Faithlife Sermons

sutherlandPMAfrikaans24spet06

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 3 views
Notes & Transcripts

Broers en susters kom ons word stil en hoor die word van die Here:

Jesaja40: 3 Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God! 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ’n gelykte word en elke koppie ’n vlakte. 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.”

Kom ons bid saam:

Onse Vader wat in die hemel is, ons buig in stille aanbidding voor u Heer, in ons harte en in ons lewens wil ons he dat U sal regeer.

Dankie vader dat u ons U stem laat hoor, dat ons gehoor het toe U ons geroep het. Ons geloof is ‘genade alleen.

Sterk ons nou Heer om so te lewe dat dit U naam sal vereer: Gee ons liefde vir mekaar, en ondersteuning en begrip en vergifnis; en gee vir ons ‘n verlange na U, U wat ons so trou onderhou. In Jesus se naam vra ons dit – Amen.

 

 

Broers en susters in ons Here Jesus…

Wat was die mees wanhopige oomblik in jou lewe – ‘n oomblik van totale moedeloosheid?

‘n Oomblik wat jy dalk besluit het – hierdie is die einde van die pad vir my – ek kan nie meer nie!

 

Kan u so ‘n oomblik onthou?

 

Beleef u dalk so ‘n oomblik?

//////////////////////////////

Nie dat dit maklik is om aan sulke moedelose oomblike te dink terwyl ons hier bymekaar is nie

            – want hier weet ons, ons is tussen vriende, tussen medegelowiges – en ons voel            onself naby aan die Here.

 

Maar wat ek vra is dat julle daardie oomblik herroep waar julle gevoel  het:

            almal het my in die steek gelaat…myself ingesluit …of dalk veral ekself!

 

En as gevolg daarvan… het God my sekerlik ook nou vergeet!

 

//////////////////////////////////////////////////////

 

Broers en susters, dit is is eintlik ‘n kort samevating van die boodskap wat ek wil bring vannand, (En ek wil graag aan die begin se…dit mag nie altyd so klink nie…maar dit is ‘n boodskap van hoop!)

‘n boodskap van hoop; ‘n boodskap van hernude vertroue in God ons Vader.

 

En die boodskap is so aanmekaar gesit:

           

Punt een:

Ons onthou nie altyd dat ons nietige skepsels is nie,

wat nie eintlik so goed doen wanneer dit kom by ons eie heil uitwerk nie.

Dit is die eerste punt.

           

Wanneer ons dit besef, by wie sal ons aanklop vir hulp…

            Wanneer ons in nood verkeer … waar sal ons hulp vandaan kom? (Dit is die      tweede punt)

 

            Ons hulp kom van ons God af, die Here wat hemel en aarde - en ons- gemaak het –       dit weet ons - maar daar is ‘n voorwaarde aan vir ons om God se genade te ontvang.    Dit is die derde punt.

 En tenslotte: wat is die wonderlike resultaat van God se nabyheid en die krag wat Hy ons gee wanneer ons op Hom alleen bly vertrou!

Kom ons begin by die begin:

Broers en susters, as daar een ding is wat waarskynlik waar is vir meeste mense, dan is dit dit:

            ons word nou en dan gedwing om te erken ons is feilbaar en ons afhanklik van   ander …van ander mense… maar vir gelowiges… veral van God.

 

Ons wil dit natuurlik nie graag erken nie. In die eeu waarin ons leef is ons super mense – ons het meer geld as wat ons nodig het, oor die algemeen ons is gesonder as ooit en ons leef langer as ooit; ons doen ons eie ding…

           

En dit is ook waar van ons verhouding met God nie, nie waar nie?!

            Dit gaan met my voor die wind, my lewe is vol sukses en voorspoed en rykdom en gesondheid – so vol dat daar nie plek is vir God nie – ek is in beheer van my   lewe     – en dan oorval kanker my,   of ek verloor my werk….

           

En dit is wanneer die teespoed kom … dat ons baie keer weer onthou dat God ons redder is…en dit is ook dan wanneer ons bewus raak van ‘n verskil tussen mense

            – ‘n verskil in die hantering…of die verwerking… van die krisis 

           

party bly blymoedig, steeds vol hoop dat dit weer sal beter gaan..

                        en ander verval in moedeloosheid, selfs totale verlorenheid

 

Wat maak die verskil?

