Spreuke 5:1-23 | Koester en Leef Wysheid

Spreuke  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 10 views
Notes
Transcript
Proverbs 5:1–23 AFRIKAAN
1 My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer, luister na my goeie raad. 2 Dan sal jy self ook met oorleg kan optree en met die nodige kennis praat. 3 Die slegte vrou se lippe drup van die heuning, haar tong is gladder as olie, 4 maar agterna is alles so bitter soos wildeals; sy is so gevaarlik soos die skerpste swaard. 5 Haar pad is dié van die dood, elke stap saam met haar bring die ondergang nader. 6 Sy hou jou weg van die pad van die lewe af, sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie. 7 Luister na my, my seun, bly by wat ek jou sê: 8 Bly weg van haar af, moenie naby haar huis se deur kom nie 9 dat jy nie jou mooiste jare verspil nie, jou beste jare aan ’n hartelose mens gee nie, 10 dat vreemdes hulle nie vol eet aan die vrug van jou arbeid nie, dat dit waarvoor jy gewerk het, nie in die huis van ’n ander beland nie. 11 Jy sal lê en kreun as jou einde nader, met die vleis aan jou liggaam weggevreet, 12 en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai, ek het my nie gesteur aan die onderrig nie. 13 As ek maar geluister het na my leermeesters en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het! 14 Hier sit ek nou in die grootste ellende voor die oë van almal.” 15 Jy het tog self ’n vrou, jy het tog self ’n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. 16 Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? 17 Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met ’n ander wil deel nie. 18 Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, 19 so vol liefde, so mooi soos ’n takbok, soos ’n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. 20 Waarom sou jy jou laat bedwelm deur ’n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms van ’n ander vrou gaan lê? 21 ’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy. 22 Die oortreding van die goddelose agterhaal hom, hy draai hom vas in sy sonde. 23 Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing, sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring

Sleutel Vers

Proverbs 5:15 AFRIKAAN
15 Jy het tog self ’n vrou, jy het tog self ’n put met water: drink die strome uit jou eie fontein.
Mense is soms soos beeste, nooit gelukkig met die kos aan hul kant van die draad nie. Min wetende dat hulle kant groener is as die ander kant.
Die intimiteit van die gelowige se verhouding met wysheid word verdiep deur dit te kontrasteer met ‘n slegte vrou. Die oproep is dat jy jou verhouding, jou huwelik met wysheid, moet koester. Maar, daarmee saam is hierdie wysheid ook baie prakties en op die man af aangaande ons huweliksverhouding in die vlees. Moenie die vrou of man aan wie jy trou beloof het se trou minag deur jou met die verleidelike smaakvolle heuning van die verleier te versadig nie, dit sal jou duur te staan kom. Die gevolge van hierdie dwaasheid wat vir jou reg kan lyk (Prov 5:6) kring uit na ander dele van die samelewing (Prov 5:7-20).
Die verlies in jou lewe word baie duidelik uitgespel in Proverbs 5. Daar is drie besondere sake wat uitgelig word om jou bewus te maak van wat gaan gebeur as jy op hierdie verkeerde pad loop. Jy sal verlies lei op Familiale (Prov 5:16), Ekonomiese (Prov 5:10) en Sosiale (Prov 5:14) vlak. Dit is nie die moeite werd om jou te verheug oor die fontein van ‘n ander nie, bepaal jou gees by jou eie fontein aan jou toevertrou (Prov 5:18).
Ek bid vir elkeen wat roekeloos wandel en die waarde van hierdie wysheid minag. Mag jy jou sondes bely en die knie voor ons Here buig. Ek bid vir elkeen wat die wonde en seer van hierdie dwaasheid beleef het. Mag die Here jou hart genees en jou innerlike las verlig.
Ek bid vandag vir ons kinders, die ongetroudes, dat ons Here julle in wysheid sal bewaar, dat julle harte in trou sal verdiep sodat julle met integriteit sal lewe. Vir die getroudes, elkeen, dra ek op aan die Here. Mag jy die skoonheid en vreugde van jou eie fontein geniet, dit hoog op prys stel en in wysheid koester.

GEBED

Here, mag die strome van U lewende water uit my binneste vloei.

Bibliografie

Nuwe Vertaling. (Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Related Media
See more
Related Sermons
See more