sonder kennis (Prov 9:13). Sy is beslis lui want sy sit self by die voordeur om gesien te word (Prov 9:14) en sy roep verbygangers sonder enige strategie (Prov 9:15). Sy nooi “onervare” mense (Prov 9:16) om hulle blindelings te vang met ‘n strik van dwaasheid tot hul ondergang (Prov 9:17-18).
Ek dink nie dit is toevallig dat ses basiese beginsels met mekaar vergelyk word nie. Dalk is daar meer of selfs minder afhangende hoe ons daarna kyk. Dit maak egter nie saak watter getal beginsels vergelyk word nie, want hier kom die “punchline”: Wysheid het een meer beginsel as dwaasheid. Hierdie ekstra punt is die brandpunt. Die skeppingsverhaal in Genesis 1 doen dieselfde, ses dae het God gewerk, maar die sewende dag rus Hy. Hierdeur word die rusdag uitgelig. Dit is baie duidelik dat net een waarheid nie in die kontras tussen die vroue opgeneem is nie en dit is die waarheid in Prov 9:10 ”Wysheid begin met die dien van die Here, wie die Heilige ken, het werklik insig.” Ek aanvaar dat die “sewe pilare” dan juis ons aandag hierop wil vestig, op die een ekstra vermelding onder wysheid wat die basis vir ‘n stewige lewens fondasie vorm.
Hierdie één beginsel, “Wysheid begin met die dien van die Here”, maak óf breek jou lewensjare (Prov 9:11) en jou lewens voordeel (Prov 9:12). Roep ons gister se gedagtes rondom Proverbs 8:27-28 in gedagte raak ons van die groter waarheid bewus. Deur Christus, in Wie die volheid van God se wysheid beliggaam is, het ons die ewige lewe! Dien die Here, dit is dié regte ding om te doen!
Proverbs 9:10 AFRIKAAN
10 Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

GEBED

Here, U die Heilige wil ek ken, wil ek dien.

Bibliografie

Die Bybel: Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more