            Wat maak dat party met nuwe krag sal opstaan na ‘n terugslag

                        ( en wie is hulle wat dit kan doen)

 

En wat is dit wat maak dat party van ons voel ons kan nie een tree vorentoe gee nieen sal        uitroep – dit is die einde! Ek kan nie meer nie!

Wat maak die verskil?

 

Jesaja, wanner hy sy profetiese rede aan Israel bring, bied ‘n antwoord vir hierdie vraag                                                        Die verskil le daarin dat ons of op God bly vertrou…

                        Of vergeet dat ons God se kinders is…

 

Jesaja weet dat dit waar is…

///////////////////////////////////////////////////////////

Jesaja tree op in die die vooraand van wat toe bestempel sou word as die grootste katastrofe in Israel se geskiedenis.

 

Die geskiedeis in kort is dit…..

 

Israel het vir God vergeet, en nou, se Jesaja vir hulle, wag daar op hulle ‘n donker swaar tyd – hulle sal wegevoer word in ballingskap.

 

Israel was in die moeilikheid by God en binnekort sou hulle God se tergewysing beleef –

           

            En tog is Jesaja se profesie een van hoop!

                        Selfs sy naam loop oor van hoop – sy naam beteken: die Here bewerk heil!

 

Maar Israel verstaan dit natuurlik nie so nie. Al wat hulle hoor wanneer Jesaja praat, is dat hulle gaan swaarkry, eintlik swaarder kry, want hulle leef in hierdie tyd reeds onder die beheer van heiden nasies – die resultaat van die oorloe van die Babilonieers en Assiiers…maar voordat hulle verlos sal word, se die Here sal hulle nog swaarder kry.

Hoekom? Want Israel, juis onder die invloed van die magte aan wie hulle trou gesweer het …het al hoe meer van God vergeet …soveel so dat hulle nou selfs valse gode , afgode aanbid.

                       

En Jesaja bevestig dit: Jesaja se, kom ons draai nie doekies om nie – laat ek vir julle uitstip wat gaan met julle gebeur: julle gaan wegevoer word in ballingskap; baie van julle sal die beloofde land nooit sien nie; julle sal gevangenes geneem word, in kettings geslaan word, julle sal weggesleep word na ‘n vreemde land waar julle nie die tempel sal he nie …en julle sal voel of julle selfs deur My verlaat is … en party van julle sal doodgaan in hierdie haglike omstandighede.

 

 – Hoekom julle, veral julle, Israel, vra Jesaja namens hulle (Israel is immers die uitverkore volk) – en dan antwoord hy die vraag…want julle het opgehou om op die Here te vertrou!! Onthou julle? – Kyk hoe lewe julle…

En Jesaja het nog nie klaar gepraat nie of hulle begin onthou.

 

Hulle onthou natuurlik nog goed die bloeityd, die tyd van Dawid se koninkryk; maar nou, in die lig van Jesaja se profesie, onthou hulle waarskynlik ook dat hulle nie altyd hulle deel van die ooreenkoms met God gehou het nie –

 

Israel, wat God spesiaal uitgesoek het om sy volk te wees tussen al die nasies hier op aarde: hoe het hy nou weer vir hulle gese: “Julle sal my mense wees …en Ek sal julle God wees –       vertou op my, op my alleen – ek sal geen ander gode voor my aangesig duld nie”

 

En hier, selfs terwyl Jesaja praat, sien ek in my geestes oog hoe party van die jode hulle afgodsbeeldjies wegsteek… ja, hulle begin onthou, broers en susters.

 

Hulle dink aan hulle eie lewens – en hulle kry skaam.

Hulle lewe nie asof hulle God se mense is nie – hulle aanbid selfs die vreemde gode van die volke waarmee hulle hulle versoen het ter wille daarvan dat hierdie volke hulle nie sal verpletter nie – dis die geskiedenis van die tyd.

 

Hulle word ast ware herinner aan God se trou, en hulle geneigdheid tot ontrouheid

            …soos daardie keer toe God hulle uit Egipte gered het

                        ….en die keer nie lank daarna nie toe hulle die goue kalf giet om te aanbid (sefs terwyl Moses oppad terug is na hulle met God se wet vir hulle)

 

…hulle kon eenvoudig nie so lank op God bly vertrou nie.

            En wanneer hulle ongeduldig raak, maak hulle ‘n ander plan, stuur hulle hul       vertroue in ‘n ander rigting – iets wat hulle self kan beheer – ‘n goue kalf!

