Spreuke 8:27-29 | Deur die wysheid van God

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 26 views
Notes
Transcript
Proverbs 8:27–29 AFRIKAAN
27 Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het, 28 toe Hy die wolke daarbo gesit het, die fonteine onder die diep water laat uitborrel het. 29 Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, die waters aan sy wil onderwerp het, toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.
Wysheid gaan oor baie meer as net ‘n menslike denkpatroon van besondere kennis en insig. Spreuke vertel dat wysheid ons ganse bestaan omvou.
Daar word baie spesifiek verwys na teenwoordigheid by die skepping, “toe Hy die hemel opgerig het”, en die vasstel van grense, “toe Hy die horison oor die see afgemerk het”.
As wysheid betrokke was by die uitvoering en vasstelling van hierdie groot handelinge van God, hoeveel te meer het ons dit nie nodig in ons daaglikse lewenswandel nie? As die hele hemelruim, ons ingesluit, tot stand gebring is en binne perke gehou word deur God met wysheid, dan is dit fataal om te dink ons kan daarsonder funksioneer of daarteen rebelleer. Die argument ten gunste van gehoorsaamheid aan wysheid begin al swaarder gewig dra van enorme proporsies.
Kyk ons na die wysheid waarmee Jesus Christus godsdienstige en regskwessies hanteer het (vgl. Matt 5-7), selfs die natuur beveel het (Luk 8:25), dan raak ons ook al hoe meer deeglik bewus dat Hy die volheid van wysheid weerspieël. Johannes getuig dat alles deur Christus tot stand gebring is (Joh 1:3). Col 2:1-4 sê dat ons die geheimenis van God kan ken. Dit vertel dat in Christus “al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind is”.
Deur die wysheid van God is sy geheimenis en wysheid aan Paulus bekend gemaak. Paulus verwoord dit in Eph 3:2-6 en beklemtoon dit in vers 6: “En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”
Deur die wysheid van God is ek en jy geskep. Deur die wysheid van God word ons in stand gehou. Deur die wysheid van God word ek en jy gered. Deur die wysheid van God word ons aanmekaar geheg as eenheid. Deur die wysheid van God is ek en jy ingereken in sy binnekring. Hierdie wysheid, is Christus!

GEBED

Here, in U vind ek rus, vind ek vrede, vind ek wysheid. U is my Verlosser!

Bibliografie

Die Bybel: Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more