 

Laat ons nie al te smuk hier sit nie broers en susters: wat is ons goue kalf in die moderne wereld? Ons maak steeds goue kalwers! Ons moet dit weet – en ons moet ophou!

 

Hier in Jesaja se tyd, gebeur dit ook – met meeste van die swaar tye verby vir Israel in die tydperk net voor Jesaja geroep word om ‘n waarheid of twee met die Israelite te deel, het die Israelite al hoe meer begin deel word van die goddelose Asiriers en Babiloniers.

 

En hulle vergeet vir God

            en omhels heel gou al die heiden gebruike van die nasies waarin hulle so gewilliglik       assimileer…heel gou begin hulle ook, net soos die heidene, om vir hulleself afgode te        giet, of te maak uit hout uit, en hulle het begin om hierdie afgode te aanbid met ‘n     pasie wat mens nie aldag selfs in die tempel sou sien nie.

 

Hoor hoe sien Jesaja dit, heel sarkasties soos hy nogal kan wees…

            Hy se… julle wat julle rug draai op God…

Vers 18 “Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 19 ’n Beeld word deur ’n ambagsman gegiet en deur ’n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. 20 Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie!”

 

En nou wil God weet, en deur sy profeet Jesaja vra Hy vir Israel

                        hoe kan julle My vergeet?

 

En weereens… ons moet dit vir mekaar ook vra broers en susters.

            As mens na ons lewens kyk – het ons vir God vergeet?

Dan nie elke dag nie – Sondae onthou ons vir God – maar gedurende die week,

            wanneer ons opstaan Maandagoggend en werk toe gaan

            …wanneer ons partytjie hou Saterdag aand…onthou ons dan nog vir God?

En kan mens dit sien in hoe ons werk en ontspan – nie net in hoe ons kerk hou nie?

 

Het julle vergeet wat ek vir julle gedoen het, Israel?

Het julle vergeet hoe ek julle deur die woerstyn onderhou het nadat ek julle uit slawerny bevry het?

 

Het julle vergeet wie ek is??

Ek is God, die skepper van hemel en aarde – hoe kan julle dit vergeet?

 

“Kom terug na my toe,” vra hy, en om dit te bewerkstellig beskik hy selfs oor die geskiedenis, die opkoms en vernietiging van politieke heersers (soos Cirus (Kores) van Persie, in die geval) om die voortbestaan van God se volk te verseker.

 

Wat beteken dit vir ons, hier, vandag in die 21 eeu.

            Waarop hoop ons? Ons krag en gesondheid sodat ons kan aanhou werk?

                        Ons rykdom sodat ons onself kan beveilig?

As ons ryk genoeg is, wanneer dit te swaar gaan in Suid Afrika, dan trek ons Australie toe – en dan is ons veilig?

 

Ek weet dit is ‘n veralgemenig, maar ek wil die klem plaas op die laaste deel van wat ek nou net gese het

            – ons misgis onself as ons glo ons kan iets doen om een dag by ons lewens te voeg of    een el by ons lengte

– die mensdom wik…maar God alleen beskik!

 

Broers en susters, hoe vol bekommernis is ons lewens nie

            …dit is verkeerd.

Dit is soos om nie op God te vertrou nie, nie op Hom te hoop nie.

 

En hoe vol planne kan ons nie wees nie …

            wat goed kan wees…solank on sons planne aan God opdra, en Sy wil afvra

                        – en dan op Hom vertrou!

 

Dit is hoe ons moet lewe…

…..     

Waneer ons dit nie doen nie, dan maak ons God kwaad vir ons!

 

Vers 21-24…

21 Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie ’n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? 22 God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek, oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. 23 Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24 Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels.

 

God is kwaad vir Israel, maar God blaas nie sy Asem oor Israel nie – want hy is lief vir hulle, en Hy is getrou.

 

En Israel is deel van God se plan vir gans die mensdom – trouens, dit is juis as gevolg van die plan dat God selfs in die tyd van die Israelite vir Jesaja stuur om sy profesie aan hulle te bring.

 

U sien, broers en susters, en hierdie is ‘n hoogtepunt…Jesaja profeteer oor meer as Israel se noodlot in tye wat kom; hy profeteer inderdaad oor die ganse mensdom se noodlot – en redding – wat vir God se kinders bestem is deur alle eeue heen.

 

Kyk bietjie na

Vers 1: Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes.

3 Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God! 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ’n gelykte word en elke koppie ’n vlakte. 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.”

 

Reeds hier, selfs weer hier, is die heenwysing van die koms van ons Here Jesus – die taal maak dit duidelik!

 

En reeds in Jesaja se tyd begin hierdie blye boodskap in vervulling gaan: God blaas nie op Israel nie – want Hy is lief vir sy volk. God het ‘n plan vir sy skepping wat verby Israel strek…

 

en so is dit nou waar dat saam met die boodskap van verwoesting wat vir Israel kom,

            God ook vir Jesaja toerus om vir hulle ‘n boodskap van hoop te bring.

 

Israel kry dalk nog nie die hele boodskap nie – in baie gevalle vandag nog nie … maar waarskynlik onthou hulle minstens van God se getrouheid ..en hulle ontrouheid!

Net soos hulle nou begin onthou van God se belofte aan Abram en Isak en Jakob, dink ek  – en nou, dink ek kry hulle skaam, net soos Adam en Eva in die tuin toe hulle nie op God alleen vertrou het nie.

 

Israel kyk waarskynlik hulle afgodsbeeldjies so…

            en dan rig hulle hulle oe hemelwaarts…

en hulle besef hulle staan met lee hande voor God, hulle enigste redding!

 

As ons nie meer op God vertrou nie…op wie al ons vertrou!

 

///////////////////////////

 

 

Vriende, in die laat sewentigs, was ek in diens van die Suid Afrikaanse Korrektiewe dienste (die ou gevangenis diens).

 

Ek het in die tyd onder ‘n majoor Scott gewerk, ‘n kapelaan, ‘n lieflike sagmoedige man, in die afdeling Geestelike Versorging.

 

Baie van u sal onthou dat daar in die sewentigs en tagtigs en selfs ‘n gedeelte van die negentigs, nog teregstellings plaas gevind het in Suid Afrika.

 

En so was dit dan ook die verantwoordelikheid van die kapelane om nie net aan die gewone gevangenes geestelike versorging te bied nie, om an hulle die woord van die Here te verkondig nie,

            maar ook aan die ter dood veroordeeldes.

En as een so ‘n kapelaan se assistant, het ek in ‘n beperkte mate betrokke  geraak by die bediening onder hierdie gevangenis.

 

Wanneer ek terugdink aan daardie dae, dan is dit vir my moontlik om die werk wat ons met die ter dood veroordeeldes gedoen het in twee, kom ons se nou maar, fases…in te deel…twee fases van hoop!

 

Die eerste fase kan mens, by gebrek aan ‘n beter woord, die fase van mindere of menslike hoop noem:

 

dit was die soort hoop wat hierdie mense gehad het – en partykeer ons ook, moet ek bieg- voordat die gevangene aangese sou word wanneer hy of sy galg toe sou moes gaan!

 

Hoop in hierdie fase was op die self gerig en op ander mense…die gevangenis sou bly hoop, byvoorbeeld, dat die president van die land hulle vonnis sou versag na lewenslange gevangenis straf of dat ‘n slim advokaat dalk ‘n flater in die wet sou ontdek en dan sou die gevangene vrygespreek word.

 

Maar dit was hoop op die self, of hoop op die mens!

 

Maar daar was ook ‘n ander soort hoop wat ‘n mens duidelik kon onderskei…

            Die oomblik as ‘n gevangene aangese is – wanneer hy die boodskap kry day hy op n presiese datum opgehang sou word …

            dan, vir die wat God geken het of intussen leer ken het, het ‘n nuwe soort hoop baie keer posgevat

            – ‘n suiwere hoop, gebou op suiwere geloof, want daar was dan vir hierdie           gevangenis niks anders meer oor om op te hoop hier op aarde nie.

Hierdie laaste soort hoop, was die soort hoop wat vir baie van hierdie mense sou dra …

            selfs deur die poorte van die dood …

na dit wat sekerder was as die lewe waarin hulle sonde gestaan het …en sondig geval het!

 

En laat ons nie al te gou wees om te oordeel nie, broers en susters…God se genade alleen bepaal hoe ons by Hom sal uitkom!

 

Ons kan – en sal - almal sondig solank as wat ons deel is van die sondige wereld.

 

Party pleeg moord, party steel, party bedrieg of haat, party het ‘n drank probleem of onbeheerste worde uitbarstings…

            Maar vir die van ons wat glo, wat ons sonde bely, wanneer ons nie langer op eie krag vertrou nie maar op die krag en genade van God alleen, vir ons sal daar redding wees – trouens…ons redding het reeds gekom – net soos wat Jesaja voorspel het dit sal wees!

En ons moet dit nie vergeet nie.

 

Vers 27

27 Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? 28 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.

 

Het julle vergeet wie julle is, Israel. Dis wat Jesaja se. En het julle vergeet wie God is?

Julle is God se kosbare besitting.

En is God nie getrou nie, vanaf die vroegste tye nie. En het Hy nie belowe dat Hy julle as sy kinders aanneem nie. ?

 

Het julle vergeet wie Ek is, vra God nou?

Dit bring ons by die tweede punt…

Hoe genadig is ons God nie, broers en susters en hoe almagtig en wonderbaar en verskriklik, alles gelyk en nog meer…

 

Wie is ons God?

 

Jesaja 40, vanaf vers 28 en verder….

28 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29 Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

 

Eintlik raak Jesaja ‘n bietjie sarkasties hier…

Kyk bietjie wat se hy in vers 26:

26 “Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.”

Teen watter agtergrond se hy dit vir Israel?

            Die Jode sou onmiddelik weet.

 

Israel, wat al hoe meer onder die invloed van die heiden nasies begin kom het, het al hoe meer hulle rug gekeer op wat God. Onder andere begin hulle nou, net soos die heiden nasies, die sterre aanbid.

(so terloops, Dis interessant dat ons vandag nog oorblyfsels van hierdie afgode diens het in ons moderne hedendaagse samelewing:

Hoeveel van ons lees nog die sterre voorspel:

en is dit werkilk genoeg dat ons se…ag ons doen dit net as ‘n grap?

 

Vir diesulkes se Jesaja – het julle vergeet wie God is?

 

Julle aanbid die sterre – EK HET DIE STERRE GEMAAK -  MAAR JULLE DRAAI JULLE RUG OP MY!

  

Wanneer julle julle rug op my draai,

            moet julle nie vebaas wees as dit swaar gaan nie.

 

Trouens, selfs in julle swaarkry wil ek juis he julle moet julle self op my beroep, op my bly alleen vertrou…

 

Dit bring ons by die derde hoofpunt

 

 

Daar is ‘n voorwaarde aan verbonde vir julle om te deel in my genade.

En dit behoort nie vir Israel - of vir ons - ‘n verassing te wees nie.

 

Alle ooreenkomste het immers voorwaardes wat die partye bind en dit is nie anders vir ons, God se volksverbond nie (net soos Israel aanvanklik God se verbondsvolk was).

 

Die voorwaarde is juis dit wat ons voorheen ook genoem het – dat ons op God alleen moet bly vertrou.

 

Ons sien hierdie voorwaarde duidelik uitgespel word in Jesaja 40 vers 31:

31 “maar dié wat op die Here vertrou, (hulle) kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

 

Vir Israel wat nou kan uitsien na nog ‘n tyd van ballingskap moes hierdie ‘n besonder boodskap gewees het.

            Vir die wat hulle bekeer, wat hulle sondes bely dat hulle nie hulle hoop op God gevestig het nie maar op afgode, of eie krag, of prinse en konings,

            vir hulle se Jesaja…maar as julle julle terugkeer na God toe, weer julle hoop op hom vestig – dis al wat God vra – hoop op God alleen – vir julle wag daar steeds ‘n wonderlike toekoms.

 

En nou is ons bevooreg gemeente, om eersterangse kennis te he van hoe hierdie belofte in vervulling sou tree – die koms van Jesus en sy offer aan die kruis en sy opstanding uit die dood sodat ons eendag saam met Hom kan opstaan.

 

Maar kyk net hoe wonderbaarlik werk die Here se genade.

 

 Sien …. vir Jesus se koms, moes God se ewige raadsplan voortgaan…wanneer Israel teen God draai, dan wil God twee dinge verseker:

            die een is dat hulle hulself moet bekeer (want God het aan hulle trou belowe as Sy         volk – maar vir dit om te gebeur moet hulle ‘n heilge volk wees)

            – en daarom bied die ballingskap hulle ‘n geleentheid om hulle wandade te oordink        en hulle te bekeer; dit is die eerste ding

 

En die tweede is dit: dat Israel as volk, moet bly voortbestaan. Vandat God met Abraham die verbond gesluit het, trouens, vandat God die mens uitgekies het om sy verteenwoordiger te wees op aarde (Adam en eva in die tuin) deur die rigters tydperk, deur die Konigs tydperk (onthou u nog “uit die geslag van Dawid sal daar ‘n redder kom) tot in die nuwe testamentiese tyd met die leiding en versoeking van ons Liewe heer, verloop die geskiedenis volgens God se plan…

Wanneer God iets belowe, dan bly Hy getrou.

En wat is die grootste belofte wat God maak – dat hy vir ons ‘n redder sal stuur, ‘n ewige redder, wat ons sal inlyf in die nuwe hemel en die nuwe aarde – die ware konikryk van God

 

En het God al ooit nie sy belofte nagekom nie?

 

Hoekom verloor ons dan som hoop op God; hoekom word ons geloof soms klein.

 

Gemeente Bly Hoop op God, bly vetrou op die Here.

 

En moenie moedeloos raak as dit swaar gaan nie.

            As mense kan die lewe ons soms oorweldig – God verstaan dit!

                        Selfs Jesus het in een moment uitgeroep – My God My God waarom het u my               verlaat.

 

Maar terwyl ons dit uitroep in moedloosheid, hoor God ons nogtans en sterk Hy ons

            – want ons roep immers op Hom!

 

Wanneer ons vir ons redding op iets of iemand anders as God vertrou, dit is dan wanneer ons teleurgesteld word ..en dit is dan wanneer ons vir God teleurstel.

 

Maar vir die wat op Hom vertrou …stuur Hy Jesus!

///////////////////////////////////////

Net nog ‘n vinnige draai in die maksimum gevangenis in Pretoria waar die galg destyde gehuisves is:

 

Broers en susters as ‘n mens wil sien hoe lyk blinde vertroue op God,

            moet mens daar wees die dag as ‘n gevangene na die galg stap.

 

Baie van die gevangenis wat nie tot geloof gekom het nie,

            kan die laaste oggend van hulle lewns nie eers self uit die bed uit opstaan nie.

 

Dit is asof hulle eie bene hulle nie meer kan dra nie.

 

Wannee die bewaarders hulle kom haal uit hulle sel om die laaste paar tree te stap galg toe, dan kan hulle eenvoudig nie!

            Hulle moet behoorlik getrek word, selfs gedra word!

///////////////////

Vir die wat God leer ken het, was daar ‘n mate van krag vir die dag.

            Nie dat hulle nie bang was nie. Dit moet angswekkend wees vie enige een!

                        Maar hulle kon hoofsaaklik darem self loop, party keer al singende aan ‘n                     geloofslied, of biddend.

 

Ek dink baie keer, broers en susters, hoe goed het hierdie mense nie die hoop op God verstaan nie – hoe werklik moes dit nie wees in hulle lewens nie (die wat geglo het).

 

Hoe goed moes hulle nie die opoffering van Jesus verstaan het nie, Hy wat onskuldig was, vir hulle wat skuldig was aan die misdade waarvoor hulle nou tereggestel sou word.

 

Want sien u, hulle moes geweet het dat die dood nie die einde is nie.

            Hoekom anders sal ‘n mens met hoop na jou dood toe stap?

 

Nee, hulle het geweet dat God getrou is, dat ons ‘n plek het in die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Al wat Hy vra is dat ons op Hom moet bly vertrou – op God alleen bly hoop en dit alles glo!

 

Wat ons by ‘n baie skielike, maar wonderlik einde bring:

 

Wat wag daar vir die wat hoop op God, vir die wat vertrou op die Here?

 

Vers 31:

Hulle kry nuwe krag; Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

 

Is julle moeg gebekommer, afgemat deur die lewe?

 

Jesaja 40:1”Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes.

 

En vir die van ons wat ‘n teken soek…kyk op en sien die kruis van Jesus – daar le ons hoop en ons redding – en ons troos! Vetrou op God – God bly getrou tot in alle ewigheid

 

Amen

Broers en susters, voor ons nou biddend die Ons vader saamsing. Kom ons buig ons koppe voor ons almagtige God –

Here, ons dank U dat ons U mag ken in die geloof – die geloof wat u self in ons harte sit, sodat tons nie kan roem op eie krag nie, Heer.

Dankie Here dat U ons nooit vergeet nie

Gaan nou met ons Vader, en seen ons

Laat U anngesig oor ons skyn en vir ons vrede gee,

Laat u liefde oor ons heers en laat ons altyd deur krag ervaar,

Geloof, en krag en vrede – want u is ons ewige God

Dankie, here, In Jesus se naam weet ons dit is waar, en is ons veilig - Amen

Related Media
Related Sermons